Die produksie toestande in die N-Wes Vrystaat en die N-Wes Provinsie lyk op die oomblik baie sleg en feitlik geen mielies of ander somergewasse is al in hierdie gebiede geplant nie.
Die optimum planttyd is reeds verstreke en die uiters swak produksie wat in hierdie twee gebiede verwag kan word sal ‘n baie groot invloed op die totale mielie-oes vir hierdie seisoen hê. Aangesien daar op hierdie stadium nog geen aanduiding is hoeveel hektaar reeds geplant is en nog geplant kan word nie, is dit op die oomblik geensins moontlik om ‘n oesskatting te maak nie.
Hierdie twee gebiede produseer gemiddeld sowat 72% van die land se totale witmielie-oes en is van die beste kwaliteit ter wêreld, aangesien dit deur die son gedroog word en nie in droogoonde soos in die meeste ander mielieproduserende lande in die wêreld nie. In hierdie lande word mielies reeds gestroop wanneer dit nie droog genoeg is nie, vanweë die nat en vogtige weerstoestande.
Baie min witmielies word in die wêreld geproduseer omdat dit net in die Afrika-lande as ‘n stapelvoedel verbruik word, terwyl die ander lande hoofsaaklik geelmielies as dierevoeding produseer. Daarom is dit nie altyd maklik om witmielies op die internasionale mark aan te koop om in te voer nie. Geelmielies moes by witmielies ingemeng word na die baie ernstige droogte wat die land in 1991/92 ondervind het, toe skaars een ton mielies per hektaar geproduseer was. Hierdie gemengde mielies was nie baie gewild onder die plaaslike verbruikers nie omdat hulle baie eerder spierwit mieliemeel verkies.
Die vorige regering was egter in daardie seisoen bereid gewees om die mielieprodusente met die produksieverliese wat hulle gely het finansieel by te staan deur R3,8 miljard as noodhulp te bewillig, en ook skuldoorlaatskemas teen laer rentekoerse in te stel.
Hierdie seisoen is hulle ongelukkig weer totaal blootgestel aan ‘n rampdroogte en sal soos gewoontlik geen hulp van die ANC-regering ontvang nie. Hierdie regering verstaan eenvoudig nie watter belangrike rol die landboubedryf speel onder baie moeilike omstandighede as die verskaffer van voedsel en ander grondstowwe aan die res van die ekonomie nie, omdat die skep van ekonomiese groei nie ‘n deel van sy vernietigende sosialistiese en kommunistiese herverdelings ideologie is nie. Die herverdeling van grond sal ongetwyfeld baie groot probleme nog vir die regering skep omdat baie swartboere tydens ‘n enkele rampdroogte, soos tans ondervind word, totaal finansieel uitgewis sal word.
Soos sake egter nou staan, is dit baie duidelik dat hierdie produksiegebiede heel waarskynlik nie hierdie seisoen eers 30% tot 40% van die gemiddelde witmielies-oes wat normaalweg in hierdie gebiede geproduseer word, sal lewer nie.
Die variasiekoëffisiënt vir die gemiddelde langtermyn mielie-opbrengs in Suid-Afrika van 4 ton per hektaar beloop 25%, wat beteken dat die totale oes gedurende enige seisoen tussen 3 ton en 5 ton per hektaar kan wees en moet as die normale variasie vir mielieproduksie aanvaar word onder die klimaatstoestande wat in Suid Afrika ondervind word. Met ander woorde, die gemiddelde opbrengs vir hierdie seisoen kan enigiets rondom die onderste afwyking van 3 ton per hektaar wees. As 'n totale oppervlakte van 2 miljoen hektaar, wat baie twyfelagtig is, hierdie seisoen geplant sou word, beteken dit 'n totale oes van slegs 6 miljoen ton geproduseer sal word. Indien slegs 1,5 miljoen hektaar geplant sou word kan die totale oes selfs so laag as 4,5 miljoen ton wees.
Onder hierdie scenario's sal die ongeveer 3,3 miljoen ton mielie-oordragvoorraad wat na raming beskikbaar sal wees in die land vir die nuwe bemarkingsjaar wat op 1 Mei 2019 begin, nie voldoende wees vir die totale vraag na mielies van tussen 10 en 11 miljoen ton vir die land self en ons buurlande Namibië, Botswana, Swaziland en Lesotho nie. Dit beteken dat mielies teen baie hoër invoerpariteitspryse ingevoer sal moet word, wat hoofsaaklik bepaal sal word deur die veranderings in die internasionale mieliepryse en die wisselkoers. Hierdie omstandighede kan gevolglik 'n baie negatiewe uitwerking in 2019 op die ekonomiese groeikoers vir die tweede en derde kwartale hê in vergelyking met dieselfde kwartale vanjaar, sowel as die inflasiekoers.
ooooooOoooooo
Bothaville
25 Desember 2018
Navrae: 082 573 5661