Suid Afrika Kaasfees vier 18 jaar van kaas en meer-

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Suid-Afrikaanse Kaasfees vier vanjaar van Vrydag 26 April tot Sondag 28 April 2019 sy 18de bestaansjaar met ’n fees van 18-ervarings-in-een.

Dié ‘Fees van die Jaar’ soos bekroon in 2018 beloof ’n proe-ervaring van gewilde plaaslike en internasionale kase, alternatiewe en fynproewersprodukte, sowel as uitgesoekte wyne, boetiekbier en -gin. Nuut vanjaar is ’n piazza met alles Italiaans en Raak-’n-bietjie-rustig-Vrydag vir diegene wat die fees teen ’n rustiger pas wil ervaar.

“Die Suid-Afrikaanse Kaasfees het gegroei tot die land se gewildste buitelug-koservaring,” sê Johan Ehlers, hoof uitvoerende beampte van Agri-Expo, wat die fees sedert 2002 aanbied. “Dit bied ’n ongeëwenaarde waarde vir geld-platform vir besoekers om kaas- en komplementêre produkte van sowat 150 uitstallers te proe, koop en geniet, en veral om innoverende skeppings van entrepreneurs uit te toets – van insekroomys tot perlemoenpastei!”

Tonne kaas – van Napels tot Kareedouw
In die Cheese Emporium kan feesgangers die grootste verskeidenheid kase – ou gunstelinge én interessante nuwes – onder een dak proe en koop. Hier wag ’n splinternuwe Italiaanse piazza – met mozzarella, olywe, provolone, prosciutto di Parma, pasta, pesto én Italiaanse gasvryheid in oorvloed.

“Uniek aan die Suid-Afrikaanse Kaasfees is uitstallings van boetiekkaasmakerye van heinde en verre,” sê Ehlers. “Ons bied jaarliks ’n geleentheid aan ’n aantal boetiekkaasmakers om hul unieke handgemaakte produkte aan tot 30 000 besoekers bekend te stel as deel van ons #Support #SmallCheeseMakers-projek, in vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Landbou (WKDL) en Absa.”

Leer proe-proe by kenners
Vir kosliefhebbers wat hou van avontuurlike pas-en-proe-uitdagings, wag daar ’n fees van ses gratis daaglikse demonstrasies in die Tasting Room. Bekende kospersoonlikhede soos The Food Alchemist Pete Goffe-Wood, The Kate Tin Katelyn Allegra, The Food Fox Ilse van der Merwe en die Italiaanse La Terra dei Cuochi-wenner Lapo Magni kom deel hul geheime oor hoe om kaas op opwindende maniere saam met wyn, bier en ander pasmaats voor te sit. Kom ontdek ook die storie agter Afrikoa-sjokolade uit Tanzanië én wát prosecco anders as champagne maak.

Volgens Ehlers kan besoekers ook uitsien na ‘Is jy ’n BOK vir kaas?’ met die Bok Radio Brekfis-duo Wimpie en Le-Lue wat Suid-Afrika se 2019 Suiwelproduk van die Jaar – die 50/50-bok-en-koeimelkkaas St Francis of Ashisi van Belnori Boutique Cheesery – bekendstel. Ook op die program is Suid-Afrika se Top Tien Chenin Blanc in samewerking met Standard Bank; en kaas-en-wynproeë deur Fairview se hoofwynmaker Anthony de Jager (Vrydag en Sondag) en eienaar Charles Back (Saterdag).

“Verlede jaar was die Tasting Room-sessies uiters gewild en besoekers moet dus vroegtydig daarvoor aanmeld om ’n sitplek te verseker,” beveel Ehlers aan.

Ontdek alternatiewe produkte
In die ‘Cape Made: Taste the Alternatives’ Mall is daar ’n versameling van nis- en alternatiewe produkte, soos granate, brandrissies en alikreukel, te kies en te keur met winskopies direk van entrepreneurs, danksy ’n vennootskap met die WKDL. In die ‘Cape Made Kitchen’ kan besoekers daagliks tydens drie gratis demonstrasies proe-proe ervaar hoe sjefs van die Private Hotel School toor met kaas, brood en alternatiewe produkte. Besoekers sal ook ’n eksklusiewe resepteboek as geskenk ontvang.

Kaaskerf en musiek
Groot en klein kan fantastiese pryse (en natuurlik heerlike kaas!) wen in die Ladismith Kaaskerfkompetisie waarvoor besoekers daagliks voor 13:00 in Blossom se gazebo kan inskryf. Inskrywings is gratis, maar plek is beperk. En by die musiek gazebo kan feesgangers optredes deur kunstenaars soos ShenFM, Absolutely Fabulous, Sincere Swing, The Grey, Under Cover en SHIM SHAM Band geniet.

Boetiek is bobaas
Volgens Ehlers bied die Suid-Afrikaanse Kaasfees die ideale platform om boetiekvervaardigers te ondersteun. “Stalletjies met ’n uitgesoekte versameling wyne is net buite die Cheese Emporium te vind – ’n skuif van binne wat verlede jaar oorweldigend positief deur feesgangers ervaar is,” sê Ehlers. “Ons fokus is op die ontdekking van nuwe smaakervarings – van wyn en boetiekbier tot gin met heuning, amandel, boegoe, aarbei of chai.”

Raak-’n-bietjie-rustig-Vrydag
Vrydag 26 April is die eerste dag van die fees en dus die ideale dag om die fees teen ’n rustiger pas te ervaar voor die naweek besig raak. Kyk uit vir Raak-’n-bietjie-rustig-pakkette op Vrydag 26 April – dis perfek vir groepe soos boek-/tuin-/hekel-/koffie-/rolbal-/ryklubs. Koop drie kaartjies vir volwassenes of drie kaartjies vir senior burgers en ’n vierde vriend kan die fees gratis bywoon.

Kry kaartjies voor dit uitverkoop
Die Suid-Afrikaanse Kaasfees vind van Vrydag 26 April tot Sondag 28 April 2019 op Sandringham buite Stellenbosch plaas. Geen kaartjies sal by die hekke te koop wees nie. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite en Checkers teen R180 per persoon per dag. Senior burgers betaal R120 en kinders van twee tot 13 jaar betaal R20. ’n Eksklusiewe fynproewerservaring is beskikbaar (teen R950 per persoon, slegs bo 18 jaar) vir slegs 100 gaste per dag wat gereserveerde sitplek, BBP-parkering, vroeë toegang, ’n kaasbord met Président Cheese-kase, ’n bottel Linton Park-wyn en meer insluit.

Besoek www.cheesefestival.co.za, kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of e-pos This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. vir meer inligting. Vir programhoogtepunte, volg die Suid-Afrikaanse Kaasfees op Facebook (Cheese Festival), Twitter (SACheeseFest) of Instagram (sacheesefest). – Persverklaring