Grondbone word sterk aanbeveel in 'n mielie-wisselbouprogram. Grondbone is 'n moeilike gewas om te verbou, maar selfs in die moeilikste toestande was daar die afgelope twee seisoene boere wat rekord-oeste met topgraderings gehad het.
Goeie wisselboustelsel; deeglike saadbeddingvoorbereiding; bemesting wanneer dit nodig is; goeie, suiwer saad; die regte plantprosedure, plantspasiëring en plantdiepte; gewasversorging, met deeglike aalwurm- en blaarvlekbestryding; die regte besproeiing waar dit van toepassing is; die regte oesdatum en korrekte oespraktyke. Enige monokultuurstelsel is moeilikheid soek. Onder besproeiing verbou sommige boere jaar ná jaar koring in die winter en grondbone in die somer op dieselfde land. Dít is monokultuur, en baie produsente het reeds die nadele daarvan beleef. Op die Vaalharts-besproeiingskema behoort die opbrengste nie onder 4 t/ha te wees nie.
Gars is 'n beter gewas as koring om voor grondbone te verbou, maar die beste is om mielies in te sluit en grondbone ná hawer (wat op mielies volg) te plant. As 'n wintergewas verbou moet word, kan gars en koring ook afgewissel word. Ekonomiese druk laat nie altyd 'n hawer-groenbemesting toe nie, maar grondbone se beter prestasie vergoed daarvoor. Grondbone word geplant op lande wat diep omgeploeg is. Alle plantreste en die boonste grondlaag moet so diep moontlik ingeploeg word. 'n Ploeg wat die sooi omkeer, moet gebruik word, eerder as een wat die sooi net skuins omvou. Tand- of stoppelbewerking is nie geskik vir grondboonproduksie nie. Aangesien grondbone op sanderige grond verbou word, is wind-erosie 'n probleem, en bewerkingspraktyke moet soms van die ideale stelsels afwyk om dít in ag te neem. Ploeg eers en kompakteer dan die grond met 'n eg of tandroller. Ploeg dus so 50 mm dieper as gewoonlik en bring 'n deel van die gekompakteerde laag na die oppervlakte om harder kluite te vorm om winderosie te help beperk. 'n Ferm saadbedding is wenslik, maar dit kan net verkry word deur 'n eg of tandwerktuig te gebruik op lande wat nie waaiprobleme het nie. Grondbone het genoeg voedingstowwe nodig om 'n goeie oes te lewer. Eerstens moet die pH of grondsuurheid reg wees, met 'n lesing van ongeveer 6 (water). Normaalweg is die pH te laag; dan moet die boer vooraf kalk toedien en inwerk. As die grondbone in grond met 'n hoë pH geplant of die gewas met besproeiingswater met 'n hoë pH besproei word, is bemestingstowwe wat swawel bevat (superfosfaat, ammoniumsulfaat en gips) 'n beter keuse. Fosfor, kalsium en kalium is baie belangrik, met stikstof in die vierde plek.
'n Basiese aanduiding van die hoeveelheid voedingstowwe vir 'n goeie opbrengs is: 'n Fosforinhoud van meer as 20 (in Bray2-grond),'n kalsiuminhoud van ongeveer 400 dele per miljoen, met kalium altyd sowat 25 % daarvan, naamlik 100 dele per miljoen. Stikstof kan deur die plant self geproduseer word met behulp van die stikstofbindende knoppies op die wortels mits dit goed ontwikkel is. Waar daar heelwat plantreste is of wanneer hawer, koring, gars of mielies onder besproeiing verbou is, kan die boer voorsiening maak vir 'n stikstof-negatiewe periode en kan hy 40 kg - 60 kg stikstof/ha (op 9/19/2018 Grondbone 'n veilige opsie om saam met hierdie oesreste of met die ploegaksie voor planttyd inwerk. Die oormatige bemesting van die afgelope jaar of twee op Vaalharts het weer bewys dat boere op dieterrein versigtig moet wees. Dit word deurgaans aanbeveel dat gips teen ongeveer 300 kg/ha op die ry (droëlande) en 600 kg/ha tot 800 kg/ha (besproeiing) net ná planttyd uitgestrooi word. Spoorelemente soos magnesium, sink en yster kan met blaarontledings bepaal word wanneer die blare vergeel. Boortekorte kan in uitgeloogde sandgronde met 'n lae pH, soos in die provinsie Limpopo en in die noorde van KwaZulu-Natal, verwag word. Dit is egter eers met pitvorming sigbaar en kan met 'n boortoediening met planttyd en ses weke later reggestel word. Die boer kan grondontledings doen, maar in uitgeloogde sandgronde, soos by Alma, Naboomspruit en in die Waterberggebied, en in die omgewing van Dundee, Wasbank en Vryheid, behoort die boere buitendien boor toe te dien. Een kilogram boor, wat in die twee toedienings verdeel word, los die probleem op. Die regte kultivar by grondbone gaan afhang van siekteprobleme, hoofsaaklik swart peulvrot. Onder besproeiing is grondbone as keusegewas problematies as swart peulvrot al voorgekom het, omdat diesiekte lank in die grond bly. Harts, Kwarts en tot 'n mate Akwa het redelike weerstand teen die siekte, maar as die besmetting erg is, sal Akwa ook maar tweede kom; selfs Kwarts ook.
Aalwurm is deesdae seker die grootste probleem en behoort goed beheer te word. As die gondboonsaad nie 'n normale pienk kleur het nie, maar vaal-geelbruin vertoon, kom die saad van besmette lande en behoort dit nie geplant te word nie. Boere moet ook bedag wees op agente wat laer dosisse plaagdoder aanbeveel. Die afgelope seisoen het dieraad wéér nie gewerk nie, en lae opbrengste en swak gradering veroorsaak. Plantluise word eers bestry as die besmettings erg word. Bolwurm word glad nie gespuit nie; dit vrek van 'n virus wat die land bykans immuun teen volgende besmettings maak. Die grondboon-bladmyner, 'n nuwe pes, moet vroeg bestry word. Blaarvlekbestryding is uiters noodsaaklik, maar moet reg en deeglik gedoen word. Blaarvlekbesmetting kan tot vroeëroes lei, met lae opbrengste en swak gehalte. Dit moet dus deeglik bestry word. LNR