DODGE RAM

Natter reen vooruitsigte is goeie nuus vir boere- Suid Afrika

Danksy goeie reënval is die droogte in groot dele van Suid-Afrika gebreek.

Dit is goeie nuus vir boere dat data daarop dui natter toestande gaan uitbrei na die baie droë dele wat nog onder die droogte gebuk gaan. Interessant genoeg, lyk dit asof droogtes wêreldwyd eerder minder intens word as dat dit vererger.

Die gemiddelde reënval van ’n spesifieke plek bestaan uit ondergemiddelde en bogemiddelde reënval, en dit is belangrik om voldoende historiese data hiervoor te gebruik. Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) het in riglyne vir die berekening van jaarlikse gemiddelde reënval in 2017 bevestig dat die minimum tydperk 30 jaar moet wees. Dit is ’n baie rigiede syfer wat meer geldig is in gebiede waar wisselvalligheid in reën min voorkom. In woestyngebiede is baie langer tydperke nodig om ’n aanduiding van gemiddelde reënval te kry. Dit is nodig om soveel jare moontlik by die berekeninge in te sluit, maar nie minder as 30 jaar nie.

Droogte is nie noodwendig ’n gebrek aan reën nie, maar eerder die afwyking van die langtermyngemiddelde verwagting vir ’n spesifieke plek. Dit is normaal dat daar nie reën in die woestyn voorkom nie, maar abnormaal as daar nié reën val in gebiede wat gewoonlik reën kry nie. ’n Unieke eienskap van reënval wêreldwyd is dat ondergemiddelde jaarlikse reënval nie lukraak voorkom nie, maar eerder as agtereenvolgende jare gegroepeer is. Dit is dieselfde met bogemiddelde reënvaljare. Só word semi-siklusse gevorm.

Faktore soos El Niño en La Niña kan afwykings in hierdie agtereenvolgende jare met dieselfde reënvalpatroon veroorsaak, en só kan ’n baie nat jaar met vloede in die middel van ’n reeks droë jare voorkom as gevolg van ’n sterk La Niña-verskynsel, en omgekeerd. In die afgelope paar dekades was daar droogtetoestande oor groot dele van Suid-Afrika. Die huidige droogte in die suidelike dele van die Noord-Kaap en sentrale tot suidoostelike dele van die Oos-Kaap duur reeds etlike jare, en ondergemiddelde reënvalpatrone kom voor. Die vraag is of dit ’n abnormale situasie is, of binne die verwagtinge van die wisseling is wat vir ’n gebied of plek moontlik is.

HISTORIESE REËNVALPATRONE Die Australiese weerburo het ’n globale datareeks vir reënval saamgestel vanaf die jaar 1900 wat die aarde se jaarlikse totale reënval uitdruk wat die langtermyngemiddelde betref. Hoewel aanvaar moet word die betroubaarheid van data en die hoeveelheid meetpunte aan die begin van die datareeks verskil drasties van die huidige metodes en dataverspreiding, behoort dit tog ’n aanduiding van patrone te gee. Van 1900 tot ongeveer 1950 was daar net 12 jare waar bogemiddelde reënval wêreldwyd voorgekom het. Van 1900 tot 1916 was daar wêreldwyd ’n aaneenlopende tydperk met ondergemiddelde reënval. 5/8/2021 Natter vooruitsigte is goeie nuus vir boere  Van 1925 tot 1946 was daar net vier jare met bogemiddelde reënval. Een van die ergste droogterampe het in die 1930’s in Amerika voorgekom met die sogenoemde Dust Bowl toe droogtes en swak bestuurspraktyke verantwoordelik was vir ramptoestande oor groot dele van dié land. Ook in Suid-Afrika is die groot droogte van 1933 goed bekend. Dié jaar se werklike reënval was wel nie die laagste wat aangeteken is nie, maar eerder ’n aanloop wat van 1926 af gekom het. Midde-in die baie lang tydperk van ondergemiddelde reënval in Suid-Afrika in die eerste vyf dekades van die 1900’s, was daar in Maart 1925 een van die ergste vloede in menseheugenis. Dit is volgens bronne steeds die grootste vloed in die BenedeOranjerivier, groter as in 1974 tot 1976 en 1988. Volgens syfers het die watervlak van die Oranjerivier met 14 meter gestyg. As daar na die afgelope 120 jaar se data gekyk word, lyk dit asof droogtes wêreldwyd eerder minder intens word as erger.

