Is jou boerdery in "Synchronisasie "met die natuur

Is jou boerdery in "Synchronisasie "met die natuur

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Baie jare gelede as 'n jong boer kon ek nooit verstaan hoekom ons peste en plae moes uitroei met verdoemende gif wat alles wat werklik geleef het en niks met die huidige plaag te doen het, ook verwoes het nie. Alles wat onder die spuit gekom is bokveld toe.

In my agterkop wou ek altyd weet hoekom hierdie hoogsgeleerde gifsmouse vir elke plaag 'n gif gehad het, maar ek wou ook weet wat die gevolge daarvan gaan wees. Atrasien wat 'n vooropkoms gifdoder is, was in die tagtiger jare byna al gif wat gebruik was op mielies om onkruid te beheer. 

Miljoene 20 liter kanne is verkoop en gebruik en het later in die ondergrondse water en panne beland. Vervaardigers het hoog en laag gesweer dat hierdie gif geen uitwerking op die natuur sal he nie, maar daar is later jare baie stories geskryf rondom die gevolge van Atrasien en afloop water en die baie bekende "Plat-anna" padda wat net in die Vrystaat voorgekom het. Die sogenaamde mannetjie padda het van geslag verander  agv van Atrasien- volgens gerugte. Dis 'n storie vir 'n ander dag, want daar moet van die gifstowwe in die ondergrondse water wees.

Koringluise is met menig doodgespuit en daarmee saam het die "Ladybird" wat die werk moes doen ook die gees gegee.  Vroeg in my lewe het ek bewus geword van die gevare van gifstowwe en die hantering daarvan.  Ek het geleer by 'n baie wyse man, dat as jy 'n insek doodmaak wat 'n plaag geword het, het jy waarskynlik vroeer die insek doodgemaak wat die plaag self kon beheer het.-  In kort beteken dit- as jy 'n insek doodmaak gaan jy sy werk moet doen.

Bewaringboerdery is niks meer as om die ekologie van die natuur te herstel nie. Ons het die siklus verwoes en dit is die gevolg van baie siektes en plae. Dieselfde gifmaatskappye wat die gif voorsien het om alles wat lewe dood te spuit, is waarskynlik nou betrokke by die heropbou van die siklusse en herlewing in die landbou. Wynboere in die Wes Kaap het reeds begin om alternatiewe metodes te vestig om onkruid te beheer in die wingerde. Riviere en damme is waarskynlik ook  besoedel met gifstowwe. 

Heuningbye bestuif sowat 50 soorte kommersiële oeste in Suid-Afrika, wat dalende getalle bye as gevolg van besoedeling en gebruik van gifstowwe 'n wesenlike bedreiging maak. Die belangrikheid van die noodsaaklike bestuiwingsproses wat deur bye gedoen word kan nie onderskat word nie. Duisende plantsoorte loop die gevaar om uit te sterf as bye verdwyn. Vrugte- en groenteboerdery sal feitlik onmoontlik wees sonder bye.

In die insekwêreld het amper elke spesie ’n ander rol, waarvan party heel ongewoon is. Party motte kry byvoorbeeld lewegewende sout en vog deur die trane van buffels op te suig. Ander insekte wat met ’n kragtige vriesweringsmiddel toegerus is, word op yskoue bergtoppe aangetref en is hulle hele lewe lank op soek na goggas om te eet wat van die koue dood is.

Insekte speel ’n noodsaaklike rol in ons daaglikse lewe. Trouens, ongeveer 30 persent van die voedselsoorte wat ons eet, is afhanklik van bestuiwing deur bye, waarvan die meeste wilde bye is. Maar bestuiwing is net een van die nuttige take wat insekte verrig. Insekte hou die aarde skoon deur middel van ’n doeltreffende herwinningstelsel wanneer hulle dooie plant- en dieremateriaal in bruikbare vorme omsit. Sodoende word die grond vrugbaarder gemaak, en voedingstowwe wat vrygestel word, kan dinge laat groei. “Sonder insekte”, skryf insekkundige Christopher O’Toole in sy boek Alien Empire, “sou daar ’n verskriklike ophoping van dooie plant- en dieremateriaal wees.”

