• Fanie Brink, Onafhanklike landbou-ekonoom.

  • DIE eerste treë weg van die ongekende wêreldwye akkommoderende rentekoersbeleid van die laaste jare is gegee.

  • Die Reserwebank het vandag 'n verhoging in sy uitleenrentekoers aan handelsbanke aangekondig van 25 basispunte tot 3,75% wat ook die oortrokke rentekoers tot 7,25% sal verhoog, asook alle ander rentekoerse van die handelsbanke, met onmiddellike effek.

  • “Die rentekoersbeleid van die Reserwebank en die ander sentrale banke in die wêreld is die enkele grootste dwaling in die ekonomiese wetenskap waarvoor daar geen bewyse bestaan nie,” sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.

    Hy sê die aansprake van die Bank dat sy rentekoersbeleid die inflasiekoers binne sy inflasieteikens van 3% to 6% kan beheer is nie waar nie en nog minder korrek. Sy beleid kan nog minder die waarde van die geldeenheid beskerm of ekonomiese groei stimuleer nie.

    Brink het verwys na die artikel “Hoër rentekoerse is ‘onvermydelik’” wat gister in die Rapport verskyn het.

    Hy sê die “inflasiekoers word deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore bepaal wat ‘n invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste uitoefen, asook die waarde van die geldeenheid, respektiewelik.

    Ekonomiese groei word deur die vraag- en aanbodkant van die ekonomie geskep wat elke kwartaal deur Statistiek SA bewys word wat deur die winsmotief van die privaatsektor gedryf word.”

    Die inflasiekoers het in Desember 2021 tot 5,9% gestyg wat hoofsaaklik deur die stygings in brandstof- en voedselpryse veroorsaak is, maar het absoluut niks met die plaaslike verbruik daarvan te doen nie aangesien dit suiwer die gevolge van internasionale markfaktore is waarop die rentekoersbeleid van die Bank geen invloed kan uitoefen nie.

    Brandstofpryse

    Die internasionale prys van ru-olie het verlede jaar gedaal weens die Covid-19-pandemie tot by die punt waar die finansiële posisie van sommige internasionale olieprodusente aansienlik verswak het wat verantwoordelik vir die laer ru-olievoorrade was. Noudat die grootste gevaar van die pandemie afgeneem het, het die internasionale vraag na ru-olie weer skerp gestyg waaraan die lede van die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (OPUL) en Rusland (wat nie lid van die organisasie is nie) nog nie aan kon voldoen het nie.

    Die prys van Brent-ruolie het in 2021 met meer as 60% gestyg wat die grootste jaarlikse styging in 12 jaar was wat aangespoor is deur die wêreldwye ekonomiese herstel van die Covid-19-pendemie. Ten spyte van die reisbeperkings, het die vraag na ru-olie relatief stewig gebly, terwyl die aanbod daarvan deur die lede van OPUL verminder is.

    Wêreldwye oliepryse sal na verwagting verder styg in 2022, terwyl OPUL en Rusland waarskynlik nog sal hou by hul plan om die voorsiening van ru-olie aan die mark eers net met slegs 400 000 vate per dag in Februarie vanjaar te verhoog.

    Die internasionale prysstygings in ru-olie is gevolglik buite beheer van die sentrale banke wat glo dat hulle die wanbalans in die mark kan regstel deur rentekoerse te verhoog wat geensin moontlik is nie, maar wat soos in die verlede weereens plaaslike verbruikers sal straf vir prysstygings waarvoor hulle geensin verantwoordelik is nie.

    In Suid-Afrika word brandstofpryse deur die regering beheer en deur ‘n prysmeganisme vasgestel wat die veranderings in die internasionale ru-olieprys, verswakkende wisselkoers wat reeds aansienlik verswak het as gevolg van die vernietigende sosialistiese ideologie van die ANC-regering, asook al die belasting en heffings van die regering op brandstof wat jaarliks verhoog word maar wat niks met die verbruik van brandstof deur verbruikers te doen het nie.

    Die eerste vraag is dus wat gevra moet word, is wat kan die Bank enigsins doen aan die wanbalans in die internasionale ru-oliemark en die vasgestelde brandstofprysstruktuur van die regering? Die antwoord is absoluut niks nie!

    Voedselpryse

     Internasionale landbouprodusente- en voedselpryse het skerp toegeneem in 2021 as gevolg van internasionale groter vraag na voedsel, maar selfs meer as gevolg van die "ontwrigting van die globale voorsieningsketting” wat in 2022 sal voortduur, volgens die hoof uitvoerende beampte van Cargill, David MacLennan, ‘n landboureus in die VSA, as gevolg van arbeidstekorte wat een van die grootste risiko's geword wat die voedselbedrywe in die gesig staar.

    Volgens hom het die internasionale “wêreldvoedselpryse in Oktober verlede jaar tot 'n hoogtepunt vir die afgelope dekade gestyg wat verantwoordelik was vir selfs hoër kruidenierswarerekenings vir huishoudings en moontlike verdere wêreldwye hongersnood.”

