ADVERTORIAL

HOLLARD

Bekyk en verstaan jou grond- Suid Afrika

Alle grond is nie eenders nie. Dus sal die toets van grond jou baie kan vertel oor: -die tipe gewas waarvoor die grond geskik is. Plante wat meer natuurlik in jou grond aard sal met minder koste en groter sukses in jou grond groei. - hoe om die grond te korrigeer of in balans te bring vir jou teikengewas. Grond is ‘n gekompliseerde omgewing wat die natuurlike reserwe van minerale en nitrate wat deur plante benodig word, vorm. Dit is ook waar wortelontwikkeling en groei plaasvind.  

Die grond moet ondersoek word om vas te stel watter tipe grond op die kleinhoewe voorkom. Jy kan dit doen deur ‘n gat van so 600mm diep in die vorm van ‘n trap te grou (trapvorm ± 300mm). Die boonste laag grond, die “lewendige” gedeelte (gewoonlik donker) is die gedeelte  wat jy gewoonlik omwerk en waar die plante se wortels groei. Dus maak dit sin dat hierdie gedeelte die minerale en nitrate vir plante hou. Water word ook hier gestoor om die plant te help voer. Humus of organiese stowwe kom hier voor wat óf deur jouself ingewerk word óf van plantmateriaal wat op die grond geval en verrot het, afkomstig is. Dus, hoe dieper hierdie boonste laag grond, hoe ryker is jou grond. As daar nie so ‘n bo-laag is nie, moet werk eers ingesit word om die grond lewe te gee voordat beplanting van die grond aangevat kan word. 

Die tweede laag, wat ‘n ligter gedeelte is en ook van diepte verskil, het nie humus of organismes in nie. Dit bestaan gewoonlik net uit grond en minerale. Die derde laag kan enigiets van klip tot net dooie grond wees. Hoe hoër hierdie vlak voorkom, hoe groter is die kans op arm grond.

TIPES GROND Daar is 4 basiese grondtipes: 1. Klei: Mens kan klei vergelyk met sement. Dit hou alles bymekaar en swel wanneer water ingeneem word. As gevolg hiervan stoor dit minerale ook goed. Die voorkoms van klei in jou grond is dus goed, mits dit nie te veel is nie. Te veel klei kan veroorsaak dat ‘n digte laag gevorm word wat die opneem van water belemmer. Dit word dan moeilik om die grond te bewerk. 2. Sand: Dit is die teenoorgestelde van klei. Sand vorm deur die erosie van klippe oor tyd en kom gewoonlik in winderige areas voor. Dit het ‘n swak waterhouvermoë en stoor gevolglik nie minerale effektief nie. Sand kan weens sy eienskappe gebruik word om grond wat baie dig is, losser te maak. 3. Kalk: Dit bestaan uit kalsiumsoute wat ‘n belangrike deel van gesonde groei uitmaak.

Dit het ‘n neutraliseringseffek op klei en suur minerale, wat dit uitmuntent maak vir gewasse. 4. Humus: Dis die organiese gedeelte van grond. Dit bevat nie minerale nie, maar vorm die lewende deel van die grond. Dit word deur verrotte plante en diere gevorm wat deur bakterieë en swamme afgebreek word tot elemente wat van nut vir plante is. Mens verwys na jou grondtipe deur die verhouding van die verskillende tipes grond hierbo teenoor mekaar. Grondvoorbereiding Voorbereiding van grond is bitter belangrik om sukses en profyt te verseker. Indien nie korrek gedoen word nie, kan jy die volgende risiko’s loop: • ‘n Vuil kultuur deurtrek van onkruid, wat jou gewas se water en voeding “steel”. • Te hoë gronddigtheid waar plantwortels nie plek het om te ontwikkel nie. • Grond wat diep en maklik uitdroog. • Swak penetrasie van kunsmis in die grond. Die volgende stappe behoort geneem te word: • Verwyder soveel moontlik van die onkruid deur dit af te kap (nie grou nie). Hark bymekaar en verwyder sodat skoon grond agterbly. • Indien die grond baie droog is, sal bewerking vergemaklik word deur dit nat te maak. Spuit byvoorbeeld grond die aand voordat dit geploeg word, nat. • Werk grond om – voor en tydens groeisiklus.

Omwerk van grond Handgereedskap kan gebruik word om grond om te werk as area nie te groot is nie. Dit is min dat die gebruik van ‘n gewone trekker op ‘n kleinhoewe winsgewend sal wees. Hulle is duur om aan te koop en te onderhou. Jy word forseer om groot, lomp implemente en ekstra parte aan te hou; parte is dikwels moeilik bekombaar en baie duur aangesien dit skaars is. Ouer trekkers se parte word dikwels ook nie meer vervaardig nie. Die gebruik van trekkers word gewoonlik eers vanaf 100ha as winsgewend beskou. Verder maak ‘n trekker klein lande, soos bv. 20m x 50m wat ‘n ideale grootte vir aanplant van groente is, se grond te rof en grof. Groentetuine kort gewoonlik ‘n fyner afwerking. Daar is egter verskeie masjiene op die mark wat beter vir dié doel geskik is.

Selfaangedrewe kapploeë of ‘n klein, ligte trekkertjie word gebruik. ‘n Ligte trekker druk nie die grond vas nie, wat beteken dit hoef nie weer opgebreek te word nie, wat dus minder brandstof beteken. Die trekkertjie moet ‘n redelike sterk enjin hê aangesien dit gewoonlik vir meer as een implement wat verskillende take verrig, vervaardig word. Die ander voordeel van die kapploeg is dat dit enige plante wat nog op die grond groei ook stukkend en fyn slaan, wat onmiddellike kompos vir jou grond daarstel. Die kapploeg kan ook later gebruik word om onkruid tussen gewasse onder beheer te hou.

Nog ‘n rede vir die omwerk van grond is om minerale van die tweede laag op te bring na die bo-grond, of, afhangende van die diepte van die tweede vlak, om kunsmis, wat minerale en nitrate bevat, in die grond in te werk vir makliker penetrasie. Tydens groei van die gewas moet die grond ook omgewerk word. Natuurlik moet nie die gewas of sy wortels in die proses beskadig word nie. Die omwerk van grond help met onkruidbestryding en om die grond se waterhouvermoë te verbeter. Wanneer grond vir ‘n tyd lank staan, vorm tonneltjies waardeur water ontsnap of verdamp. Deur die grond om te werk word verdampingsvloei verminder en verbeter jou grond. Grond kan óf met handgereedskap óf met die kapploeg omgewerk word. Bron: www.intelli.co.za Boerhier. 


ADVERTORIAL

SASOL FERTILIZER