Ons is baie gou bewus daarvan wanneer insekte se werk nie gedoen word nie. Neem byvoorbeeld wat in Australië gebeur het, wat die tuiste van miljoene beeste geword het. Waar daar beeste is, gaan daar mis wees. Behalwe dat dit onooglik was, was die mis ’n broeiplek vir die bosvlieg—’n plaag vir die mens en vir vee. Miskruiers is gevolglik van Europa en Afrika af ingevoer. Die probleem is opgelos!

Dit is waar dat party insekte gewasse eet en siektes dra. Maar net ongeveer 1 persent van die wêreld se insekte word as plae beskou, en baie van hulle rig meer skade aan as gevolg van die manier waarop die mens self die omgewing verander het. Die malariamuskiet pla byvoorbeeld selde die inheemse volke wat in die ekwatoriale woude woon. Maar hy rig wel verwoesting aan in die dorpies langs die woud, waar daar volop stilstaande water is.

  Presisieboerdery is 'n sisteem wat geskoei is op die beginsel van voortdurende verbetering

Die mens kan dikwels die insekte wat gewasse aanval op ’n natuurlike wyse beheer deur gewasse af te wissel of deur natuurlike vyande in te voer of te beskerm. Die eenvoudige liewenheersbesie en gaasvlieg beheer plantluisplae doeltreffend. En in suidoostelike Asië het openbare gesondheidswerkers ontdek dat ’n paar naaldekokerlarwes ’n watertenk vry van muskietlarwes hou.

Al veroorsaak insekte dus soms probleme is hulle ’n noodsaaklike deel van die sigbare wêreld waarvan ons afhanklik is. Hoewel insekte sonder ons kan klaarkom, is dit soos Christopher O’Toole sê: “Ons kan nie sonder hulle klaarkom nie”.

Dis tyd dat almal begin wakker word en begin waarneem wat om jou gebeur in die tuin, jou gras, jou blomme, jou bome, jou oeste- alles om jou wat jy net as vanselfsprekend aangeneem het.

Elke dag word daar in die media berig van hoe suksesvol seker landbouers en opkomende landbouers is. Suksesverhale wat alles gemeet word aan geld en besittings- syfers en opbrengste per hektaar en koste per hektaar en nog baie ander super kwalifikasies. 

Jy is nie 'n suksesvolle boer as jy die natuur vernietig en alles wat daarin leef om jouself te verryk nie. Jy is eintlik onsuksesvol want daar le letterlik geraamtes agter jou wat uit die siklus gehaal is omdat hulle 'n bedreiging was vir jou oes en jy dit nie nie reg kon beheer nie. 

Ons moet kopskuif maak en ons moet begin deel word van die natuur se ratwerk- en weet hoe dit werk en daarby inval. Die Heelal is suksesvol geskape, ten volle in synchronisasie- ons het deur die jare van die sogenaamde ratte vernietig- Is dit dalk waarom ons natuur so deurmekaar is.?

In ons reise dwarsdeur Suid Afrika die afgelope 5 jaar het ons gesien wat alles vernietig is in die aanloop na rykdom en sukses. Nie net op sekere plase is Insekte vernietig nie, maar ons sien dit oral op ander plekke. 

Daar is maniere om plae en insekte te beheer en dis baie maklik om net 'n sekere gif aan te koop en te spuit- dit was lankal tyd dat die mense meer moet weet van die werking van die natuur en wat gifstowwe se werking is. 

So het bewaringboerdery ontstaan

Grond word bewerk om verdigtings op te hef, onkruid, plae en siektes te bestry, oesreste en chemikalieë in te werk en ‘n saadbed te skep waarin saailinge maklik kan opkom en groei. Grondbewerking is soms selfs nodig om winderosie te bekamp. Konvensionele bewerkings word met skaar- of skottelploeë uitgevoer om bogenoemde doelwitte te bereik. Met die ploegaksie word plantreste met die grond van die ploeglaag vermeng en die grondoppervlak word met min plantreste gelaat. Sekondêre vlakker bewerkings word dikwels met tand of skottel implimente uitgevoer om een of meer van bogenoemde doelwitte te bereik. Konvensionele grondbewerking het belangrike nadele. Eerstens veroorsaak dit agteruitgang van die grondkwaliteit soos weerspieël word in die afname van die organiese materiaalinhoud daarvan. Verder vernietig dit die struktuur van die grond, vergroot die erosiekwesbaarheid en ontwrig die lewenssiklus van sekere organismes. In baie gevalle word die a#oop van water en die gepaardgaande erosie, deur bewerkings verhoog. Grondbewerking en die meganisasie wat dit vereis, maak verder ‘n groot deel van die koste van graanproduksie uit.