GEMIDDELDE LENGTE VAN DROOGTES IN SA Wisselvalligheid van reënval neem toe hoe minder reën in ’n gebied voorkom. Die standaardafwyking wat byvoorbeeld verwag kan word vir Pofadder in die Noord-Kaap, waar die jaarlikse gemiddelde reënval ongeveer 105 mm is, is sowat 60 mm. Dit beteken dat die reënvaltotaal wat gemeet is, ongeveer 45 mm tot 165 mm is. Trompsburg in die Suid-Vrystaat se standaardafwyking is ongeveer 40%, met ’n jaarlikse totale reënval van net meer as 400 mm. ’n Paar plekke is vergelyk wat betref die lengte van ondergemiddelde reënvaltydperke. ’n Gemiddelde jaarlikse reënvaltotaal oor drie jaar (drie jaar skuiwende gemiddeld) is gebruik om die effek van enkele uitskieterjare te verminder om nader aan die werklike droogtesiklus te kom.

Pofadder is een van die droogste plekke in Suid-Afrika met ’n jaarlikse gemiddelde reënval van sowat 100 mm. Die gemiddelde aantal jare met ondergemiddelde reënval (oor drie jaar) sedert 1915 is amper nege jaar. Dit het gewissel van ’n tydperk van twee jaar tot ’n 16-jaar-tydperk (van 1924 tot 1940). Die huidige droogte duur agt jaar. Dit is maar die vierde langste tydperk naas die 12 jaar van 1964 tot 1975, en die 11 jaar van 1943 tot 1954. Daar was ook ’n droogte van agt jaar van 1979 tot 1987. Die gemiddelde tydperk met gemiddelde tot bogemiddelde reënval is ses jaar. Daarvan was die tydperk van 15 jaar van 1988 tot 2003 die langste. Die res was gemiddeld drie tot vyf jaar lank. Die jaarlikse gemiddelde reënval van Williston in die suidelike deel van die Noord-Kaap is 150 mm tot 160 mm.

Die gemiddelde lengte van droogtetydperke was ongeveer ses jaar. Die langste tydperk, van 1924 tot 1938, het 14 jaar geduur. Die gemiddelde lengte van natter tydperke was ook ongeveer 6 jaar. Van 1995 tot 2016 was daar twee afsonderlike tydperke van onderskeidelik 9 jaar en 11 jaar met bogemiddelde reënvaltoestande. In die lig van die geskiedenis was dit eintlik abnormaal. Die jaarlikse gemiddelde reënval van 1995 tot 2015 was 210 mm. Dit was meer as 35% bogemiddeld en dit is waarskynlik as die nuwe normaal beskou. Die jaarlikse langtermyngemiddelde reënval van Jansenville in die Oos-Kaap is ongeveer 260 mm. Die gemiddelde lengte van droogtetydperke of ondergemiddelde reënval is vier en ’n half jaar, en natter tydperke duur ongeveer drie jaar. Die langste droë tydperk was 10 jaar van 1986 tot 1995. 5/8/2021

Natter vooruitsigte is goeie nuus vir boere  In Lichtenburg in Noordwes is die langtermyngemiddelde reënval sowat 580 mm per jaar, met droogtetydperke wat gemiddeld drie jaar duur. Die langste droogte was tien jaar van 2001 tot 2010. Die gemiddelde lengte van natter tydperke is vier jaar, maar dit wissel van twee tot nege jaar. Bethal in Mpumalanga, met ’n langtermyngemiddelde jaarlikse reënval van 710 mm, se gemiddelde tydperk van ondergemiddelde reënval is ook drie jaar. Die bogemiddelde reënvaltydperk is sowat vier jaar. Malmesbury in die Swartland se jaarlikse langtermyngemiddelde reënval is 400 mm. Die gemiddelde lengte van droë asook nat tydperke is ses tot sewe jaar.

