SUIKER is sleg vir jou; daarmee stry min mense nog. Maar die groter hoeveelhede plaasvervangers vir suiker wat ons deesdae inneem – soms sonder dat ons dit besef – het dalk implikasies vir onder meer ons metabolisme en spysverteringstelsel waaroor daar nog nie omvattende navorsing gedoen is nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het verlede jaar ’n konsepdokument met voorlopige riglyne oor die gebruik van suikerplaasvervangers gepubliseer. Die WGO benadruk dat dié dokument deel van die konsultasieproses met die publiek is, en dat die navorsing daaroor nog baie beperk is, maar doen tog ’n voorlopige aanbeveling dat sulke versoeters “nie gebruik word as ’n manier om gewigbeheer te bereik of die risiko van nie-oordraagbare siektes te verminder nie”, en dat die inname daarvan beperk word weens hulle potensiaal vir “ongewenste” langtermyn-uitwerkings, waaronder ’n nadelige uitwerking op derm- en metaboliese gesondheid.
Dis ook moontlik dat suikerplaasvervangers in sommige gevalle kan lei tot ’n groter eetlus en selfs insulienweerstandigheid, wat weer ’n voorloper van tipe 2-diabetes kan wees.
The Washington Post het vroeër vandeesmaand in ’n artikel onder die opskrif “How fake sugars sneak into foods and disrupt metabolic health” breedvorig gewys op die potensiële gevare van sulke produkte.
Die skrywers van die artikel, Anahad O’Connor, Aaron Steckelberg en Laura Reiley, wys daarop dat ’n hele rits versoeters deesdae in kos voorkom met name wat vir baie verbruikers vreemd sal wees, soos sukralose (sucralose), stevia, allulose en eritritol (erythritol). Dis ook lankal nie meer net in sogenaamde dieetkoeldranke of ander produkte wat spesifiek op verslankers gemik is nie: onder meer bevat brood, jogurt, hawermout, sop, slaaisouse, speserye en allerhande peuselkosse ook deesdae dikwels suikerplaasvervangers wat min of geen kilojoules bevat nie (sogenaamde nievoedsame versoeters).
Dis nie ’n geval van produsente wat iets op die publiek afdwing nie; die Amerikaanse marknavorsingsgroep Mintel sê byna drie uit vyf verbruikers verkies deesdae produkte met minder suiker ter wille van hulle algemene gesondheid, en dus ook nie omdat hulle op een of ander spesiale dieet is of probeer gewig verloor nie. Jy vind sulke produkte ook nie meer net op ’n spesiale rak iewers in die supermark nie, dis deesdae in elke winkelgang.
Suikerplaasvervangers kan as kunsmatig (sinteties) gereken word, soos sukralose, aspartaam en sakkarien. Daarenteen word plaasvervangers soos allulose en stevia as natuurlik beskou omdat hulle van plante afkomstig is. In albei gevalle kan suikerplaasvervangers ook onderskei word op grond van die intensiteit waarmee hulle iets versoet, in sommige gevalle tot soveel as honderde kere meer intens as tafelsuiker. Sakkarien kan byvoorbeeld tot 700 keer soeter as tafelsuiker wees.
Verbruikers wil steeds die soetigheid van suiker in hulle kos hê, maar nie die suiker self nie. En as plaasvervanger verkies hulle natuurlike bo kunsmatige alternatiewe. Die Amerikaanse mark vir natuurlik versoete laesuikerprodukte is vier keer groter as dié vir kunsmatig versoete ekwivalente, en dit groei ook vinniger.
Tafelsuiker, oftewel sukrose, is steeds die dominante manier om kos te versoet, maar die gewildheid daarvan is besig om af te neem soos wat die assosiasie daarvan met chroniese siektes en obesiteit toeneem. Die aantal nuwe voedselprodukte in die Amerikaanse mark wat sukrose bevat, het die afgelope vyf jaar met 16% gedaal.
Dié tendens sal verder momentum kry met voorgestelde nuwe riglyne wat in September verlede jaar deur die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) gepubliseer is oor wanneer die verpakking na ’n produk as “gesond” mag verwys – iets wat vir baie verbruikers ’n deurslaggewende oorweging is.
Dit sluit in streng nuwe reëls oor bygevoegde suiker. En om aan dié nuwe reëls te voldoen, sal baie produsente toenemend bygevoegde suiker in voedsel met kunsmatige versoeters vervang. Dis presies wat gebeur het in ander lande waar soortgelyke regulasies ingestel is, soos Chili en Australië, en waarskynlik ook in Suid-Afrika.
Wetenskaplikes het aanvanklik gedink nievoedsame versoeters is grootliks inert, dit wil sê hulle aktiveer bloot die soet reseptore op ons tonge en beweeg dan deur ons liggaam sonder om metaboliese veranderinge te veroorsaak. Maar daar is verskeie tekens dat dinge dalk nie so eenvoudig is nie, skryf die Post.
