ADVERTORIAL

PHILARGO

AGRI

Die 2021- nasionale begrotingsrede: ’n geleentheid om terug te keer na beste praktyk

Agri SA sien uit na die minister van finansies, Tito Mboweni, se nasionale begrotingsrede op 24 Februarie.

Die balans tussen staatsinkomste (belastinginkomste) en -uitgawes is sentraal tot die regering se begroting, sê Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA. “Graderingsagentskappe en rolspelers in die finansiële mark sal ’n verbintenis tot fiskale konsolidasie wil sien. Die fiskus is onder druk en ’n verdere afgradering deur kredietagentskappe moet ten alle koste vermy word.” Hierdie is ’n geleentheid om terug te keer na beste praktyk deur gebruik te maak van die regte instrumente om onnodige uitgawes sonder aansien des persoons te besnoei. “Terwyl fiskale konsolidasie noodsaaklik is, moet enige belastingverhogings geskied met inagneming van die huidige ekonomiese omgewing en die potensieel nadelige uitwerking daarvan op ekonomiese groei,” beklemtoon Siweya.

Die landboubedryf het homself bewys as ’n veerkragtige sektor wat, met behulp van die regering, die ekonomie kan herbou en fiskale stabiliteit kan verbeter. Van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) tot die meer onlangse Ekonomiese Herkonstruksie- en Herstelplan, is daar oorweldigende erkenning dat die landbousektor groeimoontlikhede bied en die potensiaal het om verdere werkgeleenthede vir landelike gemeenskappe te skep. Die sektor het ondanks talle uitdagings winsgewend gebly, dit moet beskerm word deur 'n gesonde beleidsraamwerk en implementering daarvan, maar ook deur gebruik te maak van die kundigheid van kommersiële boere in die waardeketting. “Minister Mboweni is onder ernstige druk om seker te maak dat Suid-Afrika se boeke klop,” sê Siweya. “Indien hy die ekonomie wil laat groei, is die landbousektor die sleutel.” Agri SA hoop dat Mboweni aandag sal gee aan die volgende elemente in sy begrotingsrede:

• Ondersteuning vir die Land Bank: Effektiewe en spoedige regstreekse hulp aan die bank is noodsaaklik.

Om verdere agteruitgang van hierdie strategiese en sleutelinstelling te vermy, sal ’n kontantinspuiting deur die Nasionale Tesourie die likiditeitsdruk tot ’n mate verlig. Kontant alleen is egter nie die oplossing nie. Prestasievermoë van die bank is noodsaaklik om ’n volhoubare trajek daar te stel. Dit bied ’n geleentheid vir ’n publiek-private vennootskap (PPP) om hierdie doelwit te bereik.

• Hervorming van die elektrisiteitsektor: Elektrisiteit is ’n sleutelproduksie-inset vir die landbou. Boere is prysnemers, dus het stygende elektrisiteitskoste ’n direkte uitwerking op hul internasionale mededingendheid, aangesien hulle die toename in insetkoste moet absorbeer. Hervorming van die elektrisiteitsektor is noodsaaklik om die huidige situasie van stygende tariefkoste te midde van voorsieningsdruk en beurtkrag aan te spreek. Hervormings moet geskied met inagneming van die volgende: o Voorsiening vir groter privaatsektordeelname in die elektrisiteitsbedryf, spesifiek om elektrisiteit vir landelike gebiede te genereer via laespanningverspreidingsnetwerke. Dit sal Eskom in staat stel om voort te gaan met sy opwekkings- en transmissiefunksie, terwyl die privaatsektor kan bydra tot gelokaliseerde kragopwekking om Eskom se elektrisiteitsvoorraad aan te vul en sodoende te help om te voldoen aan die vraag na elektrisiteit en ook beurtkrag te vermy.

• Grondhervorming en ondersteuning aan opkomende boere: Meer befondsing word benodig vir grondhervorming en ondersteuning aan opkomende boere. ’n Uitkoms-gegronde befondsingsbenadering, gekoppel aan tegniese ondersteuning en mentorskap, behoort deel te vorm van sodanige benadering.

• Agri-ontwikkelingsfonds: Befondsing en ondersteuning vir die daarstelling van ’n Agri-ontwikkelingsfonds wat gemengde finansiering en hulp vir die ontwikkeling van opkomende boere kan bied. • Dieselkortingstelsel: Terugvoering oor die voorgestelde dieselkortingstelsel (skeiding van die dieselkorting- en BTW-stelsels) om aandag te gee aan die vertraging van prosessering en betaling wat met die huidige stelsel ervaar word.

• Ondersteuning tydens rampe: Toepaslike toewysing van fondse wat die impak wat onvoorsiene rampe op die sektor het, sal demp.

• Padinfrastruktuur: Befondsing vir die doeltreffende instandhouding van pad- en logistieke infrastruktuur. • Planne om korrupsie en swak dienslewering aan te spreek: Swak-presterende munisipaliteite moet onder administrasie geplaas word om te verseker dat die beskikbare fondse doeltreffend bestuur word.

• Beperking van oormatige verhogings in aksynsbelasting: Uitermatige verhoging van aksynsbelasting kan ’n nadelige invloed op die wyn- en tabakbedrywe hê. Laastens hoop Agri SA dat die begrotingsrede ’n positiewe verbintenis insluit wat doeltreffend geïmplementeer sal word met die oog op ondersteuning van ekonomiese groei en beperking van die begrotingstekort.


ADVERTORIAL

JONG

 LANDBOUSKRYWERS