40 dae wat die wêreld verander het-Suid Afrika

40 dae wat die wêreld verander het-Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

WAARSKYNLIK een van die mees betekenisvolle Amerikaanse diplomate van die afgelope 50 jaar, Henry Kissinger, het eenkeer opgemerk: “Om ’n vyand van Amerika te wees is gevaarlik, om ’n vriend te wees is fataal." Dit was nog nooit so waar soos nou nie.

Van Oekraïne tot daardie mees lojale van alle bure, Kanada; van Europa tot die miljoene mense wat deur USAid-finansiering aan die lewe gehou word; van die Midde-Ooste tot Suidoos-Asië, almal kan nou getuig van die diepgaande akkuraatheid van Kissinger se woorde.

Trump skeur ooreenkomste en verhoudings op wat oor dekades gebou is. Hy het die Noord-Amerikaanse handelsooreenkoms met Kanada en Mexiko in sy eerste termyn heronderhandel. Nou beweer hy dit was 'n slegte ooreenkoms en klap eenvoudig 25%-invoertariewe op albei. Die verbreking van ooreenkomste skend vertroue, respek en mag. Die “reëlsgebaseerde internasionale orde" wat die Amerikaners so graag verkondig, is by die venster uitgegooi.

Die beoogde grondgrype van Groenland, Panama, Kanada en Gaza is verby asemrowend. Erg skynheilig om dan te kla oor sogenaamde grondgrype in Suid-Afrika.

Geen wonder nie dat op Trump se 36ste dag in sy amp die gematigde Financial Times die volgende opskrif gehad het: “America is now an enemy of the West". 'n Verstommende opskrif, maar baie gepas. En dit alles in minder as 40 dae!

Onttrek aan die wêreld

In 2017, toe Trump die eerste keer verkies is, het hy die VSA op sy eerste dag in die amp onttrek aan die TPP, die Trans-Stille Oseaan-vennootskap. Die TPP was 'n groep van 12 nasies aan die Stille Oseaan wat oor die goue standaard van handelsooreenkomste onderhandel het, kompleet met arbeids-, omgewings- en intellektuele eiendomsbeskerming. Die Amerikaanse onttrekking het 'n ruk lank 'n verlammende uitwerking op die oorblywende lede gehad; sommige het gesê dit is onmoontlik om sonder die VSA voort te gaan. Die lande het egter hulself saamgetrek en die ooreenkoms bekragtig, ironies genoeg minus die intellektuele eiendomsbepalings waarvoor die VSA geveg het. Die TPP is hergebore onder 'n nuwe naam. China, die VK en Suid-Korea het aansoek gedoen om lidmaatskap. Die wêreld het aanbeweeg.

Hierdie keer het Trump dieselfde gedoen deur te onttrek aan die Wêreldgesondheidsorganisasie, die Parys-ooreenkoms, die handelsooreenkoms met Kanada en Mexiko, en waarskynlik die G20. Die res van ons moet die TPP-lande se voorbeeld volg en 'n pad vorentoe vind sonder Amerika.

Waar laat dit Suid-Afrika?

Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), saamgestel deur Trevor Manuel en die eerste Beplanningskommissie, het in 2012 gepostuleer dat mag in die wêreld van Wes na Oos verskuif. Dit het gediversifiseerde globale vennootskappe beklemtoon om ekonomiese groei en ontwikkeling te dryf. Kortom, handhaaf verhoudings met die ou vennote en bou verhoudings met die nuwes.

Dit het gebeur en vandag lyk Suid-Afrika se uitvoere só:

Hierdie syfers maak onsin van die dikwels herhaalde idee dat Suid-Afrika moet “kies tussen die VSA en China". Behou die oues, bou nuut. Dit is duidelik nie moontlik om verhoudings met al die ou vennote te behou nie. Die VSA het sy mes in vir Suid-Afrika en waarskynlik ook vir Afrika. Dit is net realisties om te verwag dat die Agoa-voordele tot ’n einde sal kom en die VSA heffings op Suid-Afrikaanse uitvoere sal plaas.

Die top-ekonoom Elna Moolman het die syfers ondersoek en beraam watter uitwerking ’n 10%-heffing op alle handel tussen die VSA en sy handelsvennote sal hê (met die veronderstelling dat hulle almal met ’n 10%-heffing sal terugkap).

Die kumulatiewe effek op BBP sal wees:

Dit is natuurlik 'n makroverspreiding. Op mikrovlak sal sommige Suid-Afrikaanse uitvoerders baie swaar getref word (bv. voertuie en sitrusuitvoere uit die Wes-Kaap); ander minder (bv. aluminium). Uitvoerders sal verskillende uitvoerbestemmings moet ontwikkel. Die Afrika-vryhandelsooreenkoms en die uitbreiding van handel na ander bestemmings sal help om die slag te demp. Uitvoerdiversifikasie is nooit maklik nie, maar dit kan gedoen word. Ethiopië is van Agoa laat vaar en het onmiddellik sy uitvoere gediversifiseer, wat sy uitvoere na China aansienlik laat groei het.