’n Studie onder leiding van prof. Jotham Suez van die Johns Hopkins Bloomberg School of Public Health in Maryland het byvoorbeeld gekyk na wat gebeur as mense aspartaam, sakkarien, stevia of sukralose gegee is in hoeveelhede wat ver ónder die FDA se daaglikse aanbevole riglyne was. Hulle het bevind dat hierdie versoeters veranderinge veroorsaak het in die funksie sowel as die samestelling van die deelnemers se derm-mikrobiome (die gemeenskappe van bakterieë, virusse en swamme wat in die ingewande leef):
My gesondheid- My gewig dis my verantwoordelikheid
“Collectively, human non-nutritive sweeteners consumption may induce person-specific, microbiome-dependent glycemic alterations, necessitating future assessment of clinical implications.”
In leketaal gestel: Hierdie middels veroorsaak by sommige mense veranderinge wat verdere navorsing vereis. En om te benadruk: “Sommige deelnemers het meer dramatiese reaksies op die versoeters gehad as ander, wat daarop dui dat hierdie verbindings verskillende effekte in verskillende mense kan hê.”
Ander laboratoriumstudies, soos hierdie een in 2018 deur die hoogaangeskrewe prof. Yanina Pepino, dui daarop dat drankies wat met sukralose gemaak word insulienweerstandigheid in sommige individue kan bevorder, wat uiteindelik tot diabetes kan lei.
Maar soos Suez waarsku Pepino ook:
“Clearly, much more needs to be learned about the effects of sucralose and other LCSs [low-calorie sweeteners] on metabolism to inform clinical practice and public health recommendations on the use of these food additives. LCSs are a structurally diverse group of chemicals, and although all activate the sweet taste receptor, results from one LCS cannot be necessarily generalized to another.”
Wat moontlik gebeur, is dat die brein die vlak van soetigheid “lees” as ’n aanduiding van hoeveel kilojoules op pad is – hoe soeter, hoe meer kilojoules word verwag. En omdat die plaasvervangers gewoonlik soveel soeter as natuurlike suiker is, maar terselfdertyd min of geen kilojoules bevat nie, is daar ’n drastiese verskil tussen die “beloofde” en die werklike getal kilojoules wat die liggaam moet hanteer. En dis dié verskil wat die brein en die res van die liggaam só verwar dat die gevolge onvoorspelbaar kan wees.
By sommige mense kan suikerplaasvervangers byvoorbeeld tot ’n selfs sterker drang na soetigheid lei, wat beteken hulle wil met hulle volgende maaltyd meer eet én meer soetighede inneem.
Boonop, skryf die Post, kan soet geure, hetsy van suiker of van plaasvervangers, ’n kragtige effek op die brein se beloningsentrum hê. Byvoorbeeld, in laboratoriumstudies waar rotte kan kies tussen kokaïen – waarvoor hulle normaalweg nogal lief is – of water wat met sakkarien versoet is, verkies hulle byna altyd die water.
Dis die einste studies met rotte wat navorsers aanvanklik laat vrees het dat suikerplaasvervangers kanker kan veroorsaak, maar die konsensus deesdae is dat dit nié die geval is nie. Die American Cancer Society sê daar is “geen duidelike bewyse dat hierdie versoeters, op die vlakke wat tipies in menslike diëte verbruik word, kanker veroorsaak nie”.
Maar oor ander ernstige siektes is daar minder konsensus. In hierdie studie wat in September verlede jaar in The BMJ (voorheen die British Medical Journal) gepubliseer is, is byvoorbeeld bevind dat ’n hoë inname van kunsmatige versoeters die risiko van kardiovaskulêre probleme soos beroertes en koronêre hartsiektes verhoog het. En ’n studie wat verlede maand in Nature Medicine gepubliseer is, dui op ’n verwantskap (“associated with”) tussen die suikervervanger eritritol en ’n hoër voorkoms van hartaanvalle en beroertes. Maar weer eens word die noodsaak van verdere navorsing beklemtoon:
“Our findings reveal that erythritol is both associated with incident MACE [Major Adverse Cardiac Events] risk, and fosters enhanced thrombosis. Studies assessing the long-term safety of erythritol are warranted.”
Dié studie is heftig betwis deur onder andere die Amerikaanse Calorie Control Council, wat die metodologie daarvan bevraagteken het en gesê het die resultate is “strydig met dekades se wetenskaplike navorsing”.
So wat nou?
Wel, wat jy beslis nié moet doen nie, is om jou oor te gee aan regte suiker – dié is sonder twyfel sleg vir jou, en hoe meer daarvan, hoe slegter.
Wat plaasvervangers betref: Dis ingewikkeld, en “meer navorsing is nodig”. Totdat ons meer weet oor presies watter van hierdie middels onder watter omstandighede en in watter hoeveelhede dálk nadelig kan wees, is die naaste aan ’n konsensus blykbaar die goeie ou “hou matigheid voor oë”.
En omdat matige gebruik onmoontlik is as jy nie eens weet wanneer jy daarvan inkry nie, wil organisasies soos die American Academy of Pediatrics hê die FDA moet kosvervaardigers verplig om spesifiek aan te dui as ’n produk ’n suikerplaasvervanger bevat, watter middel dit is, en hoeveel daarvan dit in het.
Wat beteken die enigste ander sinvolle wenk vir eers is: “Lees die etiket voor jy iets eet of drink.”