Wat is die VOETSPORE wat jy NALAAT om KONFLIK te vermy?

Wat is die VOETSPORE wat jy NALAAT om KONFLIK te vermy?

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

KONFLIK ESKALEER IN FAMILIEONDERNEMINGS

Ek het oor die jare meer as 600 familieondernemings, meestal familieboerderye, met hulle Grondwette en Opvolgplanne bygestaan en deel toenemend met mediasies as gevolg van konflik in familieondernemings. Soms is die konflik tussen die ouers en die kinders maar deesdae is die konflik toenemend onder die broers en susters.

 OU SONDES GOOI LANG SKADUWEES

Konflik wat nie aangespreek word nie veroorsaak ’n bose kringloop wat van generasie tot generasie herhaal word. Dit het menige familieonderneming al laat opbreek as dit nie aangespreek word nie. Die sade wat in ons harte geplaas word begin ontkiem en bepaal ons denke en optrede. Dit is waarom Salomo ons waarsku, “Bo alles, bewaar jou hart, want alles wat jy doen vloei daaruit voort.”

In my boeke NALTENSKAP en VOETSPORE WAT ONS NALAAT brei ek uit oor die konflik in families waarmee ek moes deel. Dit het vir my al duideliker geword dat aangetroudes dikwels bydra tot twis tussen broers en susters. Twis is ook dikwels as gevolg van gebeure uit ons kinderdae wat soos kanker versprei.

Sielkundiges beweer dat kinders se wedywering begin sodra kind nommer twee die lewenslig sien. Met daardie nuutgebore baba se aanhoudende kreet om aandag, begin die toutrekkery tussen broers en susters om die titel van die mees geliefde te wen. Ek onthou dat ek gelees het dat St. Augustinus geskryf het dat hy ’n jaloerse baba persoonlik dopgehou en bestudeer het. Hy kon nog nie praat nie en het, bleek van jaloesie en bitterheid, sy broer aangegluur wat sy ma se melk deel.

Dit herinner my aan die oproep wat ek van Totius Coetzee (fiktiewe naam) uit Oos-Kaap (fiktiewe provinsie) ontvang het. Totius is die oudste van drie broers wat saam boer. Hy en sy middel-broer, Hendrik (fiktiewe naam), stamp al van kleintyd af koppe en het hy en die jongste broer ook nou begin koppe stamp. Totius was moedeloos en wou by my hoor of ek enige raad het. Hy vra my toe: “Het jy al ooit probeer om verhoudinge ’n bietjie beter te maak, maar uiteindelik die swak verhoudinge net vererger?”

“Ja dit het my ook al oorgekom en weet ek ook dat dit al baie ander mense oorgekom het want die Duitsers het tot ’n woord daarvoor ontwikkel.”

 

 ANDRÉ DIEDERICHS SE BOEK, NALATENSKAP.

“Ja, nogals nê. Wat is die Duitse woord?”

“Dit is een van daai lang onvertaalbare Duitse woorde. Die woord is verschlimmbesserung.”

Hy val my toe in die rede: “Wat op aarde beteken die woord, ek sal dit nie eens kan uitspreek nie.”

“Toemaar, dis nie nodig om die woord te onthou nie. Ek vertel dit net vir jou om te bevestig dat dit wat jy ervaar eintlik deur baie ander mense ervaar word. Die woord bevat twee werkwoorde in een woord. Dit is saamgestel uit die werkwoord verschlimmern, wat beteken om te vererger en die werkwoord verbessern wat beteken om te verbeter. In kort kom dit daarop neer dat ons soms dinge kan vererger wanneer ons probeer om dit te verbeter.”

BELANGRIKE WAARNEMING

Een van die belangrikste lewenslesse wat ons moet aanleer is dat alle mense nie konflik, of as hulle kwaad word, op dieselfde wyse verwerk of hanteer nie. Daar is mense wat hulle gou vererg en onmiddelik reageer. As die onderonsie oor is dan gaan hulle aan sonder om weer daaraan te dink. Daar is egter ook mense wat nie vinnig kwaad word nie maar wanneer hulle kwaad word vergeet hulle nie gou nie en kan dit tyd neem voor julle weer in vrede kan aangaan. Die antwoord is eenvoudig om geduld aan te leer deur nie verder met hulle te karring nie. Net soos daardie Duitse woord ons leer dat ons soms dinge kan vererger wanneer ons probeer om dit te verbeter. Hulle sal self aandui wanneer hulle die kwaad verwerk het.

Daar is egter ook mense wat van hulle kindertyd af aan kwaad bly vasklou. Ouers maak soms die fout om kinders wat goed presteer met die ander kinders te vergelyk. Hulle het dalk gesê dat hulle wens dat die een kind meer soos die ander kind is of iets soortgelyks. Ouers kan ook soms op spottender wyse na ’n gebeurtenis in ’n kind se lewe verwys en word dit oor tyd een van die familie se grappe wat oor en oor vertel word. Dit word dan ook dikwels verder oor tyd deur die ander kinders oorvertel, selfs nadat die ouers nie meer daar is nie. Wat ons egter nie altyd besef nie is dat die kind met wie dit gebeur het, die gebeurtenis dalk baie graag wil vergeet en naderhand ’n permanente wrok begin opbou teenoor die familie wat dit bly herhaal. Sulke kinders kan hulle by die familie begin onttrek om die voortdurende vernedering te ontsnap.

