Fanie Brink, Onafhanklike landbou-ekonoom.
“Die Reserwebank kon sy uitleenkoers tot 0,0% verlaag het dit sou geen wesentlike invloed op die inflasiekoers en ekonomiese groei gehad het nie aangesien beide deur die vraag en aanbod in die ekonomie bepaal word waarop rentekoersveranderings slegs 'n weglaatbare klein invloed het,” sê Fanie Brink, 'n onafhanklike landbou-ekonoom.
Brink het gereageer op die aankondiging gister dat die Bank sy uitleenkoers verder met 0,5% verlaag het en die negatiewe kommentare van sommige ekonome dat die Bank ’n “kans verspeel” deur die rentekoers met so min te verlaag het en dat hy “nou al ’n paar jaar traag is om rentekoerse te verlaag.”
Hy sê die ongekende lae vraag in die ekonomie en nie die vlak van rentekoerse nie is lankal die grootste probleem waarom die inflasie so laag is en die ekonomie nie groei nie. Die baie negatiewe invloed van die Covid19-virus op die produksiewaarde en winsgewendheid van al die bedrywe aan die aanbodkant van die ekonomie om 'n groter bydrae tot groei te lewer is nou reeds besig om ekonomiese groei verder te vernietig.
Die probleem is nie dat die rentekoerse te hoog is en dat laer koerse enigsins deflasie en die baie swak ekonomiese groei kan verhoed nie, waarvoor daar in elk geval geen bewyse bestaan nie. Die al groterwordende oproep op die regering is die dringendheid om die inperking weens die Covid19-virus op te hef om sodoende die bydrae van die aanbod- en vraagkant van die ekonomie te herstel en nie om rentekoerse te verlaag nie.
Die voortgesette dwaling van die Reserwebank en die meeste ekonome oor monetêre beleid het duidelik geen perke nie, terwyl dit geensins so 'n bykans oorheersende rol in die ekonomie speel nie as wat hulle dit wil hê nie. Nie eers naastenby so 'n belangrike rol soos die verbetering in die produksiewaarde en winsgewendheid van al die bedrywe in die primêre, sekondêre en tersiêre sektore van die ekonomie en die verhoging in die besteebare inkomste van verbruikers deur groter werkskepping, verhoging in salarisse se lone, asook laer belastings nie.
Die mandaat van die Reserwebank word deur die Grondwet in artikel 224(1) voorgeskryf as die "beskerming van die wisselkoers" (waarde van die geldeenheid) wat die vorige mandaat "om pryse te stabiliseer" vervang het "in belang van gebalanseerde en inklusiewe (voorheen 'volhoubare') ekonomiese groei." Dit is in alle gevalle niks anders as suiwer wensdenkery deur ekonomies ongeletterde politici (en baie ekonome) nie omdat die waarde van die geldeenheid, inflasiekoers en ekonomiese groei deur die vraag en aanbod in die ekonomie bepaal word en nie deur rentekoersveranderings nie.
Daar bestaan geen bewyse dat laer rentekoerse ekonomiese groei kan stimuleer nie! Selfs Statistiek SA wat die ekonomiese groei elke kwartaal aan die vraag- en aanbodkant van die ekonomie meet het nog nooit eers enige verwysing na die invloed van rentekoerse op groei in sy publikasies gemaak nie, juis omdat dit weglaatbaar klein is.
Die Reserwebank se eie beraming is dat ‘n 1%-verlaging in die rentekoers ‘n bydrae van 0,1% tot ekonomiese groei twee jaar later kan maak wat in werklikheid niks beteken nie. Die rede is dat hulle, soos baie ekonome en ander instansies, ‘n vooruitskattingsmodel gebruik wat nie eers naastenby al die veranderlikes wat groei kan beinvloed in ag kan neem nie. ‘n Duimsuig sal net so goed wees!
Volgens sommige ekonome sal 'n 1% verlaging in die rentekoers R32 miljard terug in die verbruikers se sakke sit. Die totale verbruiksbesteding was R3,1 triljoen in 2019 teen heersende pryse wat beteken dat rentekoste vir die verbruiker slegs 1,05% van die totale verbruiksbesteding beloop het.
“Die Reserwebank en die meeste ekonome klou aan die eenkant steeds vas aan die dwaling oor die rentekoersbeleid van die Bank, maar aan die anderkant aanvaar hulle almal Statistiek SA se groeisyfers wat deur vraag en aanbod geskep en gemeet word.”
Sien gerus dat jongste publikasie van Statistiek SA vir die groeisyfers van die 4de kwartaal en vir 2019 by die volgende skakel:
http://www.statssa.gov.za/publications/P0441/P04414thQuarter2019.pdf
“Sonder die vrye werking van markkragte sal die ekonomie nie bestaan nie en daarom sal die ekonomiese groei in Suid-Afrika verder deur die inmenging van die regering met totaal oormatige wetgewende regulering die ekonomie verder vernietig, soos wat eeue gelede al deur die verskillende politieke stelsels in die wêreld bewys is,” sê Brink.