Meer kwesbaar met direkte hulp

Waar Suid-Afrika meer kwesbaar is, en waar die Amerikaanse byl reeds geval het, is in direkte hulp. Suid-Afrika sou vanjaar $439 miljoen aan verskeie hulpprogramme ontvang het. Teen 'n wisselkoers van R18,50 sou dit sowat R7,2 biljoen beloop het.

Baie van die hulp was deur Pepfar (die President’s Emergency Plan for AIDS Relief), 'n Amerikaanse regeringsinisiatief wat in 2003 deur George W. Bush begin is om die wêreldwye MIV/vigs-epidemie te takel, hoofsaaklik in lande met hoë infeksiesyfers. Pepfar verskaf befondsing, behandeling en ondersteuning vir MIV-voorkoming, versorging en antiretrovirale terapie, veral in Afrika suid van die Sahara. Daardie geldvoorsiening is in die laaste week van Februarie gestaak, wat baie, baie mense sal laat sterf.

Hoewel Suid-Afrika 83% van die fondse wat nodig is vir ons vigsprogramme self voorsien, het sowat 17% van Pepfar gekom. Vir die mense wat behandel word in programme wat deur die 17% befonds word, kan Kissinger se woorde letterlik waar word – dit kan fataal wees!

 Suid Afrikaanse landbouers moet bouers en Welvaartskeppers bly.

Daarbenewens het die VSA ook wêreldwyd aan die Just Energy Transition Partnership onttrek. Die impak op Suid-Afrika is dat sowat $1,1 biljoen verbeur sal word – sowat 9% van die JETP-fondse wat van internasionale vennote ingesamel word. Die Amerikaanse voedselkantoor in Suider-Afrika is ook gesluit.

SA se reaksie

Suid-Afrika se reaksie op Trump se “wrecking ball" is merkwaardig gedemp. Kollektiewe dissipline is duidelik op Gwede Mantashe afgedwing ná sy kommentaar oor nie-uitvoer van minerale na die VSA. 'n “Strategiese stilte" is deur alle regeringslui gehandhaaf. Dit is welkom. Laat die diplomate en agterkanale hulle werk doen.

In 'n parlementêre debat het verskeie ministers die punt gemaak dat Trump Suid-Afrika niks skuld nie en dat die land moet leer om op sy eie bene te staan.

In sommige liberale en verregse kringe in ons politiek is daar 'n hygende begeerte dat Trump vir hulle moet doen wat hulle nie hier vir hulself kan doen nie. Hulle kan ernstige teleurstelling verwag. Trouens, hulle kan 'n terugslag veroorsaak. Kanada se Trumpgerigte konserwatiewes, wat veronderstel is om in die komende verkiesings 'n seker keuse te wees, sukkel skielik. Die opposisie kan nog wen, maar dit is nie meer die “slam dunk" wat dit was voordat Trump die Kanadese beledig het nie. Dit het al keer op keer in die politiek gebeur dat 'n eksterne paaiboelie interne steun aanwakker. Trump het self immigrante gebruik om steun aan te wakker. Pas die dinamiek hier toe en dit sal die grootste ironie wees as Trump die ANC help om steun na 50% terug te grawe! Diegene wat na Trump smag, moet versigtig wees vir waarmee hulle speel.

Hierdie veranderde wêreld vereis dat ons die werk wat ons as 'n land moet doen met 'n groter gevoel van dringendheid aanpak. Strukturele hervorming in elektrisiteitsoordrag, hawens en spoorweë neem te lank. Die begroting moet moeilike keuses weerspieël. Honger is 'n klad wat ons moet verbied. Ekonomiese groei moet herstel word om werksgeleenthede en begrotingshulpbronne te laat groei.


So, wat nou?

  • Die aanvaarde wêreldorde het fundamenteel verander. Ons moet dit in die oë kyk en saam met eendersdenkende vennote 'n pad vorentoe vind.
  • Die idee dat Suid-Afrika tussen die VSA en China moet kies, is heeltemal misleidend. Dit ignoreer die NOP-gevolgtrekking van 2012 en die realiteit wat reeds op grondvlak ontwikkel het.
  • Die kettingsaag wat Trump na Amerikaanse verhoudings met die wêreld gebring het, veral Europa, die Midde-Ooste en die Verre Ooste, kan moontlik nuwe geleenthede vir Suid-Afrika oopmaak.
  • Dit is belangrik om daarop te let dat Trump nie net teen Suid-Afrika op die aanval is nie, maar teen die wêreld. Tariewe word oral gehef en USAid is oral ontbind.
  • Die verlies van Amerikaanse steun sal Suid-Afrika dwing om sy huis in orde te kry – ons moet 'n groter gevoel van dringendheid wys om te doen wat ons moet doen.