Wat ons in die groot debat oor vee misgekyk het- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die veesektor word dikwels daarvan beskuldig dat dit ‘n besondere las op die omgewing plaas.

Benewens die metaangas wat vee vrystel, het diere baie en voedsame voer nodig. Dit moet op landbougrond verbou word met behulp van water, energie en voedingstowwe.
Daar kan geargumenteer word dat dit ‘n indirekte en bron-intensiewe manier is om die wêreld te voed.

Die prentjie is egter meer ingewikkeld. Daar is tans geen amptelike en volledige databasis oor wat vee inneem nie. Daarom het die FAO (Food and Agriculture Organisations of the United Nations) dit onlangs tydens ‘n navorsingsprojek ondersoek. Wat eet vee en hoeveel voedsel word daarmee geproduseer?

Die resultate bevestig dat ‘n groot gedeelte van die planeet (ongeveer een derde) gebruik word om gewasse te beplant wat vir veevoer gebruik word. Maar daar is ook gevind dit verteenwoordig ‘n klein gedeelte van wat plaasdiere eet. Altesaam 86% van hul voer word saamgestel uit gras, hooi, semels en ander neweprodukte wat nie gesikik is vir menslike gebruik nie. Indien dié neweprodukte nie deur vee verbruik word nie, sal dit ‘n las vir die omgewing raak soos wat die menslike vraag na verwerkte kossoorte toeneem.

Die resultate toon ook aan dat hoe en waar vee geproduseer word, ‘n invloed het op die doeltreffendheid daarvan om voer in diereprodukte te omskep. Weidende diere het byvoorbeeld gemiddeld drie kilogram van eetbare voer nodig om een kilogram vleis te produseer, terwyl industriële varke of hoenders soveel as vier kilogram voer benodig.

Weidende diere het minder as een kilogram voer nodig om een kilogram eetbare proteïen te produseer, sodat hulle in werklikheid ‘n netto positiewe bydrae maak.

Wekroepe om na plantgebaseerde diëte oor te skakel in die soeke na ‘n meer planeet-vriendelike voedselstelsel oorvereenvoudig dus ‘n ingewikkelde saak.

Benewens die feit dat lewendehawe voedsame vleis, melk en eiers verskaf, het dit ook ander voordele. Dit maak gebruik van landbougrond wat nie geskik is vir boerdery nie. Ongeveer twee derdes van die planeet se weiding is nie geskik vir die produksie van gewasse nie, maar dit word wel aangewend vir weiding vir vee. Dié diere dra ook by tot die skep van gesonde ekostelsels en oesproduktiwiteit deur die produksie van bemesting.

Terwyl die meeste debat rondom lewendehawe fokus op die druk wat diereproduksie op die omgewing plaas, is dit problematies om vee net in dié verband te bespreek. Deur dit te doen, word die mense agter die vee misgekyk.

Om diereproduksie op te gee, is om ‘n bron van voedsel en inkomste vir baie van die wêreld se armste mense op te gee.

In baie landelike gebiede is dit onmoontlik om voldoende voedsame gewasse sonder diere aan te plant. Vee en gewasse is regoor die wêreld deel van dieselfde plase en as sulks afhanklik van mekaar. Om een te beëindig sal ook die einde van die ander een beteken.

Die verwydering van vee sal ‘n nadelige uitwerking op die gesondheid en voeding van baie weerlose bevolkings hê, maar ook op hul finansies. Die FAO bereken dat ‘n half biljoen mense van lewendehawe afhanklik is vir hul voedsel en inkomste.

Verder is daar ‘n ingewikkelde realiteit agter die hoop om ‘n reguit paadjie na volhoubaarheid te volg. Veeproduksie groei vinnig omdat die vraag na diereprodukte styg, veral in ontwikkellende lande. Daar word beraam dat 70% meer diere teen 2050 benodig sal word om die wêreld te voed.

Om jou ‘n wêreld sonder vee voor te stel is nie net onwys nie, maar ook onrealisties.

Daar moet eerder bepaal word hoe vee deel van die menslike verbruik, ekonomie en kultuur kan bly terwyl die omgewingsimpak daarvan verminder word.