Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom
"Die voorspelling dat Suid-Afrika vanjaar die 'sterkste groei in 14 jaar' kan verwag is totaal foutief en misleidend aangesien daar nog geen aanduiding bestaan dat die ekonomie vanjaar enigsins sal groei nie," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Hy het verwys na die artikel "Sterkste groei in 14 jaar vir SA voorspel” wat vandag op die webblad van Netwerk24 verskyn het en gesê die enigste werklike aanwyser op hierdie stadium van 'n moontlike groeikoers wat vir 2021 verwag kan is die 2,7% waarmee die ekonomie in die eerste kwartaal vanjaar ingekrimp het as dit met die eerste kwartaal van 2020 vergelyk word. Nie 'n styging van 4,6%, volgens Statistiek SA, as dit met die vierde kwartaal van 2020 vergelyk word nie wat totaal verkeerd en misleidend is.
Die groeikoers vir 2021 gaan aan die einde van die jaar bereken word deur die som van die vier kwartale in 2021 met die som van die vier kwartale in 2020 met mekaar te vergelyk en nie deur die kwartaalikse groeikoerse vanjaar elke keer met die voorafgaande kwartaal te vergelyk wat geen aanduiding van die groeikoers vir 2021 kan wees nie.
Die eerste kwartaal se groeikoers was in werklikheid slegs 1,15% gewees, maar Statistiek SA glo dat as die koers met 4 vermenigvuldig word (geannualiseer word as 'n jaarkoers) dit 'n bruikbare aanduiding van die groeikoers vir 2021 sal gee as die ekonomie elke kwartaal hierdie jaar bestendig sou groei.
Daar kan niks verder van die waarheid verwyder wees nie omdat die ekonomie nie hierdie jaar elke kwartaal met gemiddeld 1,15% gaan groei wat die jaarkoers dan op 4,6% te staan sal bring nie. Dit hou absoluut geen verband met die berekening van die jaarkoers nie en niemand stel belang in 'n 'bruikbare groeikoers' nie maar in 'n groeikoers wat korrek bereken is!"
'n Kwartaallikse groeikoers wat met dieselfde kwartaal van die vorige jaar vergelyk word sal in elke geval 'n jaarkoers wees!"
Statistiek SA skep ook vir homself 'n tweede probleem deur die seisoensverskille tussen die kwartale aan te pas met 'n metodiek wat êrens in Ierland bekom is en wat niemand weet hoe dit werk nie en wat in elke geval nie die seisoensverskille van 'n aanvanklike verkeerde berekeningsmetode korrek kan uitskakel nie. Die seisoenverskille kan ook nie totaal uitgeskakel word nie omdat dit juis in die groeisyfers gereflekteer moet word.
"As dieselfde kwartale (min of meer dieselfde seisoene) met mekaar vergelyk sou word sal dit ook nie nodig wees om die groeisyfers vir seisoensverskille aan te pas nie."
Statistiek SA het verlede jaar besluit om nie langer meer die kwartaalsyfers te annualiseer nie maar het dit uitgestel omdat hulle besef het hulle gaan homself verder finaal in 'n hoek toe verf as hulle sou voortgaan omdat die jaarlikse groeikoerse wat hulle dan so sou bereken het nie net steeds verkeerd sou is, maar dat elke kwartaallikse groeikoers dan 4 keer kleiner gaan wees as wat verwag word.
Hierdie foutiewe berekening van Statistiek SA veroorsaak misleidende aanduidings vir die regering en die privaatsektor sowel as vir buitelandse beleggers en investeerders wat belangrike besluite oor alternatiewe beleggingsmoontlikhede moet neem.
Die misleidende inligting gooi ook olie op die vure van plaaslike batebestuurders en finansiële adviseurs wat dit gebruik om mense aan te raai om meer geld in Suid-Afrika te belê terwyl die ekonomie in werklikheid reeds besig is om finaal in duie te stort en hulle nie self die risiko's moet dra nie.
"Die kans dat die ekonomie weer onder die sosialistiese ideologie van die ANC-regering sal groei is uiters skraal wat ernstige finansiële verliese tot gevolg kan hê."
Die probleem word vererger deur die Reserwebank wat glo dat hy bykans die hele ekonomie kan beheer terwyl daar absoluut geen bewyse vir sy aansprake bestaan dat hy met sy rentekoersbeleid die inflasiekoers in bedwang kan hou, die wisselkoers kan beskerm of ekonomiese groei kan stimuleer en skep nie.
Die ekonomie sal eers weer groei as die regering en sy sosiale vennote, die Reserwebank, die meeste ekonomiese en politieke kommentators en die media eendag sou verstaan dat ekonomiese groei van die vraag- en aanbodkant van die ekonomie geskep word en dat die inflasie- en wisselkoerse slegs deur die vraag en aanbod in die ekonomie bepaal word en nie deur die enkele grootste dwaling in die ekonomiese wetenskap oor rentekoerse van die meeste sentrale banke in die wêreld nie,” sê Brink.
Die kwartaallikse publikasie van Statistiek SA kan afgelaai word by die volgende skakel: