TLU SA help boere om uitvoerstatus te beskerm

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

TLU SA doen beroep op boere om die hulp van TLU SA en Sakeliga aanbied in betrekking tot die Perishable Product Export Control Board (PPECB) se versoek aan sy kliënte om hul B-BBEE-sertifikate te verskaf, met albei hande aan te gryp.

 
Ofskoon die PPECB se versoek aan sy kliënte om hul B-BBEE-sertifikate te verskaf tans nog nie hul uitvoerstatus beïnvloed nie, is daar groot kommer dat dit wel die volgende stap van die organisasie gaan wees. TLU SA wil in samewerking met Sakeliga boere bekwaam om die uitdaging aan te pak. 
 
“In die beëdigde verklaring wat boere saam met die verwagte sertifikaat moet voorsien, stel TLU SA en Sakeliga voor jy voeg vier paragrawe by om jou te beskerm en te help met die oog op die toekoms,” het TLU SA se Hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl gesê.
 
Boere kan toegang tot dié vier uiters belangrike paragrawe kry deur die blad https://tluveldtogte.co.za/boere-beskerm-jou-uitvoere/ te besoek en jou epos-adres in te vul.
 
Die aksie kom ná ’n verklaring van die PPECB wat aanspraak maak op boere se B-BBEE-sertifikaat.
 
“Op 19 Oktober 2021 het die PPECB ’n kennisgewing aan sy kliënte uitgereik waarin hulle versoek word om ’n afskrif van hul B-BBEE-sertifikaat aan hul relevante PPECB-kantoor te stuur. Na aanleiding van hierdie kommunikasie het verskeie betrokke kliënte die PPECB gekontak vir duidelikheid oor die doel van hierdie versoek. Die PPECB verstaan ​​hierdie bekommernisse en wil die bedoeling van hul versoek verduidelik,” lui die verklaring wat in November uitgereik is.
 
“Die B-BBEE-sertifikate wat aan die PPECB verskaf moet word, sal gebruik word om die vlak van voldoening van die sektor as geheel te bepaal en dat die PPECB nie die vlak van voldoening van individuele entiteite sal evalueer nie. Verder is dit gekommunikeer dat die PPECB nie tans vereis dat sy kliënte B-BBEE geregistreer is of dat hulle ’n spesifieke B-BBEE-gradering behaal nie.
 
Dit sluit af met: “Die PPECB wil ook duidelik maak dat hy nie diens sal opskort of weerhou van sy kliënte wat nie B-BBEE voldoen nie. Maatskappye wat nie daaraan voldoen nie, kan dus in hierdie stadium steeds uitvoer. Verder is ’n vlak van voldoening nog nie vir die bedryf bepaal nie, maar die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging en die sektor kan kyk na die teikens vir die sektor tydens die hersiening van die B-BSEB generiese en/of sektorkodes.”
 
Vir TLU SA flikker die gevaarligte helder.
 
“Met bewoording soos ‘tans’, ‘in hierdie stadium’, ens. wys dit duidelik dat die gebruik van B-BBEE-sertifikate in die toekoms ’n invloed gaan hê en daarom is dit belangrik dat ons nou optree om ons boere te bekwaam vir die uitdaging,” het mnr. Van Zyl gesê.
 
“Dit is om die rede dat ons ook ’n veldtog begin het, om boere maklik toegang tot ons hulp te gee en om die publiek die geleentheid te gee om hul stem en steun aan ons land se boere en ekonomie te gee.”