10 redes hoekom ons moet wakker skrik oor klimaatsverandering (veral in SA)

10 redes hoekom ons moet wakker skrik oor klimaatsverandering (veral in SA)

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

’n Nuwe verslag oor aardverhitting sê dat Suider-Afrika teen ’n baie hoër tempo verhit as die res van die wêreld, en dat ons dringend aandag moet gee aan ons ‘klimaatskwesbaarheid’.

Suid-Afrika is vandag tussen 1°C en 2°C warmer as voor die industriële revolusie. ANNELIESE BURGESS gesels met die klimaat-ekonoom Brent Cloete, wat vra: ‘Hoeveel fratsgebeurtenisse moet daar nog wees voordat ons besef daar is nie meer twyfel dat klimaatsverandering gebeur nie, maar dat dit ’n onteenseglike werklikheid is?’
 
Die Climate Vulnerability Monitor (CVM) konsolideer die nuutste navorsing van wetenskaplike literatuur oor klimaatsverandering. Brent Cloete se verslag vir Economic Research Southern Africa (ERSA), een van die medewerkers aan die sogenaamde CVM3-verslag, is een van die heel eerstes wat die soeklig spesifiek op Suider-Afrika plaas. Ons moet nou dringend na hoë vlakke van gereedheid beweeg sê Brent Cloete. Hier is hoekom.

1 Klimaatsverandering versnel vinniger in Suider-Afrika as op ander plekke.
Wêreldtemperature het reeds met 1.1°C gestyg. Verdere klimaatsverandering is onafwendbaar, en met elke fraksie waarmee dit opgaan, raak die uitdagings ernstiger. Daar is tans drie wêreldscenario’s vir aardverhitting: 1.5°C, onder 2°C, of die ekstreme scenario waar verhitting na 3.6°C (of hoër) styg.

Botswana, Lesotho, Namibië, Eswatini en Suid-Afrika raak vinniger warm as wat die internasionale gemiddelde is. Trouens, die data dui daarop dat dit dubbeld die wêreldgemiddelde is. Botswana is die kwesbaarste land uit die vyf, met gemiddelde temperature wat tot met ’n addisionele 5.1°C kan styg onder die ekstreme scenario.

Suider-Afrika is besonder kwesbaar vir klimaatsverandering as gevolg van sy ligging: Dit is reeds ’n warm en droë deel, en klimaatsverandering sal veroorsaak dat dit in die toekoms nog erger word.

2 Ekstreme weerinsidente sal toeneem. En vinniger op mekaar geskied.
Al sou die globale aardverhitting onder 2°C gehou kon word, sal Suider-Afrika steeds teen 2090 meer as 10 bykomende ernstige droogtes elke 20 jaar moet trotseer. Dit sal hand aan hand gaan met al hoe meer ekstreme reëngebeure. “Ons sal minder reën hê, maar dit sal in korter, sterker, meer ekstreme vlae kom, wat ons nou reeds al hoe meer in Suid-Afrika en die streek sien gebeur,” sê Cloete.

Ekstreme hittegolwe. Vloede. Veldbrande. Seevlakke wat styg. Die uitwerking van klimaatsverandering sal ons op baie verskillende vlakke tref.

In 2021 het die sekretaris-generaal van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie, Petteri Taalas, byvoorbeeld reeds aangedui dat Afrika 700 groot natuurrampe die vorige jaar moes oorleef. Meer as die helfte daarvan was vloede. Hy het ook gesê dat hoër seevlakke baie kusstede, soos Lagos, en die laaste gletsers in Oos-Afrika bedreig.

3 Die data lieg nie.
Globale temperature is nou hoër as enige tyd tydens die afgelope 125 000 jaar. Die wêreld is vandag 1.1°C warmer in vergelyking met pre-industriële vlakke. Suider-Afrika, daarenteen, is reeds tussen 1 en 2°C warmer. Terwyl die temperature geleidelik toegeneem het, het die impak daarvan eers regtig die laaste vyf tot tien jaar duidelik geraak. Die Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) se gesaghebbende Sesde Assesseringsverslag wat in 2021 uitgereik is, het die resultate van menige internasionale studie oor die afgelope dekade bekyk en ’n baie duidelike patroon opgemerk. Daar is meer klimaatverwante rampe as wat verwag is, dit raak erger, en dit gebeur vinniger as wat wetenskaplikes verwag het.

“Dit is nie meer ’n bespreking nie. Aardverhitting en die daarmee gepaardgaande klimaatsverandering is hiér. En ons moet ook in ag neem dat, gebaseer op die resultate van die sesde assesseringsverslag, ons modelle miskien nie sensitief genóég is nie, en dat die impakte in die toekoms selfs vinniger en erger kan wees.”

