Agri SA ongelukkig oor grondbeleidsonsekerheid, droogtekrisis

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Agri SA verwelkom President Cyril Ramaphosa se staatsrede. Agri SA benadruk en verbind hom tot President Ramaphosa se stelling dat dit elke Suid-Afrikaner se verantwoordelikheid is om vooruitgang te verseker.

 
'Die President se verbintenis om die Suid-Afrikaanse skip uit moeilike waters te stuur kan geprys word,' sê Dan Kriek, Agri SA President.

'Dié staatsrede moet gesien word teen die agtergrond van grootskaalse korrupsie, 'n verswakte ekonomie, die aftakeling van instellings en die haglike toestand van semi-staat instellings soos Eskom wat vir jare lank Suid-Afrika gekenmerk het. Dit is nou tyd om hande te vat en saam te werk.'

Dit is egter jammer dat die beleidsonsekerheid oor grond, landelike veiligheid en droogtekrisis, nie aandag geniet het nie.

'Dit is kommerwekkend dat hy niks oor die erge en voortslepende droogte wat verskeie provinsies raak genoem het nie, en geen melding van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede gemaak het nie,' sê Kriek. 'Boere is onder druk weens beleidsonsekerheid en die effek van misdaad en -droogte. Die President moet aan die sektor die ondersteuning gee om volhoubaar te kan wees.'

President Ramaphosa het wel erkenning aan die landbousektor gegee en die waardevolle bydrae wat dit tot die ekonomie lewer. Hy sê dié sektor is goed-ontwikkeld, veerkragtig en gediversifiseerd - en dat dit as 'n basis kan dien om landbou en die ekonomie te groei.

'Die opbou en herstel van die ekonomie moet nóú op die voorgrond geplaas word. Ons moet beleidsekerheid hê om sodoende beleggers na ons sektor en Suid-Afrika te lok.'

Agri SA is verbind tot landbouontwikkeling en -hervorming, en sal voortgaan om homself vir 'n volhoubare landbousektor te beywer. Agri SA versoek opnuut die President en die Suid-Afrikaanse regering om beleidsekerheid oor kwellende kwessies te gee wat insluit onteiening sonder vergoeding en droogtehulp. So kan ons almal saam voedselsekerheid en vooruitgang vir alle Suid-Afrikaners verseker.