Die langste tydperk met ondergemiddelde reënval was 14 jaar, van 1928 tot 1941, en die tweede langste tydperk was 10 jaar, van 1997 tot 2006. Bredasdorp in die Rûens se jaarlikse langtermyngemiddelde reënval is 450 mm. Tydperke van ondergemiddelde reënval duur drie tot vier jaar, met die langste droë tydperk van 10 jaar van 1967 tot 1976. Natter tydperke het ook gemiddeld drie tot vier jaar geduur, met die langste tydperk van agt jaar van 1952 tot 1958. Een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word om ’n droogte se intensiteit te bepaal, is die reënvalverspreiding oor tyd. Ondergemiddelde reënval met die regte verspreiding kan steeds baie goeie landboutoestande tot gevolg hê. In gebiede soos in die Noord-Kaap waar die langtermyngemiddelde reënval baie laag is, sal ondergemiddelde reënval met ’n goeie verspreiding egter nie veel kan uitrig om ’n droogte se uitwerking te verminder nie omdat dit te min reën is. Opvolgreën is dus een van die belangrikste faktore om ’n droogte se effek te verminder, maar dan moet dit goeie, doeltreffende reën wees.

HOE LANK NOG VOOR DIE HUIDIGE DROOGTE BREEK? Vir ’n plek soos Williston het ondergemiddelde reënval reeds sedert 2016 begin voorkom. Daar is die droogte in sy sesde jaar. Die gemiddelde tydperk van droogte, gegrond op historiese gegewens vir die gebied, is ongeveer ses jaar tot sewe jaar, maar daar was droogtes in die eerste helfte van die vorige eeu wat langer geduur het. Dit was deel van ’n globale droogte wat tans nie voorkom nie. Statisties gesproke is die huidige droogte omtrent die lengte van die gemiddelde droogte en behoort dit nie baie langer aan te hou nie. As daar na die geografiese verspreiding van droogte in Suider-Afrika in die afgelope drie tot vier jaar gekyk word, is daar ’n patroon van opheffing van droogte. Bogemiddelde reënval het van ongeveer 2017 in die oostelike dele van die somerreëngebied begin voorkom en geleidelik weswaarts uitgebrei. In 2018 het dele van die Oos-Vrystaat goeie reën begin kry, en van 2019 af het plekke soos Lichtenburg bogemiddelde reënval begin kry. In 2020 het dit na die oostelike dele van die Noord-Kaap begin uitbrei, en vanjaar na groot dele van die Kalahari en gedeeltes van die res van die Noord-Kaap en Namibië. Gedurende hierdie tydperk het dit geleidelik droër begin word in die noordoostelike dele van Mpumalanga namate die gebied van reën weswaarts migreer. Met die verwagting van ’n opvolg- La Niña-verskynsel vir 2021-’22 is die kans baie goed dat natter toestande na die huidige baie droë dele sal uitbrei wat gewoonlik laaste in die ry  vir reënval staan. Die groot vraag is wat boere gaan doen wanneer dit weer begin reën en hulle ’n natter fase betree. Kan die uitwerking van die droogte omgekeer word voordat die volgende droogte weer kom? Die vraag is ook onder watter omstandighede veeboerdery volhoubaar in hierdie gebiede is in die lig daarvan dat droogtes van vyf of meer jaar deel van die normale reënvalpatroon is. 

Johan van den Berg - Santam


DODGE RAM

LIVE NEWS OF THE DAY