ADVERTORIAL

HOLLARD

VERSEKERING

Is al die argumente teen veeboerdery geregverdig?- Suid Afrika

Oral in die wêreld word slegs die negatiewe beklemtoon in debatte oor die toekoms van veeboerdery. Die debatte konsentreer op kweekhuisgasse (KHG), die gebruik van hulpbronne en grond, industrialisasie van stelsels, ontbossing, ens. Ook is mense bekommerd oor dierewelsyn en etiek. In uiterste gevalle word sterk uitsprake gemaak teen die slag en uitbuiting van plaasdiere.

Sulke aktiviste beywer hulle selfs vir die wegdoen van veeboerdery vir ’n beter planeet en omgewingsvriendelike landbou. Die vraag is wat sal die aarde sonder veeboerdery wees? In die argumente hieronder word individuele dieetvoorkeure vir of teen diereprodukte geensins beoordeel nie, maar dit is belangrik dat die publiek ingelig word oor die gevolge van vereenvoudigde redenasies en dogmas wat nie deur feite ondersteun word nie.

Voedselsekerheid-perspektief

Meer as nege miljard mense moet teen 2050 gevoed word. Bykans 40% van die nie-gevriesde landarea word deur woude bedek en ’n verdere derde deur natuurlike weiding (veld – steppe van Mongolië, Toendra, Afrika-savanne, en grasvelde in berggebiede en halfwoestyne), wat uiteraard nie vir gewasverbouing gebruik kan word nie. Dit laat net omtrent een derde vir die verbouing van grane, vrugte en groente. Gevolglik sal in ’n wêreld sonder vee ook een derde area (veld) nie vir die produksie van vleis en melk benut word nie.

Volgens die FAO produseer laasgenoemde gebiede 25% van die wêreld se vleis. Dit laat die vraag, wat van die toekoms van die miljoene mense in hierdie gebiede? Natuurlike weivelde bedek enorme gebiede, in sekere gebiede tot 80% van die areas wat vir landbou geskik is. Hulle dra by tot die produksie van vleis en melk en in sekere gevalle ook tot die kulturele- en eetgewoontes van die inheemse bevolkings.

Menslikheidsperspektief

Volgens die FAO kan wêreldwyd 800 miljoen arm mense net oorleef as gevolg van veeboerdery. Wat sal van hulle word as daar nie veeboerdery is nie? Sal hulle na lande migreer waar hulle grane kan produseer, maar wat van die humanitêre krisis wat dit sal veroorsaak? In baie ontwikkelende lande dra veeboerdery grootliks by tot die bemagtiging van vroue (byvoorbeeld, volgens die FAO, bestuur vroue 25% van alle melkplase).

Verder verskaf die Europese veebedryf direk (in landbou) en indirek (in voedselverwerking) sowat vyf miljoen werkgeleenthede. Wat sal van hierdie werkgeleenthede word, en ander wat daarmee verband hou? In Suid-Afrika, soos in Europa en elders, is hierdie werkgeleenthede meesal in die platteland waar veeboerdery een van die hoofbydraers tot die lewenskragtigheid van dorpe en gemeenskappe is.

Ekologiese en omgewingsperspektief

Veeboerdery dra by tot die instandhouding van ekologiese stelsels en grondvrugbaarheid. Vir klein- en arm boere verskaf vee natuurlike bemesting (bemes 40% van verboubare grond wêreldwyd, FAO), want hulle kan nie kunsmis bekostig nie. Vir hierdie boere is mis en urine as ’n bron van N en P in volume omtrent net so belangrik as kunsmis.

Beeste word ook vir ploeg gebruik, want hulle kan nie trekkers bekostig nie. Met die opbou van organiese materiaal deur mis en grasreste, dra veeboerdery by tot die berging van koolstof in grond en daardeur tot KHG-vermindering. Die verplasing van diereprodukte deur plantprodukte in die dieet het nie altyd ’n positiewe invloed op die omgewing nie. As veeboerdery beeïndig moet word, sal dit onvermydelik lei tot die verdwyning van alle weivelde, want weivelde sal dan geen doel dien nie.

Verder, deur veld om te ploeg om jaarliks oesgewasse te kweek sal onvermydelik tot KHG lei. In berggebiede sal lande wat natuurlike veld verplaas tot ’n groot verlies aan biodiversiteit lei. Gronderosie en woestynvorming is ’n groot bedreiging vir die produktiewe kapasiteit van landbou. Die beeïndiging van veeboerdery sal ook tot erosie en woestynvorming lei, veral in droë gebiede. Deur hul tekstuur en plantbedekking, dra gronde van weivelde by om erosie, waterfiltrering en waterafvloei te beperk, terwyl dit wateraanvulling bevorder.

Landboupraktyk-perspektief

Veeboerdery dra by tot meer doeltreffende landboupraktyke. Vee hersirkuleer produkte soos neweprodukte van die plantvoedselketting (byvoorbeeld koringsemels, pulp, gluten, oliekoekreste) en oesreste wat nie deur die mens as voedsel gebruik kan word nie. Vee benut ook marginale grond wat nie vir vrugte- en groenteverbouing geskik is nie. Hulle verander hierdie produkte in hoër waarde proteïene wat tot die optimalisering van voedselproduksie vir die mens per eenheidsoppervlakte bydra.

Dit impliseer dat baie groter grondoppervlaktes benodig sal word om ’n bevolking met ’n gebalanseerde dieet te voed in die afwesigheid van diere-voedselprodukte. Dit is onlangs bevestig in ’n studie in die VSA waar aangetoon is dat die totale VSA-landbougebiede onvoldoende sal wees as die VSA bevolking sonder veeproduksie gevoed moet word.

Landbou sonder veeboerdery sal voorts baie meer chemikalië gebruik: ’n toename in sintetiese chemikalië as kunsmis waarvan die produksie baie fossielenergie verg en ’n toename in plaagdoders, as die jaarlikse oeste moet toeneem ten koste van die natuurlike weiveld wat nie plaagdoders benodig nie.

Voedingsperspektief

Die mens is ’n omnivoor. Daarom behoort daar nie vir hom ’n beperking te wees ten opsigte van enige voedseltipe nie. Dit is ook ’n voorsorgbeginsel, want dit is nog onbekend watter molekules veroudering beheer. Verskeie studies het die risiko van mikrovoedingstof- en vitamientekorte aangetoon as min of geen vleis geëet word. Hierbenewens is dit bekend dat diereprodukte nodig is in die eerste 1 000 dae van lewe en vir skelet- en breinontwikkeling van die kind.

’n Wêreld sonder veeboerdery is nie geregverdig nie en ook onmoontlik. Dit is ’n wetenskaplike feit wat aanvaar moet word. Dit beteken egter nie dat alle maatstawwe nie ingestel moet word om dierewelsyn te verbeter nie. Navorsing, innovering en beter bestuursmaatreëls moet nagestreef word om die negatiewe omgewingsinvloed van veeboerdery teen te werk en om die dienste wat veeboerdery aan die gemeenskap lewer, uit te bou. Ten opsigte van die debat met aktiviste en die oningeligte, behoort bogenoemde die basis van die argumente te wees. – RPO Nuusbrief


ADVERTORIAL

SASOL

FERTILIZER 

Farming Diary

Oct
29

10.29.2019

Mar
3

03.03.2020 - 03.05.2020

Jun
17

06.17.2020 - 06.19.2020

ENCA - Latest

Feed not found.