Risikopersepsie en klimaatsverandering

Risikopersepsie en klimaatsverandering

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Klimaatsverandering en aardverwarming is ’n veelbesproke onderwerp.

Dit verwys na veranderinge in temperatuur en weerpatrone oor die langtermyn. Sulke verskuiwings kan natuurlik wees, as gevolg van veranderinge in die son se aktiwiteit of die voorkoms van massiewe vulkaniese uitbarstings. Sedert die 1800’s is menslike aktiwiteite egter die hoofaandrywers van klimaatsverandering, hoofsaaklik as gevolg van die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en gas.

Die algemene doel van hierdie artikel is om kortliks enkele studies te bespreek wat oor risikopersepsie en aardverwarming/klimaatsverandering handel. Algemene riglyne wat van nut kan wees vir strategiese beplanning binne die konteks van die landbou-omgewing word beklemtoon, met deeglike kennisname daarvan dat die praktiese werklikhede moontlik hiervan kan verskil.

Risiko

Risiko’s vorm ’n integrale deel van die samelewingstruktuur. Risiko’s is alomteenwoordig in ons woon- en werksomgewings, leefstyle, finansies en vryetydsbesteding, sowel as die langtermyn volhoubaarheid van die fisiese omgewing. Risikoneming is ’n permanente attribuut van die lewe, terwyl dit terselfdertyd ook dien as ’n dryfveer vir innovasie en ontwikkeling (Vasvári 2015).

Die term risikopersepsie verwys na ’n indiwidu se subjektiewe oordeel oor die waarskynlikheid van negatiewe uitkomste van ’n gebeurtenis (soos aardverwarming/klimaatsverandering) gebaseer op voorafgaande kennis en ervaring, sowel as emosionele reaksies wat daarmee geassosieer word.

In aansluiting hierby word risiko (per se) gedefinieer as die waarskynlikheid van negatiewe uitkomste wat met ’n besluit of gebeurtenis of kans wat gewaag word, gepaard gaan. Berekende risiko’s verwys na die kans op mislukking waarvan die mate van waarskynlikheid bereken of beraam is voordat een of ander onderneming aangegaan is. Dit sou kon beteken dat indien die opbrengs van ’n aankoop of belegging wat verwag is, nie realiseer nie, kan selfs die ervaring of blootstelling beskou word as ’n groot genoeg leerskool sodat die risiko wel die moeite werd was om te neem. Vanuit ’n ander invalshoek gesien, kan so ’n benadering tot risiko ook as blote rasionalisering geïnterpreteer word.

Wat Warren Buffet se stelling hierbo betref, blyk dat hoe minder insig ’n persoon het in die besluite wat hy/sy neem, hoe groter die risiko dat die aktiwiteit onsuksesvol sal wees. Hierdie uitgangspunt onderskryf ’n fundamentele beginsel in beleggingsbestuur en besluitneming. Dit wys op die belangrikheid van kennis, navorsing en ingeligte besluitneming van die onderliggende meganismes en dryfkragte wat beleggingswaarde, potensiële veranderinge en marktoestande bepaal.

Volgens die Marquette-Universiteit kom risikobestuur neer op ’n deurlopende proses om risikokontrole uit te voer met die doel om risiko’s te identifiseer, ontleed en nadelige gevolge uit te skakel en te voorkom. In die konteks van finansiële omgewings, sluit risikobestuur die volgende breë kategorieë in: finansiële, operasionele (stakings) en rand- of grensrisiko’s (klimaats- en politieke veranderinge), sowel as strategiese risiko’s (verlies aan mannekrag of reputasie).

Risikobestuur en klimaatsverandering

Navorsing in verband met risikobestuur en klimaatsverandering handel onder andere oor prosesse wat verband hou met die kommunikasie tussen deskundiges en die betrokkenes (of deelnemers/stakeholders). Die kern van die saak is om te bepaal hoe die deelnemers se besluitnemingsbevoegdheid verbeter kan word (Fischhoff 2011). Die fokus is hoofsaaklik op besluite wat inherente risiko’s inhou, maar sluit terselfdertyd ook die voordele van risikoverlaging in (deur byvoorbeeld lewenstylveranderinge, kennisverryking of beter produksiemetodes).

