Suid Afrika- Gunstige seisoen, besonderse wyne- Mei 2020

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Verbruikers kan uitsien na uitsonderlike wyne van Suid-Afrika se 2020-wyndruifoes, danksy gunstige weerstoestande regdeur die seisoen. Dít volgens die Suid-Afrikaanse wynbedryf se jaarlikse Wynoesverslag 2020.

"Hoewel dit altyd belangrik is om die diversiteit van ons tien wyndruifverbouingstreke in ag te neem, het ons bedryf oor die algemeen ? baie goeie seisoen ervaar, wat ons glo wyne van uitsonderlike gehalte na verbruikers sal bring," sê Conrad Schutte, konsultasiediensbestuurder van die wynbedryf se verteenwoordigende liggaam Vinpro.

Die 2020 wyndruifoes word op 1 349 883 ton beraam, volgens die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels), se mees onlangse skatting op 24 April 2020. Dit is 8.2% groter as die 2019 oes.

Weerstoestande was oor die algemeen gunstig en die trosgetalle het vroeg in die seisoen belowend gelyk, maar winderige toestande gedurende die set- en sensitiewe korrelgroeistadiums het tot kleiner korrels en ? ligter oes in sekere gebiede bygedra. Die seisoen is ook gekenmerk deur groot variasie tussen, en selfs in dieselfde wingerdblokke wat droë toestande ervaar het.

Die Stellenbosch-, Swartland-, Kaap-Suidkus, Paarl- en Breedekloofstreke het almal meer wyndruiwe as in 2019 geoes, en die Olifantsrivierstreek het bykans weer na sy normale produksievlakke teruggekeer nadat hierdie een van die streke was wat die ergste deur die onlangse droogte getref is. Die Klein Karoo gaan steeds swaar gebuk onder die voortslepende droogte, wat ook in sekere dele van die Robertsonstreek ervaar is, terwyl rypskade tot groot oesverliese in die Noord-Kaap gelei het.

Die COVID-19 geskarrel
Hoewel parstyd sowat twee weke vroeër as gewoonlik afgeskop het, het die onverwagse aankondiging van die COVID-19 inperking wat op 26 Maart in werking getree het, daartoe gelei dat heelwat produsente moes skarrel om die laaste druiwe vir die seisoen te pars en om die wynmaakprosesse in die kelders te finaliseer.

Wynverwante aktiwiteite is aanvanklik verbied, maar die regering het op die nippertjie ? toegewing gemaak dat oes- en bergingsaktiwiteite wat noodsaaklik is om die vermorsing van primêre landbouprodukte te verhoed gedurende die inperkingstyd, wel toegelaat word. Ten tyde van dié aankondiging moes sowat 40 000 ton wyndruiwe nog gepars word.

"Weens onsekerheid rondom die aankondiging van die inperking het sekere produsente besluit om die druiwe sonder voorbehoud te pars om dit so gou moontlik in die kelder te kry, terwyl ander vir optimale rypheid gewag het om uitsonderlike gehalte te verseker," sê Conrad.

Voortreflike wyngehalte
"Ons is opgewonde oor die voortreflike wyne wat uit die 2020-wyndruifoes gaan voortvloei, met Chenin Blanc en Chardonnay aan die voorpunt," sê Conrad. "Die vroeë druifsoorte het baie goeie suur getoon, en die kleur- en tannienontledings in die rooiwyne dui op vol wyne met gekonsentreerde geurprofiele."

Die 2020 wynoes - insluitend sap en konsentraat vir nie-alkoholiese doeleindes, wyn vir brandewyn en distilleerwyn - gaan na raming 1 046.2 miljoen liter beloop, teen ? gemiddelde verhaling van 775 liter per ton wyndruiwe.

Reg vir die mark
Nadat beide plaaslike verkope en wynuitvoere gedurende Suid-Afrika se COVID-19 inperking ingestel is, was die bedryf verlig toe die regering besluit het om wel die uitvoer van drankprodukte vanaf 1 Mei 2020 toe te laat, wat die vervoer na hawens en lughawens, asook verwante aktiwiteite om wyn vir uitvoer voor te berei, soos bottelering en etikettering, insluit.