In bewaringsboerdery word ‘n primêre grondbewerking nie uitgevoer nie en die enigste “bewerking” is die plantaksie. ‘n Belangrike voorwaarde is dat nie meer as 15 cm of 25% (watter een ookal die kleinste is) van die grondoppervlakte versteur moet word nie. Geenbewerking, waar slegs die grond in die plantvoor versteur word, is die ideaal wat nagestreef moet word. Beperkte ervaring dui egter daarop dat soos die klei-inhoud van die grond afneem en die sandinhoud toeneem, ’n toenemende dieper losmaak-aksie tydens die plantproses nodig is om saailinge suksesvol te vestig en die kunsmis diep genoeg geplaas te kry. Voorskrifte oor hoe diep watter grondtekstuurklas versteur mag word, bestaan tans nog nie.

Onkruidbeheer in bewaringsboerdery vereis kennis van onkruide en –doders, asook die bestuur van die onkruidbeheerproses. Onvoldoende onkruidbeheer is ’n belangrike oorsaak van mislukte pogings tot bewaringsboerdery. Die onkruidspektrum verander gewoonlik met die oorskakeling na bewaringsboerdery en uitgawes aan onkruiddoders neem toe. Sonder die insluiting van ’n glifosaatbestande gewas in die gewasstelsel, gaan die oorskakeling na bewaringsboerdery waarskynlik baie moeilik wees.

Graanopbrengste kan aanvanklik na die omskakeling na bewaringsboerdery laer wees as dié van konvensioneel geproduseerde graan. Daar word dus aanbeveel dat die eerste gewas wat in onversteurde grond geplant moet word eerder ’n peulgewas moet wees wat die daaropvolgende mielieopbrengs ’n hupstoot kan gee. Resultate met bewaringsboerdery is omgewingsen grondverwant en dit mag aanvanklik geduld vereis. Vee op ’n land onder bewaringsboerdery kan tot grondverdigting aanleiding gee en die vereiste deklaag grootliks vernietig. Een siening is dat vee glad nie op bewaringsboerderylande toegelaat moet word nie. ’n Tweede siening is dat vee op die lande toegelaat kan word mits die grond droog genoeg is om kompaksie te voorkom, maar dat genoeg oesreste agter gelaat moet word om steeds aan die vereiste 30% grondbedekking te voldoen.

Bewaringsboerdery word deur baie boere as slegs ‘n kostebesparende praktyk eerder as ‘n hulpbron- en omgewingsbewarende aksie gesien, wat ook poog om die natuurlike hulpbronne optimaal te benut. Dit beperk nie noodwendig kostes nie. Besparings op brandstof en meganisasie word dikwels deur verhoogde uitgawes aan onkruiddoders en ander chemikalieë uitgewis. In baie gevalle styg die opbrengste van gewasse in bewaringsboerdery mettertyd bo die van konvensioneel geproduseerde gewasse. Onkruiddruk neem ook af, wat die ekonomie verbeter. Die plaaslike grond en klimaat bepaal die fyner voetwerk van bewaringsboerdery. ‘n Eenvormige suksesresep bestaan nie. Wat met minimumgrondversteuring bedoel word, watter wisselboustelsels die suksesvolste gaan wees, hoe gereeld kalk toegedien moet word, ens., moet gewoonlik proefondervindelik vir plaaslike omstandighede bepaal word.

Ons almal bly op die aarde en ons nageslagte volg ons- ons voorbeeld moet oorgedra word aan ons nageslag.

Johann Pretorius-  CRA Media