URSUS- Main 2

ADVERTORIAL

Agriculture Investment

"Droogte"

Snags loop my pa van venster na venster. Ek lê oopoog en luister hoe die ou vloerplanke kla onder sy pantoffelvoete se bekende sleepstap. Vandat ek kan onthou, slaap ek sleg – het glo as baba my ma tot agtien keer in een nag laat opstaan.

Soms hoor ek die agterdeur oopkraak wanneer hy uitgaan om die windpomp se briek vas te draai as daar ‘n wind opkom. Daarna klap-klap die wiel nie meer nie. Ek hoor dan ook nie meer die drupspat van die water uit die pyp wanneer dit in die sementdammetjie agter die huis plons nie. Eers wanneer die wind weer sy lê gekry het, sal ek insluimer.

Wanneer ons die volgende dag ons oggendkoffie by die tafel in die kombuis drink, is sy ooglede rooi. Myne lyk so as ek te lank gewag het om te begin leer en dan drie-uur moet opstaan. Elke oggend lyk die lyn van sy lippe vir my dunner en die kepe om sy mond dieper.

Dan praat ons nie veel nie; meestal sal my pa net sê dat die weer laasnag mooi opgesteek het in die weste, maar dat die wind weer als weggewaai het. “Dan stap ek maar eers kraal toe,” sal hy sê en sy plaashoed met die sweetvlekke wat altyd langs hom lê, optel en dit so half skeef opsit as hy uitgaan.

“Goed so. Tot die nege-uur dan,” sal my ma so half vir haarself sê en haar verder by die koolstoof doenig hou met haar rug na my gekeer. Ek sien haar geboë skouers en ek wonder wie die meeste bekommerd is oor die reën wat nie wil kom nie.

My pa is erg oor sy beeste; omtrent almal het name. Ek weet nie hoekom bodder hy nog met die saaiboerdery nie. Want vandat ek kan onthou, reën dit óf te vroeg óf te laat vir die mielies. Of daar is ruspes of roes, of een of ander pes wat die lande invaar. Vir beeste kan mens tog voer koop, dink ek. Nie dat my pa dit sommer sal doen nie – jy voorsien self.

Teen middagete was hy gewoonlik al met die Datsunbakkie by die lande anderkant die teerpad en vertel hy vir ons dat daar darem hier en daar nog lappe mielies is wat uithou. Terwyl sy stem tussen happe voortdreun, sal my ma haar hand liggies op sy arm lê. Eers sê sy dat sy glo die uitkoms is naby, sy voel dit aan, maar later sê sy dit nie meer nie; druk net sy arm en staan vinnig op om die ketel na ’n warmer deel van die stoof te verskuif. Of sommer net iets te doen.

My pa kyk ook snags by die vensters uit om te sien of daar nie ’n rooi gloed “teen die rant” uitslaan nie. Omdat die gras so dor is, neem dit net één vuurhoutjie om ’n inferno te ontketen. Daar is net ’n pad en ’n smal grasstrook tussen die lokasie en die lande. En alhoewel hulle weet dat daar nie meer groenmielies is om te gaps nie, steek die seuntjies soms die veld net uit moedswilligheid aan die brand. Dalk is daar ’n ander rede, ek weet nie.

Dan gryp my pa sy wolbaadjie, sy hoed en die sleutels van die bakkie wat naby die agterdeur geparkeer staan. Die ou streepsakke agterop word elke middag voor uitvaltyd opnuut in die trog langs die waenhuis gedompel en die water in die dromme op die bakkie nagegaan – ingeval daar dié nag vuur geslaan moet word. Die toeter word dan aanhoudend geblaas sodat Jan, wat langs die bloekombos aan die anderkant van die hoenderhokke bly, kan wakker word. Piet word op pad vuur toe by sy stroois duskant die spruit opgelaai. Hy sal regstaan, want teen dié tyd sou hy al die toeter gehoor het.

Vuurslaan is nie net harde werk nie, dis ook gevaarlik. Dis veg teen ’n monster sonder gesig wat soos kwik vloei en jou in ’n oogwink kan omsingel. Die windrigting bepaal jou posisie, maar as hy draai, is jy kaiing. As jy gou genoeg begin veg, kan jy na ’n uur of twee weer terugklim in die bed. Maar as die wind kwaad is en nie wil saamspeel nie, word die bure gebel.

Wanneer my pa die volgende oggend met sy elmboë op die tafel sit met albei sy hande om die koffiebeker, sien ek die geskroeide haartjies op die rugkant van sy hande. Die reuk van gebrande gras en rook talm dan nog om hom. Die vuuroorlog se tekens is soms ook in sy hare en ruie wenkbroue te sien. Hy kom bad eers later wanneer die oggendwerk klaar is en die vuur in die koolstoof goed genoeg gestook is om die water warm te maak.

Ek kyk nie meer oor die veld uit wanneer ek in die breë vensterbank in my kamer sit en lees-droom nie, maar sit nou liewer soggens baie vroeg of na sononder daar. Ek wil ook nie meer in die populierbos agter die huis met Jakkals gaan stap nie. Dit voel nie meer soos ’n bos nie – dis net die kaal, gevlekte stamme wat stil treur oor die verlies van hul blare. Dit voel of hulle mý beskuldig. Die dooie blaremat kraak, amper onheilspellend, as ons daarop trap en my neus kriewel van die poeierstof wat daaruit opstuif. As ’n duif skielik opskrik en met ‘n vlerkgeklapper wegvlieg, begin my hart hamer. Dan roep ek na Jakkals om naby my te bly.

Ek gaan sit ook nie meer soggens op die graswal van die eens stilblink leidam anderkant die rooiland om die watervoëls dop te hou nie. Die dobbertjies is weg. Ook die geelbekeende. Wat sou van hulle geword het? Net ’n klompie bleshoenders, hul neste nou hoër bo die water sigbaar, hou dapper uit. Dis net hul gedempte gekloek wat oorgebly het. Die gesnater en geklets van die bont klomp watervoëls wat vroeër hier tuis was, is weg.

Die moddersoom rondom die dam is aanvanklik smal, maar dit word by die dag breër. Op ’n dag dwaal ’n dragtige koei af en val in die swart klei vas. Sy’s te swak om self uit te kom en my pa gaan haal die trekker en sleep haar met toue uit. Net daarna is dit tyd vir die kalf om te kom. My pa help weer met toue. Maar die kalf is dood.

Ek is bekommerd oor die vis. Sal hulle almal vrek as die dam opdroog? Ek vra nie. Ek weet dat babers nie sommer vrek nie. My pa sê altyd hulle kruip in die modder weg tot dit weer reën. Maar dis nie oor hulle dat ek my kwel nie ...

Wanneer oom Paul-hulle van Poortjie oorkom vir koffie, sit hy en my pa soms lang rukke sonder om te praat. Die vrouens gesels ook minder; praat in bietjies eenkant oor resepte en patrone. Of oor die kinders in die koshuis.

Later ry my pa nie meer lande toe nie. Hy gaan nie van die plaas af nie – ook nie toe daar ’n biddag vir reën op die dorp gehou word nie.

Ek dink hy bid alleen. Snags.


ADVERTORIAL

Open

Market

Farming Diary

Apr
25

04.25.2019 8:00 am - 9:00 am

May
22

10:00 am 05.22.2019 - 11:00 am 05.23.2019

Jun
3

1:00 pm 06.03.2019 - 2:00 pm 06.05.2019

All Africa News: Latest

Feed not found.