Die voetspore wat ons nalaat, moet nie net ons nageslagte finansieel versorg nie, maar veral ook ons spore op hul harte nalaat, want goeie waardes en familieharmonie is die kosbaarste geskenk wat ons ooit kan nalaat.
Ons almal het ’n storie om te vertel. Jan Boshoff, ’n boer in die Delmas-omgewing, is ’n voorbeeld van hoe alledaagse besluite en interaksies voetspore kan nalaat wat getuig van wie hy is. Jan het onlangs verjaar en deel ek graag sy antwoord op my gelukwensing met julle.
“André, dankie vir jou wense met my verjaardag. Ek stuur vir jou my verjaardag verrassing met my verjaardag.” Hy het ook vir my ’n video gestuur van hoe die plaaswerkers vir hom kom sing en bid het.
Jan Skryf voort: “ Ek het ’n getuienis wat ek graag met jou deel. Ek het November 1970 matriek geskryf. My ‘English’ was nooit goed nie maar ek het altyd deurgekom. Met die uitdeel van die eindeksamen Engelse vraestel maak ek toe ’n belofte dat as die Here my sal help om die Engels deur te kom, ek onderneem om die evangelie te versprei my lewe lank. (Inderwaarheid is dit wel elke Christen se plig).”
“So open ek elke week en tolk ons op ’n Maandag die evangelie op die plaas. Later kruis my pad met Sunnyboy en Ephraim. Maandag kom Sunnyboy tot by my en ek neem Ephraim na my medeboere om die beurt vir opening.”
“Gisteroggend verras ’n groep van my werkers my deur vir my te kom sing met my verjaardag maar meer belangrik daarna bid hulle vir my. Ek het nooit die evangelie versprei met ’n verwagting dat ek iets daarvoor moet ontvang nie. Ek sê baie vir hulle ek bid vir hulle wat ek ook doen as ons saam open. Ek het nooit verwag om iets terug te ontvang nie. Hierdie is net vir my die bevestiging dat die saad wat gesaai is nie ledig sal terug keer nie. Ek is so diep dankbaar vir die gebaar.”
BOEK: VOETSPORE WAT ONS NALAAT…
‘N EMOSIONELE REIS DEUR DIE SOET EN SUUR VAN FAMILIEONDERNEMINGS
In die hart van elke familieboerdery lê ’n storie – een van opofferings, drome en die hoop dat toekomstige geslagte sal voortbou op die fondamente wat gelê is. Dit is hierdie ryk tema wat dié nuwe boek, VOETSPORE wat ONS NALAAT, aanspreek. As ‘n hoofkarakter in die boek deel die skrywer stories met ons oor die soet en suur van familieondernemings wat hy oor dekades beleef het.
VOETSPORE WAT ONS NALAAT… is nou beskikbaar. Dit is die tweede boek in die reeks van drie en volg op NALATENSKAP – Die Soet en Suur van Familieondernemings (2022). Die derde boek, RENTMEESTERSKAP, sal waarskynlik laat in 2025 voltooi word.
Die trilogie bestaan uit drie verweefde, maar onafhanklike stories. Elke boek fokus op sy eie sentrale narratief met bestaande karakters asook nuwe karakters wat bygevoeg word. Voetspore wat ons nalaat verwys ook na sleutelkarakters en gebeure uit die vorige boek, Nalatenskap, om nie die storielyn te verloor nie.
Die lesers het die werklike en fiktiewe karakters in die twee hoofstories in die eerste boek, Nalatenskap, ontmoet. Die eerste hoofstorie gaan oor Willem van der Merwe van Ficksburg se reuse-uitval met sy enigste seun Wilhelmus waarna hulle vir meer as twintig jaar geen kontak gehad het nie. Willem is baie siek aan kanker en sy seun moes in Skotland opgespoor word om die familie te versoen. Die verhaal het die leser deur al die intriges om die familie te versoen geneem en gaan nou in hierdie boek voort met verwysing na wat in die eerste boek gebeur het. Die leser word in die boek ook op ’n uitgebreide toer deur Engeland, Wallis, Ierland en Skotland geneem.
