Agri SA hoop die 2019 begroting sal positiewe verbintenisse lewer wat doeltreffend geïmplementeer sal word om die begrotingstekort te beperk en ekonomiese groei te ondersteun. Agri SA sien uit na die Minister van Finansies, Tito Mboweni se eerste Nasionale Begrotingsrede.
Die balans tussen regeringsinkomste (belastinginkomste) en uitgawes is die kern van die regering se begroting. Graderingsagentskappe en finansiële mark-rolspelers wil 'n verbintenis tot fiskale konsolidasie sien. Die fiskus is onder erge druk en 'n verdere afgradering deur kredietgraderingsagentskappe moet ten alle koste vermy word.
'Hierdie is 'n geleentheid om na die beste praktyk terug te keer - om met die hulp van die regte instrumente onnodige uitgawes sonder vrees of guns te sny,' sê Nicol Jansen, Agri SA Voorsitter van die Sentrum van Uitnemendheid: Ekonomie en Handel. 'Hoewel fiskale konsolidasie van kardinale belang is, moet die eerste opsie nie belastingverhogings wees nie.'
Landbou het gewys dat dit 'n bewese sektor is wat, met die ondersteuning van die regering, die ekonomie kan bou en fiskale stabiliteit kan verbeter. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP) erken oorweldigend die landbousektor as 'n groeisektor en sy potensiaal om werksgeleenthede vir landelike gemeenskappe te skep. Die Minister moet die huidige ekonomiese omstandighede en die moontlike negatiewe impak van dié verhogings op groeivooruitsigte in ag neem.
'Minister Mboweni het baie druk op hom om seker te maak dat Suid-Afrika se boeke klop,' sê Dr. Requier Wait, Agri SA Hoof van Ekonomie en Handel. 'As hy ekonomiese groei wil ontsluit, is die landbousektor die sleutel.'
Agri SA hoop om die volgende elemente in Mboweni se toespraak te hoor:
• Droogte-ondersteuning: Effektiewe en vinnige direkte hulp aan droogte-geaffekteerde boere. Landboubesighede kan as agente optree om droogteverligting te help versprei. Dit kan 'n openbare ouditproses volg om deursigtigheid te verseker en moontlike korrupsie te verminder. Verder moet droogteverligting voorsiening vir boere oor die subsektore van akkerbou-, tuinbou- en diereproduksie maak.
• Elektrisiteitsektorhervorming: Elektrisiteit is 'n belangrike produksie-inset vir die landbou. Boere is prysnemers en stygende elektrisiteitskoste het 'n direkte impak op ons internasionale mededingendheid, waar boere die stygende insetkoste moet absorbeer. Die hervorming van die elektrisiteitsektor is nodig om die huidige situasie van stygende tariewe op te los te midde van beperkinge van elektrisiteitsvoorsiening en beurtkrag. Hervormings moet die volgende oorweeg:
1. Om voorsiening te maak vir groter privaatsektor-deelname in die elektrisiteitsektor, spesifiek om elektrisiteit vir plaaslike gebiede op te wek via die lae stroomspanning verspreidingsnetwerke. Dit sal Eskom toelaat om sy opwekking- en transmissiefunksie voort te sit, terwyl die privaat sektor tot die plaaslike opwekking bydra wat Eskom se elektrisiteitsvoorsiening ondersteun. Dit sal help om die vraag na elektrisiteit te bevredig en beurtkrag te vermy.
2. Om Eskom se kapitaalbehoeftes te verminder en skuldvlakke te stabiliseer, moet die nuwe bouprogram op ys geplaas word. Eskom moet verdere kapitaalbesteding om sy opwekkingskapasiteit te vergroot, stop. Hoewel her-aanskakeling van verouderde projek in die toekoms duurder sal wees, kan dit nie as 'n argument gebruik word om voort te gaan met kapitaalbesteding wat die kragreus nie in die huidige omstandighede kan bekostig nie.
• Grondhervorming en steun aan opkomende boere: Meer befondsing vir grondhervorming en ondersteuning vir opkomende boere is van kardinale belang. 'n Uitkomsgebaseerde-befondsingsbenadering, gekoppel met tegniese en mentorskap-ondersteuning, moet deel van die benadering wees.
• Agri-Ontwikkelingsfonds: Befondsing en ondersteuning vir die vestiging van 'n Agri-Ontwikkelingsfonds wat "gemengde" finansiering kan benut om die ontwikkeling van opkomende boere te ondersteun.
• Bio-sekuriteit: Befondsing ter ondersteuning en verbetering van Suid-Afrika se bio-sekuriteitsmaatreëls. Die onlangse uitbraak van bek- en klouseer in die Vhembe Distrik van Limpopo illustreer die belangrikheid van verhoogde befondsing om ons bio-sekuriteitsmaatreëls te verbeter. Net so belangrik, ons moet genoeg kapasiteit verseker ten opsigte van die aantal bio-sekuriteitspersoneel met voldoende opleiding. Befondsing moet ook vir 'n nasionale identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel vir lewende hawe bewillig word.
• Dieselterugbetalingstelsel: Terugvoer oor die voorgestelde dieselterugbetalingstelsel (die skeiding van die dieselterugbetaling- en BTW-stelsels) om die verwerkings- en betalingsvertragings wat met die huidige stelsel ervaar word, op te los.
• Padinfrastruktuur: Die toekenning van befondsing vir die effektiewe implementering van instandhouding van pad- en logistieke infrastruktuur.
• Planne om korrupsie en swak dienslewering te hanteer: Swak presterende munisipaliteite moet onder administrasie geplaas word om te verseker dat die beskikbare fondse effektief bestuur word.
• Beperking van buitensporige verhogings tot aksynsbelasting: Oormatige stygings in aksynsbelasting kan 'n nadelige impak op die wyn- en tabakbedrywe hê.