DODGE RAM

Die Kiwivrug- Suid Afrika

Die kiwivrug, of Sjinese appelliefie (dikwels verkort tot net kiwi buite Nieu-Seeland), is die eetbare bessie van ’n houtagtige rankplant in die genus Actinidia.

Die algemeenste kultivar kiwivrug, die Hayward, is ovaalvormig en ongeveer die grootte van ’n groot hoendereier (5-8 cm in lengte en 4,5-5,5 cm in deursnee). Dit het ’n veselagtige, dowwe groenbruin skil en heldergroen of goue vlees met rye klein, swart, eetbare sade. Die vrugte het ’n sagte tekstuur en ’n soet maar ’n unieke smaak, en word vandag kommersieel verbou in verskeie lande, soos Italië, Nieu-Seeland, Chili, Griekeland en Frankryk. Kiwi’s is dalk nie so volop in Suid-Afrika nie, maar styg die vraag na dié vrugte wêreldwyd vinniger as die aanbod.

“Groot geld word nou belê om die plaaslike bedryf uit te brei, want danksy ’n goeie markgaping, aangepaste kultivars en gesonde verbouingstoestande kan die verbouing van kiwi’s nou selfs die inkomste uit bloubessies klop,” lui die artikel. “Bloubessies, neute, avokado’s en... kiwivrugte. Dís die vier kommoditeite in die vrugtewêreld wat tans teen ’n stywe pas groei, glo mnr. Roelof du Toit van TopFruit se kiwiafdeling. “En kiwi’s het die meeste potensiaal as gevolg van die lae hoeveelhede wat tans wêreldwyd gelewer word.”

Oor die vraag – plaaslik en internasionaal – na kiwivrugte bestaan daar geen twyfel nie, want dit is oraloor gewild. Danksy nuwe kultivars wat die Suid-Afrikaanse klimaat beter pas en ook lekkerder smaak, verbeterde produksietegnieke, gesonde plante en ’n aantreklike gaping in die mark, is daar baie min wat in Suid-Afrika se pad staan om ’n gerekende kiwiproduserende land te raak.”

Gesondheidsvoordele van kiwivrugte

Daar tien gesondheidsvoordele waarop kiwivrugte aanspraak maak:

1. Dit is ’n baie goeie bron van anti-oksidante met hoë vlakke van vitamiene C en E. Volgens navorsing bevat kiwivrugte meer vitamien C as lemoene. Die vitamien E in kiwi’s help met die verlaging van cholesterolvlakke en beveg vrye radikale. Dan is kiwivrugte ook ryk aan polifenole wat help om weerstand teen siektes op te bou.

2. Kiwi’s werk veroudering teen en verbeter velgesondheid. Volgens navorsing wat gepubliseer is in die Joernaal van Sellulêre Fisiologie, kan die polisakkariede in kiwivrugte die sintese van kollageen in die liggaam verdubbel in vergelyking met normale omstandighede wanneer hierdie aktiwiteit verminder as ons ouer word. Kiwi’s is ook die gasheer vir karotenoïed en ’n antioksidant genoem luteïen, wat baie voordelig is vir velgesondheid deurdat dit die vel teen UV-lig beskerm.

3. Verbeter respiratoriese gesondheid. Kiwivrugte en ander vrugte hoog in vitamien C word suksesvol gebruik om ’n aantal respiratoriese siektes te behandel. Twee studies het ’n verbetering in respiratoriese funksies getoon by beide volwassenes en kinders wat aan asma ly nadat kiwivrugte by hul dieet gevoeg is. Beide studies het tot die gevolgtrekking gekom dat die vrugte danksy die hoë konsentrasie van vitamien C gehelp het om die simptome van hierdie pasiënte te verlig.

4. Bevorder sig en voorkom oogsiektes. Die voorkoms van luteïen in kiwivrugte is nie net goed vir velgesondheid nie, maar help ook om ouderdomsverwante makulêre degenerasie in die oog te vertraag. Luteïne beskerm die oog deurdat dit skadelike kortgolflengte UV-lig filtreer. Saam met die luteïen bevat kiwivrugte ook ’n groot hoeveelheid vitamien A, wat ook meehelp met die optimale gesondheid van die oog.

5. Help met die verteringsproses. Kiwivrugte het in studies belofte getoon as ’n behandeling van derm- en verteringsteurnisse. ’n Aantal studies het getoon kiwi’s help met komplikasies wat verband hou met die vermindering van prikkelbaredermsindroom asook dermontsteking.

6. Verbeter die kardiovaskulêre stelsel. Danksy die kalium in kiwivrugte help dit met die verlaging van hoë bloeddruk met dus ’n laer risiko van ’n beroerte, bloedklonte en kardiovaskulêre siektes. Dit is ook ’n vasodilator wat die are in die liggaam laat ontspan. Die vesel en vitamien K help met die opbou van kalsium wat die risiko vir hartaanvalle verminder. Kiwivrugte is ook ’n goeie bron van omega 3, magnesium, vitamien E en koper, wat almal help om die kardiovaskulêre stelsel behoorlik te laat werk.

