Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom
"Die ekonomiese groeikoers wat Statistiek SA vir die eerste kwartaal van 2021 vandag bekendgemaak het beloop 4,5%. Dit is egter baie jammer dat Statistiek SA met sy verkeerde berekeningsmetode steeds voort gegaan het om die kwartaallikse ekonomiese groei vir die eerste kwartaal te bepaal," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Hy sê die regte groeikoers vir die eerste kwartaal vanjaar was in werklikheid -2,7% gewees wat ‘n korrekte aanduiding gee met hoeveel die ekonomie oor die afgelope jaar gegroei het. Dit is dus reeds ‘n jaarkoers wat nie geannualiseer hoef te word nie omdat dit met dieselfde kwartaal in 2020 vergelyk is! Dit sal presies die groeisyfer wees wat inageneem sal word wanneer die groeikoers vir 2021 bereken word.
Hy sê hoewel Statistiek SA aan die einde van verlede jaar besluit het om nie meer die kwartaallikse groeisyfers om te skakel na jaarlikse groeikoerse nie (te annualiseer deur die kwartaallikse groeikoers bloot met 4 te vermenigvuldig) het hy nie voorgegaan om die aanpassing te implementeer nie. Die berekeningsmetode is in werklikheid ook nog verder verkeerd omdat dit steeds opeenvolgende kwartale met mekaar vergelyk, soos die eerste kwartaal vanjaar met die laaste kwartaal verlede jaar, en nie met die eerste kwartaal in 2020.
Die gevolgtrekking wat gevolglik nou gemaak moet word is dat die groeisyfer van 4,5% vir die eerste kwartaal totaal verkeerd is, terwyl Statistiek SA steeds verwag dat almal moet voortgaan om hierdie syfer te gebruik. Die berekening van die kwartaallikse en jaarlikse groeikoerse word op verskillende maniere bereken en daarom kan die geprojekteerde kwartaallikse groeikoerse nie 'n korrekte aanduiding van die verwagte jaarlikse groeikoers wees nie!
Die seisoenale aanpassing van die kwartaalsyfers om hierdie onakkurate berekeningsmetode verder te oorkom is daarom ook steeds verkeerd omdat dit nie die volledige en korrekte aanpassing kan maak as die verskillende kwartale nie met die dieselfde kwartale (min of meer dieselfde seisoen) van die vorige jaar vergelyk word nie.
Die vergelyking van ‘n kwartaal met die voorafgaande kwartaal is ‘n aanduiding van presies niks nie! Die vraag moet ook gevra word waarom die seisoenale aanpassings gemaak word omdat die invloed van die klimaatswisselings tussen seisoene op die ekonomie juis uitgewys moet word.
Die geannualiseerde kwartaallikse groeikoers kan nog minder 'n aanduiding wees van die verwagte jaarlikse groeikoers as dit oor die volgende kwartale volgehou sou word nie en daarom is dit in werklikheid nutteloos en misleidend omdat dit op ‘n totaal verkeerde aanname berus.
Byna alle landbouvertakkings is seisoensgebonde wat die vergelyking van opeenvolgende kwartale onrealisties maak as gevolg van die hoë kwartaallikse klimaatswisselvalligheid wat ook selfs 'n beduidende invloed op sommige van die ander bedrywe in die ekonomie kan hê.
Deur ‘n spesifieke kwartaal met dieselfde kwartaal van die vorige jaar te vergelyking sal in elk geval die kwartaallikse groeisyfers annualiseer, terwyl die probleem met die seisoenaliteit van die verskillende kwartale ook opgelos kan word. Die vergelyking van opeenvolgende kwartale in dieselfde jaar is statisties en ekonomies irrelevant omdat dit nie die korrekte seisoenale groeisyfers weergee nie.
Statistieke SA het verelde jaar aangedui dat daar vier metodes is om die kwartaallikse ekonomiese groeikoers te bereken maar dit sal baie verwarrend en misleidend wees en daarom sal slegs die korrekte berekeningsmetode aanvaarbaar wees.
