Veld en diere ly, maar dis die mense se oë wat leeg is. Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

OP die plaas Doorndraai, suid van Aberdeen in die Oos-Kaap, was daar sewe jaar laas ordentlike reën. “Selfs die doringbome waarvan die Angora-bokke leef, is besig om dood te gaan.

Die veld lyk verskriklik," sê Colleen Ogilvie, wat sedert 1987 saam met haar man, Dickie, op die plaas boer. 

Colleen en Dickie wou al lankal aftree, maar met die droogte is dit net nie moontlik nie. “Dit plaas ongelooflike druk op 'n verhouding," vertel sy. Dit eis veral 'n tol op gemeenskappe hier waar mense hul werk verloor het weens die droogte. “Mens en dier moet staatmaak op skenkings en dit het 'n impak op mense se eiewaarde.”

In die Oos-Kaap leef gemeenskappe etlike jare reeds in erge waternood. Dit is weens droogte, maar ook munisipale wanbestuur. Die veld en wilde diere ly erg, maar dit is die mense wie se oë leeg is. 

Klimaatsverandering is 'n “kollektiewe trauma van moontlik epiese omvang", bevestig 'n nuwe verslag wat soveel mense hier lank reeds weet. Die klimaatkrisis is 'n ernstige bedreiging vir mense se geestesgesondheid, en dit is veral mense in Suid-Afrika wat kwesbaar is, sê die kliniese sielkundige dr. Garret Barnwell, wat die verslag op versoek van die Sentrum vir Omgewingsregte, African Climate Alliance en groundWork opgestel het. 

Die regering se gebrek aan optrede vererger die effek van klimaatsverandering, meen Barnwell. Sy navorsing bevestig dat natuurlike rampe soos droogte, veldbrande en vloede tot depressie, angs, traumatiese stresversteuring, alkohol- en dwelmmisbruik, selfskending en selfdood kan lei. 

     "Droogte"

Droogte veral kan tot gevoelens van marginalisasie en bekommernis lei omdat persoonlike higiëne en voeding daaronder kan ly. Die kans is kleiner dat kinders wat die fisieke trauma van klimaatsverandering beleef, skool en tersiêre opvoeding sal voltooi.

Wat dié vooruitsig meer kommerwekkend maak, is dat 'n onlangse studie van die Universiteit van Reading wat in die Journal of Hydrometeorology gepubliseer is, toon dat droogtes seisoenaal noemenswaardig gaan toeneem weens klimaatsverandering en langer gaan duur in verskeie streke, waaronder Suider-Afrika. Grondtemperature gaan styg en die grond se voginhoud verlaag, wat 'n negatiewe impak op meerjarige gewasverbouing sal hê.

’n Dorre Sun City
In Sun City, 'n informele buurt met sowat 100 strukture aan die buitewyke van Makhanda, is daar net twee krane vir die hele gemeenskap van oor die 300 mense. Anthea Davies, 'n vrywilliger by die Lebone-sentrum vir kinderontwikkeling, sê baiekeer is daar vir dae aaneen nie water nie.

“Ek het drie kinders. Ons kan hulle nie skool toe stuur nie want ons kan nie hulle skoolklere was nie. Die onderwysers raak kwaad, want die kinders raak agter. As mens nie skoon is nie, voel jy nie lekker nie. Jy kan nie tussen mense kom as jy nie skoon is nie,” sê Davies.

Soms is die water vuil wanneer dit wel uit die kraan kom en dan word die kinders siek en die grootmense kan nie werk toe gaan nie. 

Masonwabe Nduna, koördineerder van die Assumption Development Centre in die Joza-township buite Makhanda, sien elke dag hoe mense deur die droogte en waterarmoede geraak word. “Goeie higiëne gee mens selfvertroue en eiewaarde. Ouers voel minderwaardig omdat hulle nie vir hulle kinders kan sorg nie,” sê hy.

Bestaansboere het van hulle lewende hawe verloor en die Umthathi-groenteprojek wat kos en werk hier verskaf het, kon nie vanjaar hulle oes aan die lewe hou nie.

Barnwell voorsien juis dat arm en gemarginaliseerde jong mense die swaarste gaan dra aan die gevolge van klimaatsverandering. Dit is hulle wat 'n gedegradeerde omgewing en lewensomstandighede gaan erf – al het hulle geen skuld daaraan nie. 

“Behalwe vir die regstreekse en opeenhopende traumatiese en stresvolle impak van natuurlike rampe en degradering, verander klimaatsverandering vir altyd begrippe van wat die lewe vir hulle kan inhou," sê hy. 

“Ons kan nie wegkom van die feit dat klimaatsverandering 'n eksistensiële bedreiging vir individue, families en gemeenskappe is wat sielkundig – en andersins – skadelik is nie."

Barnwell sê prontuit dat dit die regering is wat jongmense in die steek laat. Institusionele verraad spruit uit die sielkundige skade wat veroorsaak word omdat die staat nie dringend optree teen die faktore wat klimaatsverandering dryf nie, versuim om na hernubare energie te skuif asook die gesondheidstelsel se gebreke, wat beteken dit is nie opgewasse om die sielkundige skade te hanteer nie.

Klimaatsverandering is so erg dat jong mense vandag dink vuil en klein riviere is normaal, sê Zoleka Mathiso, wat 'n studie gedoen het oor die Bloukransrivier buite Makhanda vir haar honneursgraad in omgewingswetenskap aan die Rhodes-universiteit. “Ouer geslagte onthou hoe hulle die rivier gebruik het om in te was, water te drink en daarin geswem het. Nou is dit nie meer 'n rivier nie, maar net 'n klein stroompie. En dan is dit meestal rioolwater. Jongmense dink dit is hoe riviere lyk,” sê sy.

Haar vrees is dat jong mense nie meer sal weet hoe die natuur eers gelyk het nie. “Ek het siek geword omdat ek eendag vir 'n uur gehelp het om die rivier skoon te maak. Hoe moet dit nie wees om langs so 'n rivier te bly nie?”

Maatskaplike orde
Die jong gemeenskapsaktivis Gabriel Klaasen van die African Climate Alliance het by die bekendstelling van die verslag gewaarsku dat geen T-hemp jongmense meer kan omkoop om in 'n verkiesing te stem nie. Hulle is ook nie meer bereid om net te wag vir die politici om op te tree nie. 

Barnwell waarsku dat die trauma wat gepaardgaan met blootstelling aan ongewone en langdurige droogte en hoë temperature, weer lei tot 'n styging in misdaad en gendergeweld. Dít skep weer gevoelens van angs, depressie, hartseer en verlies.

Klimaatsverandering dreig om die reeds wankelrige maatskaplike en politieke orde omver te werp, sê hy, met 'n toename in maatskaplike onrus in die vooruitsig. 

Die Climate Action Tracker, wat geskoei is op onafhanklike wetenskaplike navorsing, toon duidelik dat die maatreëls om klimaatsverandering te bekamp wat deur Suid-Afrikaanse bedrywe veroorsaak word, geheel en al gebrekkig is. Suid-Afrika se huidige koolstofuitsetting sal tot 'n gemiddelde temperatuurverhoging van tussen 3% en 4% lei en nie 1.5%, soos deur die Parys-klimaatooreenkoms bepaal is, nie. Suid-Afrika word beskou as een van die lande wat “hoogs onvoldoende” maatreëls in werking het om klimaatsverandering te bekamp, volgens die Climate Action Tracker.


Newsletter Subscribe