"Ons as bedryf is dankbaar en verlig daaroor dat ons weer met uitvoere mag voortgaan. Dit sal ons uiteindelik in staat stel om ons uitnemende 2020-oesjaarwyne aan die handel, media en verbruikers regoor die wêreld bekend te stel," sê Siobhan Thompson, bestuurshoof van Wines of South Africa.

"Ons wil graag ons dank uitspreek teenoor almal in ons internasionale netwerk van agente, invoerders en vriende wat nooit opgehou het om ons wyne en mense te ondersteun nie, ten spyte van die uitdagings wat ons as ? bedryf in die gesig gestaar het," sê sy.

Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 3.3% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R36 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en neem nagenoeg 300 000 mense in diens.

2019/20 Groeiseisoen

Die meeste streke het ? beter na-oesperiode as die afgelope paar jaar beleef. Die blare het ongeveer op dieselfde tyd, of later as gewoonlik geval, wingerde was gesond en produsente het toegang tot na-oesbesproeiingswater gehad.

Voldoende koue-eenhede is gedurende die winter opgebou om dormansie op te hef, terwyl reënval oor die streke gewissel het, maar meestal ondergemiddeld was.

Die lente is gekenmerk deur gunstige toestande, wat tot ietwat vroeër maar gelyke bot bygedra het. Die vroeë groeiseisoen sal veral onthou word vir goeie, egalige lootgroei.

In die somer was temperature gematig gedurende die rypwordingsperiode, met die afwesigheid van die kenmerkende hittepieke. Hierdie toestande het veral ? positiewe effek op die behoud van geure in die druiwe gehad. Reënval gedurende die rypwordingsperiode het in sekere streke die druk op waterbronne verlig, terwyl dit in ander streke tot ? toename in siektedruk (donsskimmel, suurvrot en botritis) gelei het, terwyl onkruidbeheer ook streng toegepas moes word.

Oorsig oor die streke
Breedekloof
Ietwat groter oes as in 2019, hoewel die teenwoordigheid van wind gedurende korrelgroei ? negatiewe effek op blom en set in sekere gebiede gehad het.

Kaap-Suidkus
Beter opbrengste as die vorige seisoen, danksy gunstige klimaatstoestande, die implementering van Guyot-snoeistelsels, gebruik van rusbreekmiddels en wysigings tot bemestingsprogramme.

Klein Karoo
Weer eens ? klein oes weens die voortslepende droogte en ? krimpende wingerdstand.

Noord-Kaap
Laer as verwagte produksie, vanweë erge rypskade wat aan die einde van Oktober in die laerliggende dele oos van Upington voorgekom het.

Olifantsrivier
? Uitsonderlike jaar. Wingerde het goed herstel van die droogte en die streek het oor beter watervoorsiening as gedurende die vorige seisoen beskik.

Paarl
? Beter oes as in 2019, danksy gunstige na-oestoestande, voldoende water vir besproeiing en matige temperature gedurende rypwording.

Robertson
Kleiner opbrengste weens watertekorte in sekere dele van die streek, asook kleiner korrels as gevolg van wind gedurende set, ? afname in nuwe aanplantings en die voorkoms van botritis en suurvrot na reën in Januarie.

Stellenbosch
? Groter wyndruifoes as in 2019, danksy goeie reserwes wat in die na-oesperiode opgebou is, reën gedurende die belangrike korrelgroeifase en matige klimaatstoestande regdeur die groeiseisoen.

Swartland
Groter opbrengste as in 2019, gekenmerk deur goeie trosgetalle danksy goeie na-oesbesproeiing en winterstoestande. Grondprofiele is ook goed aangevul deur laat winterreënval.

Worcester
Wisselende opbrengste regdeur die streek, maar produsente teken oor die algemeen ? ietwat groter oes as in 2019 aan.