Kan dié plant die planeet red, of is dit maar net ’n spekskiet-boom?

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

SPEKBOME is deesdae die ster van die internasionale klimaatsverandering-show. Dis die Greta Thunberg van die plantwêreld en word voorgehou as die eenstop-antwoord op ons koolstofprobleme. 

Dié oulike inheemse vetplant (Portulacaria afra) en darling van die media, plaaslik en internasionaal, groei maklik en is droogtebestand. Almal wil dit nou orals plant vanweë hierdie “wonderplant” se besonderse vermoë om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder. “Aanvaar die #spekboomchallenge: plant 'n spekboom en doen jou deel om klimaatsverandering te bekamp'' is die refrein op sosiale media.

Dis maklik – pluk net 'n steggie, druk dit in die grond, gee bietjie water en siedaar, jy het 'n nuwe spekboompie. Stadsrade, besighede en nie-regeringsorganisasies het ook reeds groot plant-planne. Kaapstad se stadsraad wil 100,000 spekbome aanplant, 'n wynplaas in die Klein Karoo 1 miljoen en naby Stellenbosch word 'n enorme spekboomlabirint in fynboswêreld aangelê.

Gaan dit werklik boete doen vir jou koolstofsondes, of is spekbome die nuwe slagoffer van fopnuus en oorentoesiasme wat nie op feite gegrond is nie?

Inderdaad ’n rockster, en lekker in slaai
Spekboom, ook bekend as olifantskos of pork bush, is inderdaad 'n besonderse plant en is met rede gewild. Dit is gehard, waterslim en veelsydig.

Dit kan 'n struik of klein boompie wees, of jy kan dit in 'n heining snoei, as grondbedekking gebruik of tot 'n briljante bonsai omvorm.

Spekboom word tradisioneel gebruik vir 'n verskeidenheid kwale en 'n mens kan dit eet. Gooi gerus 'n paar blaartjies in jou slaai vir 'n bietjie byt – dit bevat baie vitamien C.

Spekbome kom natuurlik voor in veral die Oos-Kaap, waar dit 'n sleutelspesie is in die unieke ruigteveld (thicket) van plekke soos die Nasionale Addo Olifantpark.

Olifante het 'n voorliefde vir spekboom en dit is ook goeie weiding vir wild en vee. Jy sal ook spekbome in die veld teëkom in die Klein-Karoo en dele van KwaZulu-Natal, Mpumulanga en Limpopo.

Waardevol is spekbome dus beslis, maar is hulle regtig wonderbaarlike koolstof-stofsuiers?

Kom ons kyk na 'n paar van die algemene stellings wat die ronde doen en vergelyk dit met wat wetenskaplikes bevind het.

Mites versus feite
Stelling: Spekbome is een van die mees effektiewe plantspesies om koolstofdioksied uit die lug te verwyder.

Feit: Die tempo waarteen spekboomplante fotosinteer (dit wil sê lig gebruik om koolstofdioksied en water om te skakel in koolhidrate en suurstof) is middelmatig en maar min of meer dieselfde as baie ander plante. Die spekboom in jou tuin gaan dus, relatief tot sy grootte, nie meer koolstofdioksied uit die atmosfeer verwyder as die ander plante wat jy daar het nie.

Stelling: Spekbome kan snags fotosinteer en kan daarom met min water klaarkom.

Feite: Spekbome is van die min plante in die wêreld wat kan wissel tussen twee tipes fotosintese. As daar genoeg water is, gebruik spekbome C3-fotosintese, soos die meeste ander plante, wat beteken dat die plant water verloor soos wat hy bedags “asemhaal”. In droogtetoestande kan spekbome ook oorskakel na CAM-fotosintese om eerder in die koelte van die nag “asem te haal” en so minder water te verloor. 

Stelling: Een hektaar spekbome verwyder vier tot tien ton koolstofdioksied uit die atmosfeer per jaar. Dit is meer as wat 'n hektaar tropiese reënwoud kan doen!

Feite: Twee syfers is belangrik as 'n mens wil bepaal wat die waarde van 'n bepaalde tipe plantegroei in koolstofterme is: Hoeveel koolstof stoor die plantegroei en hoeveel koolstof kan opgeneem word indien 'n beskadigde gebied herstel sou word?

Die ruigteveld of valleibosveld van die Oos-Kaap, waar spekboom natuurlik voorkom, berg wel beduidende hoeveelhede koolstof, veral vir 'n gebied met relatief lae reënval: een studie het 87 ton koolstof per hektaar aangeteken en 'n ander 209 ton. Lees meer daaroor hier . Dit was in die digte, soms ondeurdringbare spekboomruigtes wat algemeen in die streek voorgekom het voordat oorbeweiding hulle uitgedun het. Is hierdie hoeveelheid koolstof vergelykbaar met dié van 'n reënwoud vol reusebome? Nee, tropiese reënwoude bevat maklik 280 ton koolstof per hektaar. Lees meer daaroor hier.

En gematigde reënwoude tot 500 ton per hektaar. Lees meer daaroor hieronder.

Koolstof-stofsuier
Hoeveel koolstofdioksied kan opgeneem word deur spekbome aan te plant in die kaalgevrete gebiede van die Oos-Kaap? Tussen 3.7 en 8.5 ton koolstofdioksied per hektaar per jaar oor 'n tydperk van 25 tot 30 jaar word beskou as realisties, met 'n maksimum van soveel as 15.4 ton per jaar. Lees meer daaroor hier. Die sukses van aanplantings wissel egter aansienlik van plek tot plek.  In vergelyking met spekboomruigtes kan die terugkeer van 'n tropiese woud 3.7 tot 12.5 ton koolstofdioksied per jaar opneem. Lees meer daaroor hier.