    Slegte weer het oeste getref, vragkoste het die hoogte ingeskiet en arbeidstekorte het die voedselvoorsieningsketting in die wiele gery. Die energiekrisis het ook 'n dramatiese toename in kunsmiskoste vir boere regoor die wêreld veroorsaak.

    Die soeke na ‘groener’ voertuie en vliegtuie, asook biodiesel vir produksie en padvervoer het ook groter mededinging tussen voedsel- en energieproduksie tot gevolg gehad, wat tot  beperkte eetbare olievoorrade aanleiding gegee het. Die pryse vir palmolie, die mees verbruikte plantaardige olie ter wêreld, het die afgelope jaar met sowat 50% gestyg, terwyl sojaboon-olie met 60% gestyg het en Canola-olie naby 'n rekordprysvlak is.

    Die voedsel- en brandstofmededinging vir suikeriet, grane en plantaardige olies sal ook, volgens MacLennan, meer intens word as wat dit ooit in die afgelope 15 jaar was. Die dag sal aanbreek wanneer meer landbouprodukte vir skoon energie as voedsel gebruik sal word, so dit sal die landbouprodusente in die wêreld se plig wees om meer innoverend en produktief te raak.”

    In Suid-Afrika sal dit ook moet gebeur ten spyte daarvan dat die ANC-regering baie goed op pad is om die landboubedryf, voedselsekerheid en die ekonomie finaal te vernietig.

    Amerika gebruik reeds 40% van sy mielie-oes vir die vervaardiging van bio-etanol vir inmenging by petrol wat uit ru-olie vervaardig word, terwyl Brasilië lankal  reeds die grootste bio-etanolvervaardiger uit suikerriet in die wêreld is wat in voertuie gebruik word.

    Die tweede vraag is dus wat kan die Bank doen aan hierdie ontwikkelings wat verantwoordelik is vir die hoër internasionale voedselvraag en die hoër voedselpryse?

    Die plaaslike pryse van landbouprodukte word in 'n termynmark, die Suid-Afrikaanse Termynmark (SAFEX), verhandel  en word uitsluitlik deur die werking van die markkragte van vraag en aanbod in die mark bepaal. Die pryse van plaaslike produsente is in werklikheid die internasionale afgeleide pryse van landbouprodukte wat op die Amerikaanse termynmark, die Chicago Board of Trade, verhandel word wat ook suiwer deur die werking van die markkragte van vraag en aanbod bepaal word.

    Die derde vraag wat gevra moet word, is wat kan die Bank doen aan die toenemende en buitensporige winsmarges op voedsel waarvoor verbruikers nie verantwoordelik is nie en wat geensins verband hou met die vraag na voedsel nie?

    In Suid-Afrika word daar van die landboubedryf verwag om “goedkoop” kos vir armmense te produseer, luidens die jongste nuusbrief van Agri SA, terwyl geen boer ter wêreld kos kan produseer teen pryse wat armmense kan bekostig nie. Voedselsekerheid kan slegs volhoubaar wees as die produksie van voedsel winsgewend is. Voedselsekerheid is ook nie die verantwoordelikheid van landbouprodusente nie maar die regering wat die makro- en landbou-ekonomiese beleid van die land bepaal.

    Die feit van die saak is dat die “verbruikerspryse” wat gebruik word om die Verbruikersprysindeks te bereken nie die pryse is wat verbruikers bereid is om vir goedere en  dienste te betaal nie, maar die pryse wat deur verskaffers op grond van hulle totale produksie- of vervaardigingskoste plus buitesporige winsmarges vasgestel word.

    Die vraag is ook hoekom die internasionale sentrale banke van mening is dat as hulle die verbruikers aan die vraagkant met hoër rentekoerse straf dit ook die probleme wat prysstygings aan die aanbodkant van die ekonomie veroorsaak kan oplos, soos die huidige  laer ru-olieproduksie, ontwrigtings in die wêreldwye voedselvoorsieningsketting of natuurrampe wat ernstige droogtes en vloede veroorsaak? Hoe is dit mootlik dat hulle van mening is dat hoër rentekoerse ook hierdie probleme kan oplos as hulle absoluut geen beheer oor die aanbodgedrewe inflasie en geadministreerde pryse van die regering het nie.

    Jongste inflasietendense

    Die inflasiekoers in die VSA het in Desember tot 6,8% gestyg wat die hoogste vlak sedert 1982 en die sesde maand in 'n ry van prysstygings was. Petrolpryse het in November 2021 met 58,1% gestyg – die grootste styging oor 12 maande sedert 1980. Binne die voedselindeks het die pryse van kruidenierswinkels vir die derde agtereenvolgende maand gestyg.

    Die inflasiekoers in Suid-Afrika het in Desember 2021 tot 5,9% opgeskiet, wat die hoogste koers in byna 5 jaar is. Die grootste bydraende faktor tot die hoër inflasiekoers was die brandstofprys wat sedert ’n jaar gelede met 34,5% gestyg het.”