Ons moet nie vergeet nie dat al kom kinders almal uit dieselfde huishouding hulle tog elkeen anders is. Dit is soos ’n analogie oor ’n aartappelfamilie. Aartappels kom uit die grond en deel ’n soortgelyke oorsprongverhaal net soos kinders uit dieselfde gesin. Aartappels kan egter op verskillende maniere voorberei word, soos byvoorbeeld kapokaartappels, gebraaide of gekookte aartappels en so meer. Ons hou ook almal van verskillende speserye wat ook weer die smaak van die aartappel sal bepaal. Dit is soos ouers wat hulle kinders volgens hulle smake, of voorkeure, wil vorm. Op die einde van die dag is ons almal meer gesout of gepeper volgens al die invloede op ons lewens deur die jare.

   

WAT IS DIE VOETSPORE WAT JY NALAAT?

Jare gelede was ek gevra om ’n aanbieding te doen oor hoe ’n suksesvolle eienaar van ’n familieonderneming se balansstaat by sy of haar dood moet lyk. Toe ek oor die onderwerp dink het ek besef dat die sukses in ons lewe nie net oor ’n finansiële-sukses kan handel nie. Ek het al te dikwels moes waarneem hoe familieondernemings met goeie finansiële resultate ten gronde gaan as gevolge van swak verhoudinge. Ek verwys daarom daarna as:

DIE BALANSSTAAT VAN DIE LEWE deurdat sukses verg dat ons op drie dimensies moet fiks wees, naamlik:

 

  1. Finansiële Fiksheid:

Rentmeesterskap wat impliseer dat jy verantwoordelik deel met die finansiële bates van die famlieonderneming en dit nie hanteer asof dit jou persoonlike bates is nie.

  1. Emosionele Fiksheid:

Verhoudinge werk net soos ’n bankstaat. Jy maak deposito’s en ontrekkings. As jy meer ontrek uit verhoudinge as wat jy deponeer dan sal daardie verhoudinge ongesond raak en vise versa. Respek is die gom wat verhoudinge bymekaar hou.

  1. Geestelike Fiksheid:

My navorsing onder die oudste familieondernemings in die wêreld toon dat goeie kernwaardes, wat van generasie tot generasie by die kinders ingeprent word, die oorhoofse rede vir hulle volhoubaarheid is.

WEES ʼn VREDEMAKER om verhoudinge te herstel. Net soos die storie van die skrynwerker wat by die boer se plaas opgedaag het om vir werk te vra. Die boer en sy broer het vir jare in vrede saam geboer. Hy en sy broer het toe stry gekry en van mekaar geskei en glad nie verder gekommunikeer nie. Hy vra toe vir die skrynwerker om ’n 8-voet muur tussen hom en sy broer te bou sodat hy nie eens sy broer se huis aan die anderkant van die spruit kan sien nie, Toe hy van die dorp af op die plaas terugkom het die skrynwerker egter ’n brug gebou oor die stroom tussen hom en sy broer. Hy sien toe sy broer staan aan die anderkant van die brug met verbaasde oë.

Sy broer begin toe praat en sê hy kan nie glo dat sy broer ’n brug tussen hulle gebou het nadat hy hom so sleg behandel het nie. Die broers het toe oor die brug na mekaar gestap en mekaar omhels.

Mag ons almal brûe, eerder as mure, bou om gebroke verhoudinge te herstel. Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Mattheus 5:9)

Die van u wat soos ek in die BYBEL glo moet kennis neem van die Skrif in 1 Johannes 4: 20 “As iemand sê: Ek het God lief-en sy broeder haat, is hy ’n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie?”

Ek speek graag die Gaeliese seën oor jou:

 Mag die pad oplig ​​om jou te ontmoet. Mag die wind altyd op jou rug wees. Mag die son warm oor jou gesig skyn, die reën sag op jou velde val, en tot ons mekaar weer ontmoet, mag God jou in die palm van Sy hand hou.

SLOTSOM:

Die voetspore wat ons nalaat moet nie net ons nageslagte finansieel versorg nie maar veral ook ons spore op hulle harte nalaat want goeie waardes en familieharmonie is die kosbaarste geskenk wat ons ooit kan nalaat.

André Diederichs: Hoofsameroeper: FABASA 

ONTHOU: Wat jy nalaat om vandag te doen, is die voetspore wat jou kinders môre sal volg.

Vir hulp met jou GRONDWET en OPVOLGPLAN of met MEDIASIE kontak FABASA by:

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

of skakel (WhatsApp) 082 453 3288

Om die boeke NALATENSKAP en/of VOETSPORE WAT ONS NALAAT te bekom besoek:

https://naledi.co.za/product/nalatenskap/ en https://naledi.co.za/product/voetsporewatonsnalaat/

Of kontak vir Tertia per WhatsApp by 078 648 8616 om die bestelling te doen. 

 

 

 

 

 

 


Newsletter Subscribe