Stelling: Gegewe die hoeveelheid koolstofdioksied wat spekbome opneem, kan ek my koolstofvoetspoor wesenlik verklein deur spekbome aan te plant?

Feite: Hou eerstens in gedagte dat die indrukwekkende koolstofopname van spekbome slegs werk in die natuurlike habitat waar dit dig groei vir dekades lank. Gestel jy plant 'n hektaar in die regte deel van die Oos-Kaap aan: dit is 'n ordentlike rugbyveld se grootte en jy moet 2,000 of meer vingerdikte spekbome insit.

As alles goed gaan (geen droogte, nuuskierige bobbejane of honger boerbokke nie) kan jy 'n gemiddeld van 6 ton koolstofdioksied per jaar opneem. Is dit min of baie relatief tot jou leefstyl? Dit is die ekwivalent van byna 50 000 km se uitlaatgasse van jou nuwe Volkswagen Polo. Jou retoervlug tussen Johannesburg en Kaapstad is 230 kg koolstofdioksied.

     Shea Trees of Africa

Dan moet jy ook die koolstofvoetspoor van jou kos, elektrisiteit en al die ander goed wat jy verbruik, inreken. Suid-Afrikaners stel elke jaar 9 ton koolstofdioksied per persoon vry – meer as dubbeld die wêreldgemiddelde. Hoeveel Suid-Afrikaners kan bekostig om 'n hektaar spekbome aan te plant? En hoeveel gepaste areas is daar?

‘Om spekbome te plant in jou tuin, by jou kantoor of enige ander plek buite die natuurlike habitat is nie omgewingsrestourasie nie, dis tuinmaak.'
Prof. Richard Cowling


Daar is wel groot potensiaal om spekboomruigtes in die Oos-Kaap te restoureer. Die bekende ekoloog prof. Richard Cowling het baie navorsing oor hierdie onderwerp gedoen. Hy beklemtoon dat dit slegs in dié streek ekologies en ekonomies sin maak om spekboom op groot skaal aan te plant: “Om spekbome te plant in jou tuin, by jou kantoor of enige ander plek buite die natuurlike habitat is nie omgewingsrestourasie nie, dis tuinmaak. In vergelyking met die tipiese plante in jou tuin is spekbome se vermoë om koolstofdioksied te fikseer bra middelmatig. In die droogtegeteisterde valleie van die Oos-Kaap wat deur woestynvorming in die gesig gestaar word, kan oordeelkundige restourasie met spekbome egter 'n groot verskil maak”.

Dit gaan oor meer as koolstof: Spekboomrestourasie verminder ook erosie, verhoog die veld se drakrag, herstel wateropvangsgebiede en bevorder biodiversiteit. Dit skep werk en kan die landelike ekonomie ’n hupstoot gee. Dit is juis om dié redes dat die regering se Working For-program, boere en nie-regeringsorganisasies reeds spekbome geplant het op ongeveer 10,000 hektaar die afgelope 15 jaar.

Grootskaalse restourasie
Nog 'n miljoen hektaar oorbeweide veld kan potensieel terugverander word in spekboomruigtes en daar is toenemende belangstelling plaaslik en internasionaal. Die Verenigde Nasies se Dekade vir Ekosisteem-restourasie wat in 2021 afskop, is een van die voorstanders van grootskaalse restourasie in die Oos-Kaap.

'n Mens kan wel nie net spekboomtakke in die grond druk en hoop vir die beste nie. Marijn Zwinkels, besturende direkteur van die nie-regeringsorganisasie Living Lands, wat gemoeid is met spekboomrestourasie in die Baviaanskloof, verduidelik:

“ 'n Holistiese benadering is nodig. Ons kyk na die hele landskap en werk saam met al die rolspelers om volhoubare ekonomiese modelle vir 'n bepaalde landskap te ontwikkel. Die doel is om te beweeg van 'n vervallende sisteem na 'n herstellende sisteem. Spekboom is 'n belangrike deel hiervan.”

Intussen gaan die navorsing oor spekboom in die Oos-Kaap voort. Die Thicket Forum bring jaarliks  almal wat diep delf in die ruigtes byeen. Twee uitdagings wat ondersoek word, is die wisselvallige oorlewing van aangeplante spekbome en die koste-effektiwiteit van grootskaalse restourasie.

Soos Vrye Weekblad berig het in die uitgawe van 1 November 2019: ons gaan nie die planeet red deur bome te plant nie.
 
GESONDHEID & OMGEWING
Ons gaan nie die planeet red deur bome te plant nie

Gaan kyk eerder na jou leefstyl en wat jy kan doen om minder kweekhuisgasse vry te stel as om voort te kerjakker in die hoop dat jy dit kan uitkanselleer op een of ander manier.

Die mensdom is in so 'n groot verknorsing en ons globale koolstofbegroting so beperk dat ons dit nie kan bekostig nie.

'n Paar opsies wat beslis 'n verskil kan maak, is om minder te vlieg, minder vleis te eet, 'n sonkrag-geiser te installeer of 'n kleiner kar te koop.

Nog belangriker: ingrypende veranderings in regeringsbeleid en in die privaat sektor.

Wat spekbome buite hulle natuurlike habitat betref: Moenie verdwaal in 'n doolhof van goeie bedoelings of val vir kansvatters nie. Gaan plant gerus 'n spekboom of twee. Dit is immers 'n oulike plant en ons kan almal doen met meer grond onder ons vingernaels.


Newsletter Subscribe