Jongste katoenskatting grootliks onveranderd- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die agtste skatting vir die 2018/19-produksiejaar dui op ‘n katoenoes van 244 543 bale vesel vir Suid-Afrika, ‘n styging van 30% teenoor die vorige seisoen en min of meer onveranderd vanaf die vorige maand se skatting.

Droëland- en besproeiingshektare toon toenames van onderskeidelik 45% en 22% teenoor die vorige seisoen, hoofsaaklik weens die gunstiger pryse van katoen teenoor mededingende gewasse, asook die hernieude belangstelling in katoenproduksie.

Wêreldkatoenproduksie

Volgens die International Cotton Advisory Committee (ICAC) sal die huidige 2019/20-seisoen die tweede agtereenvolgende seisoen wees waar produksie deur verbruik oorskry word. Die ICAC beraam dat wêreldkatoenproduksie in 2019/20 met 5% tot 26.9 miljoen ton sal toeneem terwyl globale katoenverbruik op 26.7 miljoen ton geskat word; 'n toename van 1%.

China en Indië sal gesamentlik vir 43% van globale produksie in 2019/20 verantwoordelik wees. Katoenproduksie in die VSA, die derde grootste katoenproduserende land in die wêreld, sal na verwagting met sowat 23% tot 4.9 miljoen ton in 2019/20 toeneem.

Hoewel die ICAC se katoenverbruikprojeksie vir 2019/20 op 'n moontlike rekordverbruik dui, sal dit net 1% meer as die vorige rekordverbruiksyfer van 12 jaar gelede wees. Die verswakkende wêreld ekonomiese omgewing en stadiger ekonomiese groei sowel as mededinging van mensgemaakte vesels het 'n invloed op die globale verbruik van katoen gehad.

Die ICAC verwag dat wêreldkatoenhandel in 2019/20 met 2% tot 9.5 miljoen ton sal toeneem met Bangladesj en Viëtnam wat gesamentlik vir die grootste deel van die uitbreiding in katoenhandel verantwoordelik sal wees. Die gespanne handelsbetrekkinge tussen die VSA en China het tot gevolg gehad dat uitvoere van Amerikaanse katoen in 2018/19 met 8% tot 3.16 miljoen ton afgeneem het.

Die ICAC beraam dat wêreldeindvoorrade van katoen in 2019/20 met sowat 1% sal toeneem om op 18.3 miljoen ton op 31 Julie 2020 te staan te kom. Hoewel China steeds die enkele grootste houer van katoenvoorrade sal wees, sal voorraadvlakke in China voortgaan om te daal en na verwagting in 2019/20 met 5% tot 8.5 miljoen ton daal. Eindvoorrade van katoen in die VSA sal volgens die ICAC in 2019/20 met 46% toeneem tot 'n tien jaar-hoogtepunt van 1.56 miljoen ton, grootliks weens die impak van die handelsversperrings.