Presisieboerdery is 'n sisteem wat geskoei is op die beginsel van voortdurende verbetering

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Presisieboerdery is 'n sisteem wat geskoei is op die beginsel van voortdurende verbetering in elke aspek van 'n boerdery.

Die doelwit van presisieboerdery is om die waarde van die hele sisteem te verhoog. Sodra 'n boer presisieboerdery toepas, kan hy beter keuses uitoefen in elke aspek van sy boerdery, insluitend die tipe gewas en sodoende opbrengsverhogings, asook verhoogde wins op sy belegging bewerkstellig.

Is die kool egter die sous werd? Het die tydsinvestering wat met presisieboerdery gepaardgaan in meet en weet werklik 'n impak op die winsgewendheid en volhoubaarheid van 'n besigheid? Om hierop ja te kan antwoord, moet mens die presisiewaardeketting baie mooi kies, gebaseer op puik tegnologie, doeltreffende ontwerp en doelgerigte toepassing. Die waardeketting kan beskou word as grondklassifikasies en chemiese ontledings, produktiwiteitskaarte wat uit die NDVI-beelde van satelliettegnologie bekom word, laboratorium-analise, in-seisoen monitering en lewering van NDVI-kaarte met kundige interpretasies en aanbevelings vir vroegtydige regstelling en sinvolle bemestingsprogramme. Die bekroning van die aksies word vasgevat in 'n operasionele bestuursisteem wat al die inligting kombineer.

Presisieboerdery behels die volgende tegnologie:
Satelliettegnologie
Daar is verskeie indekse beskikbaar wat jou boerdery na 'n nuwe vlak kan neem. Internasionale verwysings sluit in NDVI, TVDI en NDWI. Hierdie indekse laat mens toe om gewasproduksie wat buite die waarnemingsveld van die menslike oog is, te bestuur. Nanosatelliettegnologie verhoog resolusie met verkorte tussenposes wat veral krities kan wees vir groente- en vrugteboere, aangesien die kweek van groente 'n baie korter groeitydperk as grane het en ander protokolle vereis waarmee die gewasse bestuur word. Enige intervensie moet betyds geskied, anders is dit nutteloos en lei tot skade.

Data is egter nutteloos as dit nie deur kundiges geinterpreteer word nie, aangesien dit tot inligting verwerk moet word om bruikbaar te wees.

Indien mens slegs insette oorweeg en die mees geskikte area vir aanplanting kan identifiseer, kan groot besparings en verhoogde opbrengs met dieselfde insette verkry word. Optimalisering kan slegs geskied deur die korrekte aanwending van tegnologie. Dit beteken nie dat alles deur afstandbeheerde toerusting uitgevoer kan word nie. Al hoe meer toerusting en prosesse kan wel deur afstandbeheer gereguleer word, maar om te
te onderskei tussen onkruid en mielies op 'n jong groeistadium (validasies) vereis egter voete op die land.

Om jouself met presisieboerdery te beperk tot insette sal die groot waarde van meganisasie ontken. Selfs aspekte soos hommeltuigtegnologie kan grootliks bydra tot topografiese bestuur, wat opbrengste met tot soveel as 10% in een seisoen kan verhoog.

Leiers in die veld van presisieboerdery is bewus van die huiwering om oor te skakel na boerderypraktyke wat deur tegnologie gedryf word en bied daarom deurlopend in-diepte opleiding wat aanlyn, met sertifisering, beskikbaar is (byvoorbeeld webinare en een-tot-een opleiding) om die oorskakelingsproses te vergemaklik.

Bestuursinligtingsisteme
Suid-Afrikaanse produsente het vir baie jare merkwaardige resultate met 'n sogenaamde? 'sigaretboksiebesigheid'-benadering bereik. Nou kan die intellektuele eiendom van plase opgebou word. Met ander woorde, al die antwoorde is nie meer net in Pa se kop nie, dit is vasgevang op geintegreerde rekenaarsisteme waaroor die boer volle beheer het.

