In baie dele van Suid-Afrika groei daar deesdae al hoe meer bome en al hoe minder gras. Hierdie “bosindringing” is ’n kopseer vir boere, want dit verminder weiding. Te veel boskasies belemmer ook wildkyk en verdring sommige dier- en plantspesies.
DAAR is deesdae te veel bos in die Bosveld. Bome en struike staan ook al hoe digter in groot dele van die Laeveld, KwaZulu-Natal, Noord-Kaap en Oos-Kaap. Hierdie toename van inheemse struike en bome in savanne- en grasveldgebiede staan bekend as “bosverdigting” of “bosindringing”.
Dit is sleg vir boere se beursies, ekotoerisme én biodiversiteit. Ongeveer 7 miljoen hektaar van Suid-Afrika word deur bosverdigting geraak. Doringbome is die grootste sondaars. Maar moenie húlle verkwalik nie; dit is meestal deur die mens se toedoen dat dié bome so oorvat.
“Party gebiede is so dig toe dat daar nie eens beeste kan deurloop nie,” vertel prof. Klaus Kellner van die Noordwes-Universiteit se skool vir biologiese wetenskappe. Hy is ’n kenner van bosverdigting en adviseer ook die regering oor die bestuur van die probleem.
“Die regering spandeer honderde miljoene rande per jaar om bosverdigting te bekamp. Om die bosse uit te dun skep ook werk vir mense, as deel van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye se Working For-programme.”
In die skadu van soveel bome kwyn die gras. Dit beteken veel minder weiding vir vee. Party kommersiële beesboere spandeer dus groot geld om bome en struike uit te dun, en daar is regeringsubsidies vir opkomende boere.
Bosverdigting raak ook wildplase. Koedoes en kameelperde kou dalk lekker aan al die blare, maar baie boksoorte het gras én blare nodig, terwyl diere soos sebras en blesbokke weer grasvreters is. Bosverdigting maak dit moeiliker om ’n winsgewende boerdery te bedryf.
Ekotoerisme kan ook onder bosverdigting ly. Enige wildkyker sal weet dit is moeiliker om diere te sien as daar digte bosse is. Daar is dan ook minder diere en kleiner troppe. Daar is in studies bevind dit is nadelig vir toeriste se ervaring en dat parke só inkomste kan verloor.
South Africa slings back the fynbos-flavored gin
Bosverdigting verminder ook biodiversiteit. Savanne (of bosveld) is per definisie ’n kombinasie van bome en gras. Die verhouding van bome tot gras verskil van plek tot plek, maar albei is noodsaaklik in die landskap. Ooptes met gras is belangrike habitat vir verskeie dier- en plantsoorte. Waar bosverdigting in natuurlike areas plaasvind, verminder die aantal groot grasvretende diere terwyl blaarvreters meer volop raak.
Die getalle van groot grondlewende voëls, soos die bedreigde sekretarisvoël en bromvoël, neem ook af. Sekere roofdiere het ook ooptes nodig om te jag. Naby Otjiwarongo in Namibië word bosverdigting byvoorbeeld bestry ter wille van jagluiperds se bewaring.
Op ’n groter skaal beïnvloed bosverdigting waarskynlik ook die beskikbaarheid van water. Omdat bome meer water gebruik as gras, kan bosverdigting die hoeveelheid water verminder wat na riviere toe afloop.
Dit is nou hoog tyd om van hierdie verhaal se hoofkarakters bekend te stel. Eerste aan die beurt is die berugte sekelbos, Dichrostachys cinerea. Hierdie doringrige struik of klein boom kom wyd voor en kan byna ondeurdringbare ruigtes vorm. Die soetdoring (wat deesdae Vachellia karroo heet) het geen bekendstelling nodig nie. Maar het jy geweet dit is die vernaamste bosverdigter in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, waar dit ook na voorheen boomlose grasveldlandskappe versprei?
Verder is daar ook die swarthaak (Senegalia mellifera), beroemd vir sy heuning, maar besig om uit te haak in veral die Noord-Kaap. Nie al die spelers is egter doringbome nie. In die Laeveld tel die vaalboom (Terminalia sericea) en rooiboswilg (Combretum apiculatum) ook onder die belangrikste bosverdigterspesies. En moenie van die mooie mopanie (Colophospermum mopane) vergeet nie. Dit is belangrik om te onthou dat al hierdie bome inheems is en belangrike lede van die ekologiese koor is. Die probleem kom net as hulle te veel raak of versprei na streke wat voorheen sonder bome was.
Hoe weet ons dat bosverdigting regtig plaasvind? Mense het dit natuurlik self op hul grond sien gebeur en wetenskaplikes het al baie studies gedoen. Die tendens is duidelik: Daar was die afgelope eeu ’n geweldige toename in inheemse bome en struike in baie areas, veral in onlangse dekades. Terloops, uitheemse indringerbome soos denne, wattels en prosopisse is ’n nog groter probleem, maar iets heel anders as die inheemse bosverdigting of bosindringing waarvan ons hier praat.
Een van die treffendste bewyse van bosverdigting is ou landskapfoto’s. As deel van die inisiatief rePhotoSA gaan wetenskaplikes en ook lede van die publiek terug na plekke waar historiese foto’s geneem is en neem dan presies dieselfde foto’s. In die meegaande foto’s van Venterskroon in die Vredefortkoepel kan ’n mens byvoorbeeld duidelik sien hoe die bome sedert 1919 toegeneem het. Baie studies oor bosverdigting kyk ook na lugfoto’s (wat van die 1940’s af geneem is) en natuurlik satellietbeelde.
Brande, beweiding en CO2
Wat veroorsaak bosverdigting? Dr. Nicola Stevens, deesdae verbonde aan die Universiteit van Oxford se Environmental Change Institute, ondersoek al lank hierdie vraag in Suid-Afrika en elders. Sy verduidelik dit soos volg: “Hoe grond bestuur word, speel ’n groot rol. As jy geen veldbrande toelaat nie, dan vermeerder die bome en struike in ’n savannelandskap. Mettertyd verdwyn baie van die gras, want dit groei nie in bome se skadu nie.
“Ons weet ook dat wanneer aanhoudende en hewige beweiding die gras drasties verminder, kan meer bome vestig, want hulle hoef nie meer met die gras mee te ding nie. As mense blaarvretende diere uit die sisteem verwyder, dan neem die houtagtige biomassa ook toe.”
Maar dis nie al nie. “Boere het opgelet dat selfs al bestuur hulle hul grond op dieselfde manier as hul grootouers 70 jaar terug, neem die aantal bome steeds toe. Dit is omdat die omgewingstoestande verander het. Die klimaat het verander en daar is danksy die mens nou meer koolstofdioksied in die atmosfeer. Op party plekke reën dit meer en daar is meer intense reënval, wat bome bevoordeel,” vertel Stevens.
“Die hoër vlakke koolstofdioksied in die atmosfeer gee ook vir bome ’n voordeel bo grasse. Dit laat bome toe om ekstra koolhidrate te vervaardig wat hulle vinniger laat groei, makliker van brande laat herstel en met minder water dieselfde grootte laat bereik. Grondbestuur, hoër reënval en meer koolstofdioksied kan elk op hul eie bosverdigting veroorsaak, maar die wydverspreide bosverdigting wat ons in Afrika sien, word waarskynlik deur ’n kombinasie van al hierdie faktore veroorsaak.”
Lees die volle berig op die skakel bo-
VRYEWEEKLBLAD- Pieter Botha