Maar wat van mense wat sê ons het nog altyd vloede gehad; ons het nog altyd droogtes gehad? “Fratsgebeurtenisse raak al hoe meer algemeen. As ’n frats aanhou gebeur, is dit nie meer ’n frats nie – dis ’n patroon,” sê Cloete.

  Our future climate depends partly on soil microbes—but how are they affected by climate change?

4 Landbou sal groot aanpassings moet maak
Suid-Afrika gaan reeds gebuk onder ’n watertekort. En dit beteken dat ons baie kwesbaar is vir die implikasies van klimaatverwante voedselonsekerheid.

Hoër temperature sal die lewensiklus van gewasse verkort en dit sal tot laer opbrengste lei. En droogtes sal hulle tol eis. Hier word veral gekyk na mielies en koring, maar die impak op mielieproduksie gaan besonder ernstig wees. Die verslag se resultate stem ooreen met vorige navorsing wat bevind het dat onder ’n scenario waar verhitting 3°C tref, mielieproduksie sonder besproeiing nie meer lewensvatbaar in Suid-Afrika sal wees nie. Daar sal dus sal na alternatiewe gewasse soos soja gekyk moet word, of meer invoere sal nodig wees.

Klimaatsverandering sal ook gepaard gaan met ’n negatiewe uitwerking op arbeidsproduktiwiteit, hoër voedselpryse en die moontlike ontwrigting van voorsieningskettings. “In ’n wêreld wat teen die einde van die eeu 2°C warmer is, sal 4.3% van die ure wat werkers sonder beskerming buite kan werk, in die vyf lande nie meer moontlik wees nie.”

5 Mense kan suidwaarts migreer
“Namibië, Botswana en Suid-Afrika het in globale terme relatief gemiddelde klimaatsveranderings. Lesotho en Eswatini s’n is laer, maar die res van Afrika suid van die Sahara is baie kwesbaar vir klimaatsverandering, en van dié lande is trouens van die mees kwesbare in die wêreld. En suidwaartse migrasie, weg van die ergste brandpunte en impakte van klimaatsverandering, is ’n logiese uitvloeisel,” sê Cloete, alhoewel klimaatverwante verplasing en migrasie nie spesifiek in die CVM3 bespreek word nie.

Die verskille in kwesbaarheid tussen die drie grootste ekonomieë in Suider-Afrika en die res van die lande suid van die Sahara beteken dat mense sal wil wegbeweeg van plekke waar natuurrampe en ander ernstige impakte van klimaatsverandering die lewe moeilik maak. Daar word geraam dat daar in Afrika teen 2030 reeds 118 miljoen arm mense sal wees wat aan die verwoestende impak van droogtes, intense hitte en vloede uitgelewer sal wees.

Die potensiaal van immigrasie wat sosiale onstabiliteit kan veroorsaak – veral in ongelyke en lae-groei-omgewings – word reeds in Suid-Afrika ervaar. Klimaatsverandering kan hierdie situasie vererger.
Brent Cloete


6 Nuwe oordraagbare siektes
Namate die klimaat in sekere streke verander, sal die patrone van sekere oordraagbare siektes ook verander. Die CVM3-verslag verwys byvoorbeeld na die moontlikheid van malaria wat in Lesotho kop uitsteek of denguekoors wat in Suid-Afrika, Namibië, Botswana en Eswatini kan losbrand.

7 Minder water, meer veldbrande
Vars water, wat reeds ’n uiters skaars kommoditeit in Suider-Afrika is, sal nog minder raak weens die afname in reënval en ’n toename in verdamping, luidens hierdie verslag van Bob Scholes en Francois Engelbrecht van die Universiteit van die Witwatersrand. Engelbrecht was ’n medewerker aan die IPCC se Sesde Assesseringsverslag. “Die hoeveelheid, intensiteit en duur van hittegolwe in Suid-Afrika gaan sterk toeneem.”

Die toenemend droë omstandighede sal ook ander implikasies hê, soos baie meer, en intense veldbrande. Luidens die CVM3-verslag sal in ’n “2°C-wêreld elke persoon in die vyf Suider-Afrika-lande aan 11.14 ekstra dae van baie hoë of uiters hoë veldbrandgevaar blootgestel wees”.

