ADVERTORIAL

PHILARGO

AGRI

SWAAR NEERSLAE VERWAG VIR SENTRAAL SUID-AFRIKA-

Luidens ʼn verklaring word swaar reën wat ontwrigting kan veroorsaak, van vanmiddag af oor die westelike dele van Noordwes en die noord-oostelike dele van die Noord-Kaap verwag. Daaropvolgende oorstromings kan lei tot die beskadiging van infrastruktuur terwyl dit ook ʼn bedreiging vir gewasse en vee inhou. Dié toestande sal op Donderdag uitbrei na die westelike en sentrale dele van die Vrystaat.

Verswakte ekstratropiese laagdrukstelsel

Volgens die weerkantoor is die verwagte weerstoestande ʼn direkte gevolg van ʼn verswakte ekstratropiese laagdrukstelsel wat ontstaan het na aanleiding van die tropiese storm Eloise. Dié storm beweeg tans suid oor die land en is verantwoordelik vir ʼn spoor van verwoesting in Mosambiek en die noord-oostelike dele van Suid-Afrika.

ʼn Koue front sal Donderdag verby die land beweeg en gevolglik weerstelsels tussen die trope en die buitetropiese gebiede met mekaar verbind. ʼn Woordvoerder van die weerkantoor sê dat dié verbinding sal bydra tot swaar neerslae oor die sentrale binneland, aangesien die weerstelsel van wes na oos beweeg.

Nog voorspellings

Die bekende onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, meen dat weermodelle daarop dui dat baie swaar en aanhoudende reën van 100mm of meer vanaf 28 Januarie tot 5 Februarie oor veral die sentrale tot noord-westelike dele van die binneland sal voorkom.

Hierdie dele sluit in Noordwes, die Vrystaat, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die noordelike dele van die Oos-Kaap, die westelike dele van Mpumalanga en die hele Gauteng en KwaZulu-Natal in. Johan voorspel dat neerslae van meer as 50 mm per dag gedurende hierdie tydperk kan voorkom, wat hewige stormwater kan veroorsaak.

Verdere sterk tropiese laagdrukstelsels sal in die tweede week van Februarie rondom Madagaskar ontwikkel wat, soos in die geval van die tropiese storm Eloise, swaar neerslae oor die noord-oostelike dele van die land, asook Mosambiek en die aangrensende dele van Zimbabwe kan veroorsaak. In dieselfde tydperk kan baie warm en droë toestande oor die westelike binneland en die grootste deel van die Wes-Kaap voortduur. Slegs enkele ligte buie kan oor die Suid-Kaap, aangrensende dele van die Oos-Kaap en die suidelike dele van die Noord-Kaap voorkom.


ADVERTORIAL

JONG

 LANDBOUSKRYWERS