Graan SA se nuutste produksieverslag- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Graan SA sê in sy nuutste produksieverslag mielies wat buite die optimale planttye geplant is, kan later in die seisoen skade opdoen as dit vroeg ryp. Boere in die westelike dele se mielie-aanplantings behoort teen die middel van die maand afgehandel te wees. 

In die noordwestelike en sentrale dele van die Vrystaat is na raming sowat 70% tot 75% van die geskatte mielie-aanplantings en sowat 50% van die sonneblomaanplantings afgehandel. Boere in dié gebied is nog besig met die aanplanting van albei gewasse. Volgens Graan SA is ’n groot deel van die mielies in dié streek aangeplant buite die optimale planttyd, wat in Desember verstryk. Sonneblomme kan nog suksesvol
aangeplant word. Volgens die opname het goeie neerslae oor die algemeen in die gebied voorgekom, behalwe in dele soos onder meer die distrik Summerville by Bultfontein wat steeds baie droog is.  In die bedieningsgebiede van VKB en OVK in die Oos-Vrystaat het planttyd baie laat aangebreek, met goeie, algemene reën wat later as normaal voorgekom het.
Volgens Graan SA se raming het dié boere grotendeels die hektare volgens hul voorneme aangeplant, hoewel sowat 70 % van die mielie-aanplantings ná die optimale planttyd, wat daar in November verstryk, afgehandel is. Boere het, ten spyte van goeie, algemene reën, gebiede aangemeld waar reën dringend benodig word. In die OVK-bedieningsgebied is voorkeur aan geelmielies gegee, hoewel normaalweg witmielies aangeplant word. Die afgelope week het boere in dié gebied vir oulaas sonneblom aangeplant. Die Oos-Vrystaat se aanplantings lyk oor die algemeen goed.

Die Noord-Kaap se somergraangewasse vertoon oor die algemeen baie mooi en dié boere het grotendeels hul voorgenome aanplantings afgehandel. Die neerslae wat wel aangeteken is, het kol-kol voorgekom, met inbegrip van dele in die Karoo. Die gebied se veeboere ly steeds onder die heersende droogtetoestande met ’n algemene tekort aan weiding.

In Noordwes is na raming sowat 90% van die mielie-aanplantings afgehandel, terwyl sowat die helfte van die voorgenome sonneblomaanplantings gedoen is.
Somerneerslae het in dié provinsie later as gewoonlik uitgesak, met die gevolg dat die grootste persentasie van die mielies buite die optimale planttyd aangeplant is. Die gebied se aanplantings is egter ietwat vroeër as verlede jaar gedoen, toe produsente teen Nuwejaarsdag nog bykans niks geplant het nie.

In Limpopo het die reënneerslae in die droëlandgebiede kol-kol voorgekom. Na raming is  30%-40% van die sorghum- en minimale sonneblomaanplantings afgehandel. Sorghum word sedert 20 Desember volstoom aangeplant, met aanplantings wat tot einde Januarie
gedoen kan word. Opvolgreën is noodsaaklik om aanplantings af te handel, terwyl van die jonger gewasse vog benodig. Sonneblomme kan nog tot einde Februarie in die gebied aangeplant word.

In Mpumalanga is somergraangewasse oor die algemeen later as normaal aangeplant. Algemene nat toestande heers in die provinsie en ten spyte van hael- en versuipskade vertoon die gewasse baie goed. Baie nat toestande en versuipskade is by onder meer Bethal, Hendrina en Carolina aangemeld. Die nat toestande bevorder ook onkruiddruk op die landerye. 

Die somerseisoen het ook in KwaZulu-Natal later as gewoonlik begin, maar boere kon nietemin hul voorgenome aanplantings afhandel.
Die jong gewasse vertoon goed, maar skade weens herfskommando- en snywurms is aangemeld.

Die Oos-Kaapse produksietyd het ook later as gewoonlik aangebreek. Gemengde toestande heers met verskeie dele wat ongunstige toestande ervaar, terwyl ander gebiede goeie neerslae ontvang het.