    Die jongste stygings in die inflasiekoerse in die VSA en Suid-Afrika is die gevolg van baie ernstige veranderings in die vraag en aanbod na veral ru-olie en voedsel wat baie duidelik buite die bereik van die rentekoersbeleid van die Reserwebank en die Federale Reserweraad in die VSA is wat weereens bewys dat daar nie ander kragte in die ekonomie bestaan wat sterker as die markragte van vraag en aanbod is nie.

    Vooruitsigte vir ru-olie

    Ru-olie het tot dusver in Januarie 2022 sy styging voortgesit tot die hoogste vlak in sewe jaar namate geopolitieke spanning in die Midde-Ooste ontstaan het. Jemen se Houthi-vegters het beweer dat hulle hommeltuigaanval op die Verenigde Arabiese Emirate - die derde grootste OPUL-produsent - geloods het wat 'n ontploffing en brand in die buitewyke van die hoofstad Abu Dhabi veroorsaak het en ru-oliepryse tot die hoogste vlakke sedert Oktober laat styg het.

    Die krimpende globale olie-voorraad is ook ‘n beperkende faktor waarom die Goldman Sachs Groep sy voorspellings vir die ru-olie tot $100 per vat in die derde kwartaal vanjaar verhoog het.

    Elektrisiteitstariewe

    Die volgende oorsaak vir ‘n verdere groot styging in die inflasiekoers sal deur die verwagte buitensporige stygings in elektrisiteitstariewe veroorsaak word wat ook deur die regering vasgestel word en die Reserwebank weereens sal aanspoor om verbruikers verder te straf vir prysstygings waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie en daarom ook nie die oorsaak vir hoër elektristeitstariewe is nie. Die hoër oliepryse het reeds ook die pryse van gas vir verhittingsdoeleindes aansienlik verhoog.

     Inflasieteikens

    Aangesien brandstof- en voedselpryse vir die groot stygings in die inflasiekoers verantwoordelik is, word dit gewoonlik uitgesluit van die Verbruikersprysindeks om 'n "Kerninflasie-indeks" te bereken wat die Reserwebank en ekonomiese kommentators telkens as 'n terugvalposisie gebruik as die inflasiekoers te naby aan die boonste inflasieteiken beweeg wat totaal misleidend is en daarom afgeskaf behoort te word.

    Die inflasieteikens moet in elk geval geskrap word en rentekoerse moet op grond van die vraag en aanbod van geld en kapitaal in 'n termynmark bepaal word. Presies hoe verskeie landbouprodukte, soos mielies, koring, sojabone, sonneblomme, rooivleis en wol verhandel word op die Suid-Afrikaanse Termynmark (SAFEX – South African Futures Exchange), wat die Landbou-afdeling van die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) is wat ontwikkel en geïmplementeer is op dieselfde basis as die stelsel wat deur die “Chicago Board of Trade” in Amerika gebruik word. ’n Termynmark vir geld en kapitaal sal die mees akkurate en billikste manier wees om rentekoersvlakke te bepaal of te ontdek sonder die inmenging van die Reserwebank!

    Eenvoudige statistiese ontledings het bewys dat die veranderings in rentekoerse geensins ‘n verklaring kan bied vir die veranderings in inflasiekoers, die waarde van die geldeenheid of ekonomies groei nie. Die veranderings in rentekoerse volg in werklikheid die veranderings in die inflasiekoers en word nie daardeur bepaal nie! Die Reserwebank is reeds van plan om  sy rentekoerse vier keer vanjaar te verhoog met 25 basispunte in elke kwartaal vanjaar omdat hy hom blindstaar teen ‘n rekenaarmodel wat nooit al die politieke en ekonomiese veranderlikes wat die vraag en aanbod in die ekonomie beïnvloed in ag kan neem nie. Die Bank het in elk geval ook nie ‘n mandaat om die inflasiekoers te probeer beheer nie, maar wel ‘n mandaat om ingevolge artikel 224(1) van die Grondwet die wisselkoers (waarde van die geldeenheid) te beskerm.

    “Dit is daarom onaanvaarbaar dat die Reserwebank, die meeste ekonomiese kommentators  en die media steeds daaraan vasklou dat die Bank se rentekoersbeleid die inflasiekoers kan beheer, die waarde van die geldeenheid kan beskerm en ekonomiese groei kan stimuleer waarvoor daar geen bewyse bestaan. Verbruikers kan geensins alleen vir prysstygings verantwoordelik gehou word wat deur die werking van die internasionale en plaaslike markkragte van vraag en aanbod en die buitensporige inmenging van die regering in die ekonomie veroorsaak word nie,” sê Brink.

    Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

  • Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom.

  • “Die verhoging in rentekoerse volgens die sentrale banke in die wêreld se rentekoersbeleid kan nie die inflasiekoers beheer, die wisselkoers beskerm of ekonomiese groei stimuleer nie.

Newsletter Subscribe