Die liewe Windpomp van Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Waar ek ry sal ek altyd 'n windpomp eerste raaksien. Dis vir my 'n teken van lewe, maar ook een van die mees intressantste meganisiese werktuie van alle tye. Stop in die kalaharie langs 'n windpomp waar daar geen wind is nie- en kyk wat gebeur as jy saggies begin fluit of opklim na die bo om die wiel in ander rigting te draai.

Dis asof daar eweskielik 'n wind van nerens opsteek en die wiel stadig laat begin draai. Na so paar draaie en jy kan maar na die pyp se kant toe staan waar jy vars koue water diep uit die grond gaan drink. 

Daar is iets aan ‘n windpomp wat my ontsettend fassineer.Dis ‘n kleintyd assosiasie met water en vol dam en krippe wat uit die dam water kry . Soggens word mens wakker van die kap-kap-kreun soos die wieke teen die wind beur.

Daarmee saam klink die trek-stoot geluid van die die stang,wat dorstig die kosbare water diep uit die donker aarde opslurp en pyplangs in die opgaardammetjie uitspoeg. Eers swak dan sterk en so hou dit aan. 

Die eerste windpompe was van hout, primitief en sonder enige ratte. Selfs die wiele en lemme (skeppers) was van hout. Die lemme was so reguit dat die windpomp slegs met 'n sterk wind aan die gang kon kom. Die wiele was ook baie groot en het maklik omgewaai. Omdat dit duur was om op te rig, het baie boere hulle eie konstruksies aanmekaar getimmer.

Die eerste windpomp in Suid-Afrika was sover bekend 'n Halladay Standard. Dié houtpomp is glo deur 'n boer van Hopetown, 'n mnr. Du Toit, op sy plaas opgerig. 

In 1888 het die Aeromotormaatskappy in die VSA windpompe met staalwiele begin maak. In 1893 is dié soort windpompe na Suid-Afrika ingevoer. Hulle het gebuigde lemme gehad wat meer krag kon ontwikkel. Die windpompe het tussen R50 en R300 gekos en kon water 30 tot 90 meter hoog lig en daagliks tot 177 m3 water lewer.

Windpompe beteken water,beteken lewe.’n Flenterwindpomp met uit tande,is sekerlik een van die mistroostigste gesigte op aarde.Dit spreek van lewe wat verby is,iets wat was,die verganklikheid van die mensdom…net die mot en roes seëvier!- vandag is dit baie gewild as 'n versiering .

Die grootste nadeel van windpompe is dat hulle slegs werk as die wind waai. Die wind is egter nie altyd orals ewe sterk en betroubaar nie. In sekere gebiede kan die windkrag te laag wees om 'n windpomp te ondersteun. Windpompe kan nogal lawaai en hulle is ook soms onooglik as dit nie in stand gehou word nie.

Hoeveelkeer ry ons nie by ‘n windpomp verby sonder om te besef watter belangrike takie hierdie stukkies staal verrig nie. Deur die platteland, deur die dorre karoo sien ons die torings met die niksseggende wiel wat stilweg draai en water diep onder die grond uitsuig om water te verskaf aan mens en dier.

Min mense weet hoe lyk die kontrepsie van naderby of hoe die ding werk. 

‘n Nuwe windpomp kan maklik R60,000 plus kos, baie meer as wat ons leke besef. Nie so goedkoop as wat ons dink nie, maar beslis baie meer betroubaar as ons moderne toerusting, gegewe dat daar windpompe meer as ‘n honder jaar oud is en steeds elke dag sy stroompie water pomp. Al wat ‘n windpomp vra is liefde en natuurlik wind en 'n kop wat vol skoon olie is. 

Windpompe het natuurlik ‘n boorgat nodig en sommige gate raak sommer lekker diep veral in die dorre karoo en kalaharie wat daar van honderde meters diep gepraat word en tog is daar ook plekke in die karoo waar die gate net sowat 25 meter diep reeds lekker water stoot.

Die pomp self bestaan uit ’n eenvoudige silinder met ’n terugslagklep onder en nóg een in die suier. Die pompe se deursnit wissel volgens die pompbehoefte. Om water oor lang afstande te pomp, word ’n lugkamer gebruik. Dit skakel die pulserende watervloei uit en verminder die spanning op die pomp.

’n Spesiaal ontwerpte stert help dat die windpomp homself teen stormwinde be-skerm. Sodra die wind sterker as 50 km/h waai, druk dit die stert effens weg en die wiel draai uit die volle sterkte van die wind, sodat dit wind met ’n sterkte van tot 180 km/h kan weerstaan.
Sodra die windsterkte afneem en weer onder 50 km/h waai, draai die wiel weer dwars in die wind om die volle voordeel daarvan te benut.

In normale toestande kan die 3,5 m-model 21 000 liter water per dag pomp, en die 5 m-model nagenoeg 42 000 liter water per dag. Eersgenoemde kan water tot 90 meter diep uitpomp en die 5 m-model tot 140 m diep.

In die windpomp se wiel is ’n gewig ingebou wat net ligter is as die gewig van die stange. Dit bring mee dat die wiel feitlik sonder weerstand kan draai. Daarom begin die windpomp in die ligste briesie water gooi.

Die gewig word noukeurig bepaal met ’n rekenaarmodel om te verseker dit is presies reg vir elke windpomp. Torings met verskillende hoogtes is ook beskikbaar.

In die ver afgelee Karoo of in Kalaharie of in die plat Wes -Vrystaat kan jy baie ver sien, as jy op die windpomp se stallasie regonder die wiel kan opklim. Van daar kan jy werklik baie ver sien oor die plat aarde.

Vandag is daar baie minder windpompe as voorheen, meeste van die boorgate het elektriese dompelpompe of word gedryf deur 'n dieselenjin met 'n kragkop, wat maklik ontkoppel kan word en weer aan die windpomp gekoppel word.

Daar is werklik baie min ambagsmanne nog oor wat windpompe kan diens en versorg.  Meeste Landbouers wat windpompe op hulle plase het hou dit ook instand. 

Dat die windpomp vir altyd deel sal wees van 'n konnetasie met 'n plaas, sy opstal en sy lekker groot dam waarin meeste plaas kinders al geswem het, waar die windpomp teen die dam staan. Genadiglik het die engele al die plaas kinders beskerm as hulle sommer baie kere van die windpomp in die dam geduik het en elke keer heel anderkant uitgekom het. 

Jy kan net saampraat as jy deel was van hierdie avontuur. 

Wanneer jy weer 'n windpomp sien, spandeer bietjie tyd om dit van naderby, beter te leer ken. Dis deel van ons geskiedenis en sal altyd deel wees van 'n plaas. Iets wat iewers in jou binneste jou so 'n stilte en gemoedsrus gee. 

Johanel ANN


Newsletter Subscribe