‘n Politieke meganisme wat Suid-Afrika se koers kan verander -

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (WO2) was die Verenigde State van Amerika ‘n buitestaander, maar is met die aanval op Pearl Harbour tot optrede en deelname gedwing.

Daarna het ‘n grootskaalse  veldtog van mobilisering gevolg, wat ook denkverskuiwende nuwe tegnologie meegebring het. Die uiteinde van WO2 is welbekend.

Met die voordeel van terugskouiing na die oorlog, was dit duidelik dat die een faktor wat uitgesonder kan word as die rede vir die einde van die oorlog, is die feit dat die VSA met sy militêre oormag, veral in die vorm van kernwapens, die sterkste moondheid geword het wat al die ander kon oorheers en tot vrede kon dwing.

Hierdie konsep word genoem die Hegemoniese Stabiliteits meganisme. Een moondheid wat ekonomies en militêr groot en sterk genoeg is om al die ander te beheer, bring stabiliteit en ekonomiese vooruitgang, en kan diktators en boefstate (rogue states) regsien wanneer nodig. 

Hierdie militêre vermoë is moontlik gemaak deur die VSA se enorme ekonomiese vermoë wat hy kon ontwikkel, wat natuurlik verband hou met sy fisiese grootte.

Verskeie ander groot en sterk lande soos Brittanje en Frankryk het besef dat dit ekonomies en militêr veiliger is om saam met die VSA te werk, ten einde hulle man te kan staan teen lande soos Rusland en China. Mettertyd het klomp lande hulle in hierdie milieu tuisgemaak, al is hulle ook fisies ver van die VSA. Die hele Wes-Europa, Verenigde Koninkryk, Australië, Nieu-Seeland en selfs Japan.

Hierdie lande geniet die afgelope 70 jaar relatiewe vrede en voorspoed, want daar is veiligheid in hierdie samewerking. En wanneer die wêreld dit vereis, werk hulle saam om alles weer tot orde te bring. Dit het ontwikkel tot wat nou bekend staan as die Westerse Hegemoniese meganisme. Mense waag hulle lewens om in hierdie lande in te kom.

Dit is hierdie meganisme wat Saddam Hoessein onder beheer kon bring, en die bloed in die strate van Joegoe Slawië laat ophou vloei het. Dit weerhou Noord Korea van militêre vergrype, en is op die oomblik skouspelagtig aan die opstaan om China se plundering van die wêreld stop te sit. Sonder hierdie meganisme was daar nie vanoggend ‘n Israel nie, en sou Israel in der waarheid nooit tot stand gekom het nie. 

Die enigste ander noemenswaardige alliansie is BRICS, waarvan Suid-Afrika deel is. Dit verarm ons en is ons in die algemeen vyandig gesind. AK47’s waarmee Landbouers, inwoners van Suid Afrika en renosters uitgewis word, kom uit BRICS. Elke keer wat Rusland in hierdie omgewing was, was dit ‘n konfliksituasie. Daarteenoor het Amerika nog nooit ‘n vinger teenoor ons gelig nie.

Of ons nou van Pres. Trump hou of nie, dit is hoe die internasionale politieke balans vanoggend daaruitsien, en dit gaan nog lank so wees. Ek weet van die kritiek dat die Weste ons in die steek gelaat het. Maar wat moes hulle doen, moes hulle apartheid ondersteun?

Die deur na die veiligheid en voorspoed van die Westere Hegemoniese omgewing is oop. U dryf in elke geval al lankal goeie handel met hulle. Kyk gerus in u woning en motorhuis, meeste van die produkte kon van daar af (Nokia is nie ‘n Chinese handelsmerk nie). 

Hierdie pad kan die Suid Afrikaner in Suid-Afrika op ‘n pad van veiligheid en voorspoed plaas, wat ‘n beter alternatief is as die huidige ekonomies en sekuriteits doodloopstraat waarin ons ons tans bevind. Dit is in ons eie hande om daaroor te besin en op te hou om ons vyande in mekaar se arms in te jaag. Suid-Afrikaners word met ope arms hier verwelkom en dit is waar duisende mense tans ‘n heenkome vind. Ons kan dit netsowel polities erken en ontgin.

  Johan de Klerk, Prokureur, Pretoria

Die inhoud van die Artikel is nie noodwendig die indruk van CRA Media en sy mediavennote nie. Dit is uitsluitlik die siening van die skrywer in sy persoonlike hoedanigheid