7. Bevorder beengesondheid. ’n Tekort aan vitamien K veroorsaak swak beengesondheid. Studies dui daarop dat ’n dieet ryk aan vitamien K beengesondheid kan verbeter en die risiko van beenbeserings en siektes soos osteoporose kan verminder.

8. Bekamp slaapprobleme. Die serotonien in kiwi’s het deelnemers aan studies in hierdie verband gehelp om beter te slaap. Daar is ook bewys gelewer dat serotonien die geheue en gemoedstoestand van pasiënte bevorder het.

9. Kankerbevegter. Vir baie jare is die bome in die Actinidia-familie (kiwi-bome) in China gebruik as medisinale plante vir die behandeling van kwale soos gewrigspyn, nierstene en kanker van die lewer en slukderm. Beide die vrugte en wortels van kiwi’s het ’n inhiberende uitwerking op menslike lewer-, long- en kolonkanker-selgroei getoon.

10. Antifungale en antibakteriese vermoëns: In verskeie studies is kiwi’s se antifungale en antibakteriese vermoëns bewys. Dis oënskynlik in die saadjies van die vrug waarin hierdie eienskap opgesluit lê.

Kiwi Farming in South Africa is growing.

Plant jou eie kiwiplante Kiwi’s is bekend daarvoor dat hulle goed bestand is teen siektes en peste. Die plante word  gewoonlik so 5 x 2 m uitmekaar geplant. Dis ’n tweeslagtige gewas en daarom word manlike plante teen ’n verhouding van 1:4 tussenin geplant. Na gelang van bestuiwingsmetodes kan dit gerek word na 1:8.

Bestuiwing gaan jou grootste suksesfaktor wees. Jy moet bye hê, maar dit kan ook met die hand gedoen word. Dit word, soos tafeldruiwe, met ’n prieelstelsel opgelei en daar word aanbeveel dat kiwiplantasies onder netstrukture gevestig moet word omdat die plante gevoelig is vir wind- en sonbrandskade. Dit raak gevaarlik bo 35 °C, maar hoe ouer die plant word, hoe meer bestand raak dit teen hitte. Die plant word sowat 2 m hoog opgelei met die nette wat minstens 2 tot 4 m bo dit gespan word. Hoe hoër, hoe beter is die kans dat bye suksesvol daar sal werk. Kiwiplante begin ná drie jaar vrugte dra en bereik teen die vyfde jaar volle produksie.

In Suid-Afrika maak boere staat op 40 t/ha, hoewel toetsblokke gemaklik 30 t/ha lewer. Aangesien die plant (soos ’n wingerdstok) op twee jaar oue lote vrugte dra, word die ou lote wintertyd weggesnoei. In die somer is dit belangrik om loofbeheer toe te pas en die lighuishouding in stand te hou, maar ook seker te maak die vrugte is beskerm teen sonbrand. Kiwiplante kan lekker dors raak en het sowat 10 000 m³ water per ha nodig om te floreer, maar grondtipe en vruglading sal uiteraard ook ’n rol speel. Vanweë die groot wortelstelsel word mikrospuite aanbeveel. Die plant se huidmondjies gaan nooit volledig toe nie, daarom respireer dit die hele tyd. Moet egter nie skrik vir al die water nie, want die winsgrense laat toe om op minder hektare te boer vir dieselfde geld.

Aangesien kiwivrugte betreklik min het wat hom pla en dus min bespuitings verg, is dit een van die maklikste gewasse om organies te verbou, wat goed is vir die boer se sak. Indien jy oorweeg om jou eie kiwibome te plant – hetsy vir tuisgebruik of boerdery – kan die volgende as riglyn dien: • Kies die plant wat die beste by jou voorkeure en plaaslike klimaat pas. Oor die algemeen benodig alle kiwi’s ’n gematigde klimaat met koel winters en warm somers. •

Daar is drie hooftipes kiwi, naamlik die gewone kiwi, Actinidia deliciosa, die goue kiwi, Actinidia chinensis, en dan die baba-kiwi of kiwiño waarvan daar twee tipes is, die Actinidia arguta en die Actinidia kolomikta.

Die A. deliciosa is ’n bruin, harige vrug met ’n dik vel en groen pulp. Vir optimale groei benodig jy een maand koue weer met temperature wat wissel tussen -1 en 7,2 °C. Dié kiwiplante aard nie in temperature laer as -17,7 °C nie. Die A.chinensis is soeter, maar meer delikaat as die gewone kiwi. Dit stem baie ooreen met die groen kiwi, maar dis minder harig en geel van kleur. Dit groei die beste in gebiede met minimum wintertemperature wat wissel van -12 tot -1 °C. Die kiwiño’s is heelwat kleiner as die vorige tipes en hul vel is dunner en gladder. Hierdie kiwi’s is baie koueverdraagsaam en word geplant in gebiede met geharde winters. Hierdie spesie sal soms in die eerste seisoen ná vestiging al begin dra.

