Toekoms van Vleis

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Kleintyd het ek vas geglo my ma is heldersiende.

Sy kon sommer sien wat in my kop aangaan: honger, dors, eensaamheid, hartseer of sonde! Nou begin ek dink dis ‘n gawe wat alle vroue gekry het. My eie, wettige (en geliefde) vrou toon tekens van dieselfde vermoë. Normaalweg bring dit nie erge spanning nie maar daar is ‘n paar goedjies wat nie vir haar gelukkig stem nie. Sonder om nou ‘n onnodige bondel vuil wasgoed hier oop te gooi wil ek die twee sakies wat al hoe meer opduik darem lug gee: My Lyf en My Lus.

Die twee hou nogal verband want My Lyf raak te veel en dis klaarblyklik vanweë die oormatige invloed van My Lus vir eet van spesifieke dinge. Sy sê niks nie maar ek kom agter haar strategie is om My Lyf onder beheer te kry deur My Lus te bestuur. Daar is nie meer plastiekbakkies in die yskas met oorskiet tjops, vleis, koek, kaas of dergelike nie. Al waarvoor die plastiekbakkies nou deug is om komkommers en tamaties en blare te hou. Ek het ook nie besef dat dit moontlik is om ‘n gesin van ses te voed sonder ten minste een baie vars brood per dag nie, laat staan nog ‘n witte wat jy sommer so met die hand uithol nie. Dat ons boere in die moeiliklheid is en die droogte sy tande ingeslaan het sien ek duidelik want vleis met vet aan bestaan ook nie meer nie. Wat wel geredelik beskikbaar is, is sulke vaal, ontbeende hoenderfilette wat skaamteloos sonder vel net daar lê. Selfs hulle is nie eens meer gereelde besoekers nie en word ruimskoots afgewissel met nuwe resepte wat meer groen as goed bevat en sekerlik hulle ontstaan aan die verkeerde kant van die heining gekry het in die hiernamaals.

So sit ek op my stoep en bepeins die treurige toestand van my onmiddelike toekoms sonder vreugde. Is dit enigsins moontlik om te bestaan sonder die gesis van ‘n tjoppie, wors of steak op die vuur. Sal ons nog vuur maak of sal ons net foto’s van ‘n braaiery bekyk, baie soos ons deesdae met piekniekplekke langs die pad doen. Ons het almal ‘n kiekie van ons gesin kleintyd wat by so ‘n plekkie padkos geniet op pad na êrens.

Ek gee geredelik toe dat die wetenskap al vêr gevorder het met die maak van goed wat lyk en ruik soos vleis. En vir diegene wat gewetensbesware het oor vleis maar steeds die vreugde wil beleef dien dit sekerlik as ‘n troosprys. Ek kan nie. Ek kan regtig nie!

 My werk behels, onder andere, die bestuur van risiko binne die landbousektor. Op die manier het ek darem al ‘n goeie idee hoe die meeste boere werk en breek my hart as ek sien hoe boere tydens die droogte besluite moet neem oor hulle kuddes wat geen mens behoort te neem nie. Wanneer ek, soos al my bure, kla oor vleispryse dan moet ek myself briek want ek weet daardie rib of filet het nie maklik tot by my tafel gekom nie. Wanneer ek met groepe buite die landbou praat maak ek hulle attent op die feit dat landbou elkeen van hulle raak of hulle nou in Sandton of Soweto bly. Wanneer ek ‘n bleek hoenderfilet en ‘n paar skyfies komkommer sien sug ek swaar.

 Gaan die wêreld moet oorleef op vals vleis en opgeterte groentes? Gaan my kleinkinders ooit die vreugde smaak van met ‘n knipmes die reste van ‘n gespitte skaap afeet na die mense die boudvleis en blaaie gestroop het. Die diepe vreugde wat in ‘n skenkelpot saamgeweef is met ‘n lang sous en stampmielies.

Wat is dan die toekoms van vleis hier ondermaans?

Dat ‘n oormaat van enigeiets kan lei tot ‘n lyf soos die uwe is inderdaad so. Dat witvleis eintlik behoort te verwys na die valer dele van ‘n hoender of vis is ook so eerder as na ‘n lagie vet op ‘n tjop of teen ‘n steak se mooi kant. Dat mens sekerlik nie net “beige” kos behoort te eet nie, soos my dogter na haar boetie se vleis, rys en aartappel dieet verwys nie. Enige man sal vir jou sê dat daar na menige jagtogte, visvangekspedisies en sakereise ‘n behoefte aan groente of slaai is. Dis nogal lekker ook, so af en toe.

Die geleerdes baklei aanmekaar oor hoeveel vleis of enigsins vleis of kunsmatige vleis of vis of hoender of komkommer dan nou die oplossing vir almal se probleme is, maar ek dink nie hulle weet self so lekker nie. Nou baklei hulle maar en verwar ons en veral my vrou.

 Die antwoord vir die verbruiker lê sekerlik in matigheid. Maar ons raak al hoe meer op onse planeet en die behoefte na en waarde van eties geproduseerde, gesonde rooivleis beteken dat produsente gaan moet uithaal om genoeg produk te lewer vir die behoefte.

 Daar is alternatiewe bronne van proteine wat geintegreer kan word by ‘n gesonde eetplan. Die verantwoordelike verbruiker sal waarskynlik na dit begin kyk en bes moontlik ‘n keuse maak op grond van prys. Dit kan ook wees dat die slimmes van die goed kan omvorm tot iets wat lyk en proe soos vleis. Toe ek jonk getroud was het ek ook maar soms ‘n dis met sous gegooi dat dit net darem vaagweg bekend kan proe en bietjie sawwer raak.

 Die huwelik is vanuit die staanspoor ‘n kompromie, maar so met die jare gooi jy al minder sous oor haar geregte en sy begin al hoe meer soos jou ma weet wat in jou kop leef. Omdat dit ook ‘n vennootskap is help julle mekaar en daarom bied jy aan om sondag te kook. Jy het gesê jy sal kook, jy het niks gesê van slaai maak nie maar sy is heldersiende en so word ‘n slaai opgetower as jy haar ‘n tydsein gee vir wanneer die vleis reg sal wees. My Lyf en My Lus kan klaarblyklik in vrede leef, solank julle net aanhou vleis boer en so hier en daar iemand ‘n tamatie of komkommer plant

ANDRIES WIESE-  Hoof Hollard Landbou 


Newsletter Subscribe