NAVIGEER REGVERDIGHEID IN JOU FAMILIEBOERDERY André Diederichs
Die tweede hoofstorie gaan oor Dries Beukes, ’n boer in Middelburg, Mpumalanga. Dries en Lisa is gelukkig getroud en het ’n hegte band met hul twee seuns, Driesman en Dawid. Jare gelede het Dries tydens ’n studentetoer by die Oktoberfees in Duitsland met ’n Duitse meisie, Marichen, ’n intieme verhouding gehad. Vyf en twintig jaar later stap sy dogter Brigitte, waarvan hy nie geweet het nie, sy kantoor in Middelburg binne. Die verhaal het die leser deur al die dramas wat volg en op ’n uitgebreide toer oor Kerstyd na München in Duitsland geneem. Die verhaal gaan in hierdie boek voort met verwysing na wat in die eerste boek gebeur het en neem die leser saam met dié familie deur ’n uitgebreide toer in Israel.
Die derde hoofstorie begin in dié boek. Dit stel die leser aan nuwe karakters en gebeure voor. Peet Willemse en sy vrou Marlene, boer in die Piketberg-omgewing en moet hul dertigjarige seun vertel dat hy aangeneem is. Om die intrige verder te verdiep, het Peet ook ’n buite-egtelike seun, Dieter, waarvan Marlene nie weet nie. Omstandighede veroorsaak dat hy dit nou aan haar moet openbaar. Die verhaal neem die leser deur al die dramas wat dit veroorsaak.
Voetspore hervat die ou stories in Nalatenskap en laat nuwe ervarings van soet en suur voortleef.
Uittreksel aan die einde van die boek
“Terwyl my gedagtes dwaal, dink ek aan die grootste voetspore van almal. Dié wat Jesus agtergelaat het. Sy pad, so duidelik, so vol liefde en opoffering. Ek weet dat, as ons daardie voetspore volg, die pad seker is, die reis veilig, selfs wanneer dit onseker voel. Mettertyd het ek geleer dat, met Jesus in my lewe, die lewe nie gemeet word aan ons aantal asemteue nie, maar aan daardie oomblikke wat ons asem vir ons wegslaan.
Soos hierdie hoofstuk eindig, kan ek nie help om beide die gewig van die afgelope jaar en die hoop vir die jaar wat voorlê te voel nie. Ou stories sal voortgaan. Willem se storie sal binnekort op sy laaste bladsy kom, maar ander, soos Donald en Tinka, soos Dawid en Shira, soos Dieter en Peet, begin net. Daar sal nuwe stories ook wees – dié wat ons nie kan voorsien nie, maar stories wat God vooraf reeds ken. Hy weet waarheen ons voetspore ons volgende sal lei. Ek troos my daarin. Ek is gereed vir wat kom want ek weet dat ons wat in Hom glo, nie net ’n enkele blommetjie in ‘n plaat van blomme is nie. Nee, vir Hom is jy ’n plaat van blomme in ’n enkele blommetjie. Wees gereed om Hom te volg waarheen Hy jou ook al lei…”
Ek vra dat elkeen wat hierdie lees, met ‘n diep dankbaarheid na hul daaglikse kos sal kyk. Onthou dat agter elke ete ‘n storie van opoffering en liefde lê. Familieboere, julle is die wortels van ons samelewing en die sterkte agter ons toekoms. Mag ons julle meer ondersteun, respekteer, en waardeer soos julle verdien.
Kommentaar oor die boek:
“André het ons Grondwet en Opvolgplan dekades gelede opgestel en vir al die jare as ons onafhanklike trustee gedien. Sy insig in die soet en suur wat binne familieondernemings afspeel, is duidelik uit die aangrypende verhale in sy boek en bied kosbare lesse vir familieondernemings oor die belangrikheid om beste praktyke te volg.”
Fanie van der Merwe: Boplaas 1743, Koue Bokkeveld.
Bestel VOETSPORE WAT ONS NALAAT aanlyn by:
https://naledi.co.za/product/voetspore/
Of per WhtassApp by Tertia: 078 648 8616