Hulp met uitvoere verwelkom- RPO Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het met dank kennis geneem oor die feit dat R495.10 miljoen toegeken is aan die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om biosekuriteit en uitvoere te bevorder.



'Die uitbreking van bek-en-klouseer verlede jaar was 'n groot terugslag vir die rooivleisbedryf en het veral uitvoere negatief beïnvloed', sê mnr Koos van der Ryst, Voorsitter van die nasionale RPO.

'Ons het hard gewerk om uitvoere weer aan die gang te kry en was suksesvol om verskeie uitvoermarkte weer te heropen waarvan die Chinese mark een van die belangrikste is', aldus mnr Van der Ryst.

Die toekenning van hierdie bedrag om biosekuriteit en uitvoere te bevorder sal 'n wesenlike bydrae lewer om vertroue by ons handelsvennote te skep en uitvoere te bevorder in die tyd wat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer vrye sone status verloor het. Ons vertrou dat 'n wesenlike gedeelte van die begroting aangewend sal word vir bek-en-klouseer beheer.

Ons het van die hoogste kwaliteit rooivleis in die wêreld en ons produsentepryse is 30% onder die internasionale norm. Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf is internasionaal kompeterend en uitvoere bevoordeel al die rolspelers in die waardeketting.

Die bedryf werk tans baie hard om 'n naspeurbaarheidstelsel te implementeer vir die bedryf om vertroue te skep in ons produk en vertroue by ons handelsvennote te skep.

'Die RPO het met groot dank kennis geneem dat R40 miljoen geoormerk is in die begroting vir die volgende drie jaar om 'n identifikasiestelsel te implementeer wat die weg baan vir naspeurbaarheid. In samewerking met die Departement is 'n plan reeds ontwikkel en ons kan nou begin implementeer', aldus mnr Van der Ryst.

Dit sal 'n spanpoging wees tussen die bedryf en die Departement. Die RPO is ook opgewonde oor die feit dat R130 miljoen begroot is vir inspeksie- en laboratoriumdienste wat plaaslik en internasionale monitering sal verseker. Daar is ook R45 miljoen oor die medium termyn geallokeer vir die implementering van mikrobiese en anti-mikrobiese monitering en patagene residu programme.

Die allokering van R1.2 miljard aan die Landbank vir finansiering van opkomende boere met die doel om 450 swart boere jaarliks te vestig is goeie nuus aangesien die bedryf 40% getransformeer is en ontwikkelende rooivleisprodusente groot potensiaal het om produksie te verhoog.


Newsletter Subscribe