 8 Groot impak op biodiversiteit
Luidens die Scholes/Engelbrecht-verslag verkeer duisende spesies, waarvan baie net in Suider-Afrika voorkom, onder toenemende druk van voortydige uitwissing. Die verlies aan biodiversiteit hou nie net ernstige gevolge in vir die algemene welstand van mense nie, maar ook vir die ekonomie, en dit verswak ook die streek se vermoë om by klimaatsverandering aan te pas.

9 Aanpassing én verligting moet gebeur
Verligting (mitigation) verwys na wat ons kan doen om aardverhitting so laag as moontlik te hou. Aanpassing (adaptation) gaan oor wat ons kan doen om die impak van klimaatsverandering te bestuur.

Bo 1.5°C (’n scenario wat nou al hoe meer waarskynlik lyk) gaan weerlose lande en gemeenskappe sukkel om aan te pas. Cloete sê hierdie dekade is ons laaste kans om klimaatsverandering se onafwendbare opmars te stuit, en verhitting onder die “infleksiepunt” van 1.5°C te hou.

10 Wat ons kan doen om die impak van klimaatsverandering te bestuur
“Hoe en óf ons die impak van klimaatsverandering kan hanteer, hang af van die langtermyn-beplanning wat ons nou doen, met inagneming van wat ons weet gaan kom,” sê Cloete.

“Ons sal ook moet aanpassings maak vir hitteverwante sterftes onder veral ouer mense. In 2005 was daar 850 hitteverwante sterftes onder ouer mense in Suid-Afrika. In ’n scenario waar temperature wêreldwyd met 2°C styg, kan dit styg tot 12 000 mense per jaar,” sê Cloete.

Een manier waarop ons hierdie risiko’s sal moet vooruitloop, is om ons stadsontwerpe en boumetodes te verander. “Ons sal die hoogwatermerk moet aanpas vir waar ons kan bou; ons sal bouregulasies moet aanpas sodat geboue beter geïnsuleer word; ons moet meer groen ruimtes hê; en ons moet kyk na kostedoeltreffende oplossings soos “cool roofing” (’n dak wat sonlig weerkaats en dus minder sonenergie absorbeer) en “cool pavements” (padoppervlakke waar bymiddels gebruik word om sonradiasie te weerkaats eerder as om dit te absorbeer soos konvensionele donker oppervlakke).

Daar sal baie meer aandag gegee moet word aan sogenaamde “biologiese veerkragtigheid”, sê Cloete. “Vleilande is byvoorbeeld die natuur se manier om ons teen vloede te beskerm, maar in Suid-Afrika beskerm ons nie ons vleilande nie. Ons sal moet kyk na hoe ons riviere se water kanaliseer om die impak van vloede te minimaliseer.

Wat die gesondheidskwessies betref waarvoor ons te staan gaan kom, gaan dit ook weer oor beplanning. “Ons moet waarneming, vroeë waarskuwing- en reaksiestelsels in werking hê om klimaatverwante risiko’s soos nuwe pandemies te identifiseer, verhoed en bestuur”.

Dieselfde met wat ons weet in ’n stadium op voedseltekorte en voedselonsekerheid gaan afstuur. Ons moet daarvoor beplan. Ons moet na alternatiewe landboumetodes en alternatiewe gewasse kyk en hoe om voedselmarkte in die streek beter te laat werk.

Dit kom alles neer op beplanning. Klimaatverwante gebeure gaan meer ekstreem raak. Gereelder. En duurder. “As daar een ding is wat ons uit die verwoesting van die onlangse vloede in KwaZulu-Natal kan leer, is dit dat dit nie help om ná die tyd te probeer opvang nie. Ons moet ons veerkragtigheid bou deur vooruit te beplan vir wat kan gebeur. Dit help nie ons probeer elke keer ná ’n verwoestende vloed herbou nie, want ons gaan dit dan net aanhou doen. En dit is nie volhoubaar nie,” sê Cloete.

“Daar is geen veilige vlak van klimaatsverandering nie. Om [temperatuurstyging] onder 1.5°C te hou is die beste moontlike scenario wat ons nou het, maar selfs in hierdie scenario is daar groot, groot risiko’s waarvoor ons moet beplan. Want die impak daarvan is reeds hier. En ná die 1.5°C-infleksiepunt raak impakte vinnig baie ernstiger. Bo 2°C gaan ons vermoë om te beplan en reageer al hoe moeiliker raak, want die modelle raak dan wankelrig. En nader aan 3°C is ons op ’n terrein waar ons vermoë om te kan voorspel wat met die weer gaan gebeur, drasties afneem.”

LEES NOG meer op VRYEWEEKBLAD

Anneliese Burgess

Mederedakteur

Anneliese Burgess is mederedakteur van Vrye Weekblad.