Hier in die doodsnikke van die jaar is dit maklik om te verval in ‘n vreeslik melankoliese geteem oor wat was, hoe vinnig tyd verbysnel, die droogte, moedeloosheid, uitputting en ‘n algemene gevoel van op wees.
Steeds reen dit nie genoeg (en beslis nie oral waar dit nodig is) nie. Vleispryse is onder druk en die kennisgewings van jaarlikse verhogings vir insette en rekeninge en skoolfondse en medies en versekering en alles en nog wat maak pos uithaal en e-pos lees ‘n pyniging. Dit is asof dit net makliker is om hierdie tyd van die jaar boedel oor te gee.
En in hierdie gees van depressie moet ek ampshalwe Kaap-toe om ‘n geleentheid by te woon waar ons as borge optree. In die proses is my vrou en die kortvolk nog vies ook oor ek weer nie tuis is oor ’n naweek nie... Die Kaap het besef hy is op dun ys en sit sy beste voetjie voor. Wanneer Agri Expo se jaarlikse Livestock afskop speel die weer saam. Sandringham buite Stellenbosch is altyd ‘n heerlike ontsnap van die gewone en toonvenster van die beste wat landbou kan bied. Wanneer groot manne soos Rikus van Wyk uit Porterville dit beskryf as van internasionale kwaliteit met ‘n uitsonderlike atmosfeer en Andrew Masterson uit die Ooskaap dit uitroep as die beste bemarkingsgeleentheid vir die industrie met eersteklas fasiliteite, ‘n hemelhoe standaard en die plek waar jy jou kan meet teen die beste dan weet jy dit is nie sommer ‘n hierjy nie.
As ons in hierdie uitgawe fokus op hoe om hulpbron-slim te wees en volhoubaarheid in die landbou en op jou plaas te verseker dan spreek dit vanself dat ons by die bestes moet gaan leer. Staan jy langs die ring dan sien jy ervaring en jare se selektiewe teelprogramme vrugte afwerp. Wanneer iemand soos Pieter van Deventer uit die suidkaap self met sy spog Jerseykoei in die ring staan dan besef jy hoeveel ervaring en trots ons boere demonstreer.
Nou is die vraag: Wat demonstreer jy wanneer jy self in die spreekwoordelike ring staan? Hoe verantwoord jy jou omgaan met hulpbronne wat nie meer in oorvloed is nie. Hoe werk jy slimmer met wat jy dan wel het en is jy gerig op die korttermyn of sien jy die potensiaal en volgende geslag verse wat hierdie koei en bulkombinasie gaan oplewer?
In die finansiele sektor is ons ten nouste betrokke by die verlede, die hede en die toekoms. Jou geskiedenis van bestuur, resultate en eise vorm saam ‘n prentjie van wat die toekoms inhou. Dit is presies vir hierdie rede dat versekeraars jou vra oor jou eisegeskiedenis wanneer jy aansoek doen om versekering. Lewensversekeraars verneem na al jou kwinte en kwale oor die jare want dit wys vir hulle wat waarskynlik voorle. Jou bankbestuurder blaai graag deur die vorige bankstate alvorens hy uitspraak lewer oor jou huidige situasie...
Hierna volg gewoonlik die prediking oor die ekonomie, die droogte, die politiek, oproer, misdaad, jou gewig, produsentpryse en alles wat moontlik vandag ‘n rol kan speel in jou saligheid.
Die toekoms word dan ingelei met al die gerekende opinies oor die wereldekonomie, aardverhitting, oorbevolking, grondonteiening en onsekerheid en politieke onrus om eintlik maar net aan te dui dat die toekoms duister is. Baie duister! Jare terug het ek ‘n kollega gehad wat elke keer as iemand hom kom sien het gevra het: “ Waarvoor kan ek vandag nee sê?”
Die feit is dat ons eie ingesteldheid en gedrag tot ‘n groot mate bepaal hoe ons hanteer word en wat die uitkoms gaan wees. Indien ek ‘n geskiedenis van finansiële wanbestuur demonstreer dan gaan my bankbestuurder waarskynlik frons wannneer ek geld kom leen. Wannneer ek oorgewig, rokerig en onfiks is gaan my lewensversekeraar my lewenspolis se premie belaai want ek jaag my eie heengaan half aan. Wanneer ek maandeliks eise indien oor verlore selfone, vermiste juwele, gestampte bakkies en my beeste wat al weer die buurman se oeste gaan vreet het gaan daar definitief vrae gevra word oor my versekerbaarheid en indien ek wel ‘n polis kry gaan die bybetalings en premies heelwat meer wees as die norm.
Die bestuur van my huidige situasie kan en sal bepalend wees van hoe my toekoms lyk. Wannneer ons dus oor volhoubaarheid praat en die bestuur van hulpbronne gaan dit nie net oor grond en water nie maar ook oor my finansiële hulpbronne en infrastruktuur. Hierdie deel van my lewe verg dieselfde sorgsaamheid as enige ander hulpbron indien ek volhoubaar wil boer. Soos water kom ek sy waarde te laat agter wanneer hy weg is. Werk nou versigtig met hom en moet hom nie misbruik nie dan sal daar more nog wees en die dag daarna ook. As jy vir hom nou misbruik gaan hy more dalk nie beskikbaar wees nie.
Die stuk wat ek nie flussies vertel het nie is dat Pieter van Deventer se laerskoolseun later saam met Pa in die ring was maar met sy eie koei. Wannneer laas het jy jou seun of dogter of ‘n jong mens wat die toekoms moet vat saam met jou in die “ring” van jou boerdery of besigheid toegelaat? Laat jy hulle toe om self te skou of is jy maar die een wat dit doen. Jy alleen is nie volhoubaar nie en jy het nodig om die volgende geslag saam te neem, stuksgewys, maar saam.
So moeg as wat ek teen sondag was toe ek tuis aanland was dit lekker om dit met ‘n ligte gemoed te kon doen. Die “swart hond” het gewyk en hoop het wit geblom. Dit kan nie anders nie: die interraskampioen was ‘n Angus koei, dragtig met ‘n tweeling, en ‘n tweeling wat agter haar aandrentel! Daar is ‘n nuwe geslag boere wat hulle staal toon in die ring en as ons oppas wat ons moet, leer vir die wat moet oorneem en rentmeesters is van dit wat aan ons toegewys is dan sal ons volhoubaar kan voortboer. Mag jy ook in jou “ring” die sagte reën van Sy genade intens beleef.
Andries Wiese- Hoof- Hollard Agri Suid Afrika