Groeikoers vir die eerste kwartaal
Die ekonomiese groei vir die eerste kwartaal vanjaar word deur Statistiek SA bereken vanaf die vraag- en aanbodkant van die ekonomie aan die hand van 'n “internasionaal erkende en aanvaarde metode.” Die reële veranderings (nadat die effek van inflasie uitgeskakel is) in die Bruto Binnelandse Produk (BBP)1) vir die eerste kwartaal van 2021 in vergelyking met die vierde kwartaal van verlede jaar, word in die kwartaallikse publikasie (P0441)2) van Statistiek SA uiteengesit wat vandag vrygestel is.
Aanbodkant
Die reële kwartaallikse ekonomiese groeikoers soos gemeet aan die veranderings in die reële bruto binnelandse besteding (BBP) aan die aanbodkant van die ekonomie sedert 2015 word in die volgende grafiek getoon:
Groerkoers 2020: 2de kwartaal = -51,7% 3de kwartaal = +67,3% Bron: Statistiek SA
Die reële kwartaallikse ekonomiese groeikoers vir die eerste kwartaal van 2021 wat aan die aanbodkant van die ekonomie geskep is, het met 'n jaarlikse koers van 4,6% gestyg en R3,04 triljoen teen konstante 2010 beloop.
Die groeikoerse aan die aanbodkant word bepaal deur die bruto produksiewaardes van al die individuele bedrywe in die primêre, sekondêre en tersiêre sektore van die ekonomie. Die groeikoerse en die bydrae van die bedrywe tot ekonomiese groei kan slegs verhoog word as die winsgewendheid van die bedrywe verbeter kan word. Die winsgewendheid van die bedrywe word eerstens bepaal deur die veranderings in die pryse van al die insette wat deur elke bedryf gebruik word teenoor die veranderings in die pryse van al die uitsette wat elke bedryf produseer, vervaardig of lewer as persoonlike dienste soos regs-, mediese , finansierings- en versekeringsdienste.
Tweedens, deur die doeltreffendheid waarmee die insette in uitsette omgeskakel kan word en wat verbeter kan word deur die toepassings van die nuutste tegnologiese ontwikkelings. Dit moet produsente, vervaardigers en diensverskaffers in staat stel om meer uitsette te lewer met dieselfde hoeveelheid insette of dieselfde hoeveelheid uitsette met minder insette.
Vraagkant
Die reële kwartaallikse ekonomiese groeikoers soos gemeet aan die veranderings in die reële bruto binnelandse besteding (BBB) aan die vraagkant van die ekonomie, word in die volgende grafiek getoon:
Groeikoers 2020: 2de kwartaal = -52,4% 3de kwartaal = +68,1% Bron: Statistiek SA
Die reële BBB vir die eerste kwartaal in 2021 wat aan die vraagkant van die ekonomie geskep was het met 'n jaarlikse koers van 4,5% toegeneem en R3,04 triljoen beloop.
Ekonomiese groei aan die vraagkant van die ekonomie word geskep deur die veranderings in die bydraes deur privaat verbruiksbesteding van huishoudings en die regering (as verbruiker), bruto kapitaalvorming deur kapitaal belê in vaste eiendom, masjinerie en ander bates, asook in- en uitvoer (netto uitvoere) van produkte en dienste, tesame met die veranderings in voorraad wat ook in ag geneem word.
Die groeikoerse en die bydrae van privaat verbruiksbesteding en die bruto kapitaalvorming kan slegs verhoog word as die salarisse en lone van verbruikers verbeter kan word, werkloosheid en persoonlike belasting verminder kan word om die besteebare inkomste van verbruikers te verhoog.
Vraag en aanbod
Dit is belangrik om daarop te let dat ekonomiese groei nie net deur al die bedrywe aan die aanbodkant van die ekonomie nie geskep word nie, maar ook deur privaat verbruiksbesteding, kapitaalvorming en netto uitvoer aan die vraagkant, anders is groei nie moontlik nie. Die vraagkant van die ekonomie is gevolglik net so belangrik soos die aanbodkant in die proses om ekonomiese groei te skep wat deur die winsmotief gedryf word.