 Ontkieming Kies watter tipe kiwi jy wil aanplant – die gewone, die goue of die babakiwi. Maak seker jy verstaan elkeen se spesifieke behoeftes en dat jy daarvoor voorsiening sal kan maak. Kry kiwi-sade. Vir grootskaalse boerdery sal dit die beste wees om saailinge deur kiwiboere te bestel waar verskillende variëteite reeds op onderstamme gevestig is om die optimale opbrengs te bereik. As jy egter net vir eie gebruik ’n paar bome wil plant, kan jy die saadjies uit kiwivrugteuit die supermark gebruik. Verwyder die sade uit ’n vars kiwi deur dit met ’n lepel uit te skep en verwyder dan die pulp met water.

Andersins kan jy oor die internet ’n groot verskeidenheid sade aankoop. Onthou ook dat kiwibome tweeslagtig is en dat dit noodsaaklik is om ’n manlike boom saam met die vroulike bome te plant. Laat ontkiem. Plaas die sade tussen twee klam Papierhanddoeke en verseël dit in ’n lugdigte plastieksakkie. Stoor dit in ’n warm area en kontroleer elke dag totdat hulle ontkiem. Maak die papierhanddoek klam indien nodig. Plant die ontkiemde sade. Berei ’n paar plantpotte voor met ’n goeie mengsel bemesting en plant drie of vier saailinge saam in een plantpot.

Plaas die plante op ’n plek met direkte sonlig, soos byvoorbeeld ’n vensterbank. Die jong plante is baie sensitief vir die winterkoue en daarom verkies meeste produsente om die plante binne te hou totdat hulle groot genoeg is om uitgeplant te word. Onthou om jou plante in groter potte oor te plant soos wat hulle groei. Skei hulle van mekaar sodat elkeen in sy eie pot is wanneer die plante sowat 20 cm hoog is.

Plant die saailinge oor Vind ’n geskikte plek vir die plante. Maak seker dat die toestande reg is. Die plant benodig voldoende ruimte vir sy groei. Die meeste kiwiplante groei beter in direkte son of in ’n effense skadukol. Oor die algemeen benodig kiwiplante ’n effens suur grond met ’n pH van 6 tot 6,5. As jou grond baie alkalies is, kan jy dit versuur om die regte toestande vir die verbouing van die plante te skep.

Die grond moet klam wees, maar met goeie dreinering. Bou ’n stewige prieel vir jou plante. Onthou dat kiwi’s rankplante is wat tot 9 m hoog kan groei en baie kan weeg. Soos ander rankplante ontwikkel hulle beter langs vertikale strukture wat ondersteuning en groter toegang tot lig bied. Kommersiële kiwi-produsente gebruik 2 m hoë gespande drade wat elke 5 tot 6 m met ’n T-staaf gestut word. Plant die saailinge oor. Grawe vir elke saailing ’n gat ’n bietjie groter as die huidige pot waarin hy staan. Verwyder elke plant met al die grond uit die pot. Dis belangrik dat die wortels nie in dié stadium versteur of beskadig word nie.

Vul die gat weer op met los grond. Weereens, onthou dat daar ’n mannetjieboom tussen die vroulike bome geplant moet word. Hou jou plante veilig Al is kiwi’s nie vatbaar vir baie siektes nie, is daar wel ander vyande wat die plant kan vreet. Probeer om die kiwi-“kamp” te omhein, want bokkies en veral katte is mal oor die plante! Lei die rankplante op. Dit is nodig om die kiwi-rankplant op te lei tot by die drade van die prieel. Druk ’n stutstok langs elke plant in die grond en bind dit met ’n kabelbinder aan die oorhoofse draad vas om dit in plek te hou.

Bind dan die plant in die middel en ook naby die bopunt met ’n stukkie wol of lap aan die stutstok vas om hom op te lei. Moenie dit te styf vasbind nie sodat die stam plek het om uit te sit. Hou die plante dop. Soos wat dit hoër groei, moet die boonste punt gereeld weer teen die stutstok vasgebind word. Snoei die kiwiplante. Net soos ander vrugtebome moet hierdie plante ook een keer per jaar gesnoei word. Veral in die eerste jare van groei, totdat die plant die oorhoofse prieel bereik het en daaraan geheg is, moet die sylote teruggesnoei word omdat die stam nie die volle gewig sal kan dra nie. Die beste tyd om die vroulike plante te snoei, is in die winter wanneer hulle onaktief is. Die manlike plante kan gesnoei word sodra hulle klaar geblom het. Oes die vrugte sodra hulle ryp is. Die eerste vrugte wat jou kiwiplante gaan dra, mag dalk kleiner weer as wat jy verwag het.

Maar gee kans, met elke jaar sal die vrugte mooier en mooier word. Oestyd breek in die noorde van SuidAfrika (geel kultivars) in Februarie aan en in die Wes-Kaap teen middel Maart. Die groen kultivars is sowat ’n maand tot ses weke later as die geel (of rooi kultivars) oesgereed.


DODGE RAM

LIVE NEWS OF THE DAY