Vir uitvoerdoeleindes word naspeurbaarheid vereis en gevolglik moet verantwoordbare en spoorbare sisteme en inligting in plek gestel word. So 'n sisteem moet maklik via 'n selfoon of tablet aangevul kan word en die data op 'n sentrale sisteem integreer, wat voorafopgestelde verslae in plek het vir doeltreffende besluitneming.

Wetenskap van grond
Produsente moet staatmaak op deeglike grondklassifikasie - en chemiese ontledings wat deur kundiges geinterpreteer moet word om waardevolle aanbevelings te kan maak. As grondmonsters nie noukeurig geneem word nie, is die hele proses egter tevergeefs.

Laboratorium-analises
Deesdae kan mens nie net meer staatmaak op NPK-ontledings nie. Mikro-elemente is onder meer ook iets wat van naderby ondersoek moet word. Maak gebruik van betroubare laboratoriums en kyk gerus na die akkreditasies van die instansie.

Aanbevelings
Ontledings moet gewasse en praktyke in ag neem, en ook werklik waarde toevoeg tot die grondregstellings, verbeterings, verhoogde opbrengs en die boerdery se volle potensiaal ontwikkel. Landboukundiges spandeer dikwels ure om 'n 'Rolls Royce' te ontwerp wat dalk onprakties en onbekostigbaar is wanneer die renbaan dalk eerder 'n 4x4-roete is. Onafhanklike advies word aanbeveel, aangesien daar in hierdie gevalle nie een spesifieke produk bevoordeel word nie, slegs die boer en sy produksie.

Oesskattings
Die aanwending van tegnologie (NDVI-beelde) en kundige interpretasie daarvan het die akkuraatheid van oesskattings na 'n nuwe vlak geneem. Dit is belangrik vir die produsent, finansierders, graanbemarkers, voedselverwerkingsaanlegte, versekeraars, asook die regering.

Versekeringsbedryf
Risikobestuur was nog altyd as 'n tweesnydende swaard beskou, maar dalk gee die konsep van 'n laserswaard, wat alles verlig, vir ons 'n beter vergelyking. Die gebruik van NDVI-beelde om skade en die omvang daarvan te bereken, vergemaklik en vereenvoudig die eisproses - in die geval hou die wetenskap almal eerlik.

Die tendens is dat presisieboerderypraktyke 'n voorvereiste tot risikomitigasie sal wees, en finansierders begin ook daarop let. Om die koste van finansiering te bestuur, sal finansieringsmaatskappye waarskynlik in die toekoms daarop aandring dat die wetenskap ingespan moet word. Dit is vergelykbaar met kar koop, geen diefweringstelsel - geen finansiering.

Bestuur van waterbronne
Die hoeveelheid voedsel wat produsente per millimeter water produseer, is 'n internasionale kwessie en grondvog moet doeltreffend bestuur word. Al hoe meer water word met afstandbeheer bestuur en in droogtejare (soos wat die afgelope tyd ervaar is) is die bewustheid op sy hoogste. Grondvog kan ook nie noodwendig slegs chemies bestuur word nie. Proewe dui aan dat produsente wat in biologie bele beter resultate toon deur droogtetye en selfs dieselfde produksie handhaaf.

Meganisasie
Die doeltreffende gebruik van meganisasie lei tot verhoogde produktiwiteit en dra ook by tot die ontwikkeling van die intellektuele eiendom op 'n plaas. Dit skep werk vir goed opgeleide personeel en verhoog beheer van die bestuur. Hou in gedagte dat die grootste deel van die meganisasietoerusting teen duur buitelandse valuta ingevoer word, maar dit is krities om die boerdery kompeterend te hou.

Voedselsekerheid
Afrika se bydrae tot die internasionale ekonomie is slegs 1%. In slegs een seisoen het 'n Suid-Afrikaanse opkomende boer op 200 ha sy opbrengs verdubbel. Dit is duidelik dat presisieboerderytegnologie ingespan kan word om vermorsing te beperk, produksie te handhaaf of te verhoog.

Sjoerd Alkema