Die resultate van hierdie twee berekeninge van die totale aanbod (R3,04 triljoen) en vraag (R3,04 triljoen) syfers van die ekonomie vir die eerste kwartaal van hierdie jaar is normaalweg van dieselfde omvang, hoewel klein afwykings voorkom. Dit beteken in werklikheid dat alles wat geproduseer en ingevoer word minus wat uitgevoer word, plaaslik verbruik word en dat die vraag en aanbod in die ekonomie gelyk is.
Hierdie gevolgtrekking is gebaseer op een van die mees basiese ekonomiese beginsels dat prysvlakke (inflasiekoers) bepaal word deur vraag en aanbod (uitgesonderd gereguleerde pryse) in die ekonomie en dat pryse 'n baie belangrike funksie in die ekonomie vervul om altyd die aanbod en vraag terug na 'n markewewig te bring.
Skepping van ekonomiese groei
Die voorafgaande inligting bewys dit baie duidelik dat ekonomiese groei vanaf die vraag- en aanbodkant van die ekonomie geskep word wat deur die winsmotief gedryf word. As dit nie waar en korrek was nie sou die ekonomie nie bestaan het nie. Daarom is dit die grootste enkele dwaling in die ekonomiese wetenskap dat ekonomiese groei deur die verlaging van die Reserwebank se rentekoers gestimuleer en geskep word.
Indien die regering hoër en volhoubare ekonomiese groei wil skep sal dit ‘n volledige herstel van die kapitalistiese ekonomiese stelsel wat baie welvaart en vooruitgang vir die land voor 1994 geskep het.
Die mees basiese verskil tussen kapitalisme en sosialisme is die feit dat kapitalisme winste, groei en inkomste vir die regering kan genereer wat die ernstige sosiale probleme in die land kan aanspreek, terwyl sosialisme net verliese, geen groei, uitgawes en skuld kan genereer.
Daarom sal dit uiters noodsaaklik vir die regering wees om terug te keer na ‘n gemengde kapitalistiese en sosialistiese ekonomiese stelsel soos dit na 1994 bestaan het, voordat die kapitalistiese stelsel totaal deur die regering verwerp en ekonomiese groei vernietig is, om sodoende die goeie eienskappe van beide die stelsels te verwesentlik en die swak eienskappe sover moontlik te ellimineer.
Die regering se sosialistiese ideologie sal die ekonomie en die land binne die volgende 3 tot 4 vernietig. Die finale aftelling van die totale vernietiging het reeds begin en is reeds onomkeerbaar onder die huidige beleid van die regering.
1) Die reële BBP en BBB is die werklike nominale syfers wat teen konstante pryse bereken word om te bepaal met hoeveel dit gegroei het sonder dat prysstygings plaasgevind het.
2) Die kwartaallikse publikasie van Statistiek SA kan afgelaai word by die volgende skakel:
http://www.statssa.gov.za/.../P0441/P04411stQuarter2021.pdf
"Socialism is a philosophy of failure, the creed of ignorance, and the gospel of envy, its only inherent virtue is the equal sharing of misery.”
Winston Churchill, former premier of Britain
“If socialists understood economics they would not be socialists.”
Friedrich Von Hayek, Austrian-British economist and philosopher
“Without profit there can be no business; no employees; no incomes earned; thus, no economy. It is in the interests of everybody who is part of a business enterprise to recognise that the goal of the entire team is to progressively and vigorously be involved in the pursuit of profits.”
Temba A Nolutshunga, Director, Free Market Foundation
"In every single country where capitalism has been tried, free markets have been expanded, we have seen a mash growth in wealth and an elevation in the quality and standard of human life. We do not see it in other systems. On the reverse side we have seen every single time that where socialism was attempted it has led to destitution, devaluation and even death. It is a system that has failed every time it has been tried."
Hannah Cox, Foundation for Economic Education in the USA