ADVERTORIAL

Available

Suid-Afrika is 13de op die lys van grootste bydraers tot kweekhuisgasse (KHG) in die wêreld.

Die invloed daarvan is nie beperk tot 'n toename in temperatuur en veranderende reënvalpatrone nie, maar ook tot 'n toename in intensiteit en frekwensie van droogtes, hittestres en vloede. Landbou word natuurlik nie net beïnvloed deur klimaatsverandering nie, maar dit dra ook by tot aardverwarming. Nie alle landbouproduksiestelsels het egter dieselfde invloed nie.

Die sogenaamde Bewaringslandbou (BL) is 'n stelsel wat geen- of minimum grondversteuring (byvoorbeeld deur geen ploeg) toepas, die instandhouding van 'n permanente gronddeklaag en 'n verskeidenheid gewasse in rotasie. Daardeur bevorder dit bio-verskeidenheid en natuurlike biologiese prosesse sowel bo- as onder die grondoppervlakte wat tot groter water- en nutriëntgebruiksdoeltreffendheid en -produktiwiteit lei. Dit lei tot meer veerkragtige stelsels, en verhoogde en meer volhoubare gewas- en weidingopbrengste.

'n BL word goeie landboupraktyke gekombineer met die praktiese toepassing van drie gekoppelde beginsels:
(1) Minimum of geen meganiese grondversteuring deur direk in die ongeploegde land te saai of te plant, om ploeg totaal uit te skakel wanneer die grond goed verbeter is en om grond daarna minimaal te versteur.
(2) Deur goeie deklaag organiese materiaal op die grondoppervlakte deur die jaar te verseker, wat insluit aangepaste dekgewasse en gewasse in wisselbou en/of die deklaag wat daar gelaat is van die reste van vorige gewasse of weidingsgewasse.
(3) Diversifisering van gewas- en weidingwisseling en spesievolgordes, aangepas volgens die plaaslike omgewings- en sosio-ekonomiese omstandighede, wat ook insluit geskikte peulplante wat stikstof bind en/of dekgewasse. Hierdie praktyke sal bydra om bioverskeidenheid bo- en in die grond te verseker, gebinde stikstof tot die grond-plantstelsel by te dra en sal help om pesopbou in die grond te verhoed. Die volgordes en wisseling van gewasse/weidings en dekgewasse sal bioverskeidenheid bevorder omdat elke gewas verskillende mikro-organismes en die natuurlike vyande van peste sal byvoeg tot die bestaandes in die grond.

Die kenmerke van BL verseker dat dit een van die stelsels is wat die beste toegerus is om by te dra tot verligting van klimaatsverandering deur vermindering van KHG konsentrasies. In die artikel van Dr E.L. Gonzalez-Sanchez en kollegas, wat hieronder aangehaal word, is die koolstofsekwestrasiepotensiaal van BL by beide jaar- en meerjarige gewasse in verskillende agro-klimaatsstreke van Afrika ondersoek.

Die meta-analise wat die outeurs gebruik het dui aan dat die jaarlikse koolstofsekwestrasie in Afrika se landbougronde met behulp van BL 143 miljoen ton C of 524 miljoen ton CO2 per jaar kan beloop. Dit is bykans 930% meer as die huidige sekwestrasiesyfer, wat die enorme potensiaal illustreer wat landbou het om klimaatsverandering in Afrika teen te werk. Vir Suid-Afrika alleen is die volgende syfers betekenisvol: Die aantal hektaar wat huidig deur BL bedryf word is 439 000 wat 'n sekwestrasie van 0.45 miljoen ton C per jaar gee. Die potensiële getal hektaar vir gewasproduksie is 2 936 285 wat 'n C sekwestrasie van 2.3 miljoen ton per jaar kan gee. Verder is die getal hektaar (insluitende weidings en tussen wingerde en vrugtebome) wat benut kan word met dekgewasse 230 989 vir 'n C sekwestrasie van 0.17 miljoen ton per jaar. Dus, die totale potensiaal vir koolstofsekwestrasie deur BL in Suid-Afrika is 550% meer as huidig.

Om hierdie syfers in perspektief te plaas: Dit word bereken dat die totale koolstofvrystelling in die land tussen 108 en 167 miljoen ton per jaar tussen 2025 en 2030 kan wees (sê 140 miljoen ton as 'n gemiddelde). Dan is 'n totale C sekwestrasie van 2.47 miljoen ton minder as 2%, wat niksseggend is. Maar met konvensionele landboumetodes sal koolstof voortdurend vrygestel word uit gronde. Voorts, met stikstofkunsmis sal stikstofoksied voortdurend in die atmosfeer vrygestel word wat 'n verwarmingspotensiaal ongeveer 300 keer meer as koolsuurgas het. Ook sal grondgesondheid verder verswak met negatiewe gevolge vir waterhouvermoë, oesopbrengste en volhoubaarheid.

As die drie beginsels van BL hierbo bespreek in gedagte gehou word, is dit kommerwekkend dat die getal gewas- en gewas/veeboere in SA wat BL toepas steeds nie meer is as omtrent 15% nie!

'n Ander perspektief is van belang vir veeboere: Minder as 18% van SA se landbougrond is geskik vir gewasverbouing wat beteken dat die oorgrote meerderheid is veld wat net geskik is vir veeboerdery. Goed bestuurde veld in ooreenkoms met weikapasiteitnorme sal voldoende biomassa en gewenste spesiesamestelling verseker wat in lyn is met wat met BL beoog word. Die potensiaal vir koolstofsekwestrasie is bespreek in 'n dokument van Agri SA met die titel: Implications of a Carbon tax and offset system for Agriculture in South Africa.

Deur alle biome in ag te neem, word bereken die jaarlikse vloei van C in en uit die veld en ekostelsels is meer as twee keer die koolstofproduksie van alle mens-veroorsakende bronne in SA. Dus het ons in veeboerdery het 'n enorme potensiaal, en gevolglik 'n groot verantwoordelikheid om klimaatsverandering te help verminder!


ADVERTORIAL

OPEN

 

Farming Diary

Sep
17

2:00 pm 09.17.2019 - 3:00 pm 09.18.2019

Oct
3

10.03.2019 - 10.04.2019

Oct
29

10.29.2019

ENCA - Latest

Feed not found.