Sinvolle kommunikasie behels altyd ’n tweerigtingproses. Sonder om behoorlik na die deelnemers te luister, is dit onmoontlik om te verstaan wat hul kennis, vaardighede en oortuigings presies behels en onmoontlik om hulle van relevante inligting in ’n verstaanbare formaat te voorsien. Die deelnemers aan risikopersepsie-navorsing se besluitnemingsbevoegdheid behoort nooit deur die deskundiges onderskat te word nie. Indien wel sal die geleentheid vir aktiewe deelname aan die tersaaklike besluitnemingsprosesse verlore gaan.

Risikopersepsie- en kommunikasienavorsing is metodologies en konseptueel redelik eenvoudig van aard. Die kritiese besluite wat die deelnemers in die gesig staar, word eerstens akkuraat geïdentifiseer en in terme van die belangrikste prioriteite volgens die deelnemers se persepsies gerangorden. Tweedens word die deelnemers se bestaande oortuigings, houdings en waardes in detail beskryf om sodoende hul rolle in risikoverwante keuses deeglik te verstaan. Derdens word ’n kommunikasieprogram ontwerp om die kritiese gapings tussen die deelnemers se huidige kennisvlakke en die noodsaaklike kennis waaroor hulle moet beskik, te oorbrug. Nuwe verworwe kennis is nodig om hul kanse te verbeter om realistiese keuses te maak en toepaslike, uitvoerbare doelstellings te formuleer (Fischhoff 2011).

Aardverwarming is ’n kommerwekkende kwessie wêreldwyd, maar die wetenskaplike basis vir die verskynsel is moeilik verstaanbaar vir die algemene publiek (Kvaløy, Finseraas en Listhau 2012:18–9). Die openbare bekommernis oor die implikasies van aardverwarming oor die langtermyn kom wydverspreid voor. Die persepsie van die intensiteit van die probleem hou positief beduidend verband met hoër opvoedingskwalifikasies, post-materialisme en selfidentifikasie met die linkse politieke spektrum.

Bosnjaković (2012:629) wys daarop dat die mate waarin aardverwarming aan gevaarlike antropogenese toegeskryf word, is nie presies bepaalbaar nie. Daar bestaan egter wel toenemende konsensus in wetenskaplike kringe dat ’n verhoging in temperatuur van 2 °C sedert die pre-industriële periode ’n redelike moontlikheid is teen die einde van die 21ste eeu. Polities word hierdie syfer oor die algemeen aanvaar, maar beleidsreaksies het tot dusver min impak gehad op die voortdurende vrystelling van kweekhuisgasse wat aardverwarming veroorsaak.

Gesondheidsrisiko’s

Volgens Emery en Aaron (2024:2231–2), verbonde aan die Regsfakulteit, Utah- Universiteit, skep aardverwarming en klimaatsverandering ’n openbare gesondheidskrisis in die VSA. Plaaslike openbare gemeenskappe is geensins in staat om die koste van die vestiging van noodsaaklike openbare gesondheidsinfrastruktuur alleen te absorbeer nie. Hierdie fasiliteite word benodig om die fisiese en sielkundige gesondheidsimpakte van stygende temperature, lugbesoedeling en uiterste weersomstandighede doeltreffend te hanteer.

In hierdie verband het die Amerikaanse Hooggeregshof die vermoë van federale reguleerders ingeperk om openbare gesondheidsmaatreëls te implementeer, insluitend dié wat daarop gemik is om vir klimaatsverandering voorsiening te maak. Daar bestaan dus nie ’n omvattende nasionale strategie om die gesondheidsrisiko’s en -sorg wat klimaatsverandering meebring, doeltreffend te hanteer nie. Verskeie deelstate en plaaslike regerings probeer gevolglik om deur middel van litigasie die koste van nadelige gesondheidsrisiko’s wat met klimaatsverandering gepaard gaan, voor die deur te lê en te verhaal van oliemaatskappye wat tot die klimaatveranderingskrisis bydra.

’n Studie (Van Baal, Stiel en Schulte 2023) in verband met die risikopersepsies van ’n groep Duitssprekende volwassenes (N=697) oor die relevansie van aardverwarming as ’n gesondheidsgevaar, dui daarop dat kognitiewe dissonansie ’n beduidende rol gespeel het in die deelnemers se oortuigings dat ander indiwidue en groepe se gesondheid meer intens deur klimaatsverandering benadeel word as hul eie gesondheid. Die dissonansie tussen kennis, botsende waardes en werklike gedrag kan bydra tot ’n verwringing van begrip, insig, inligtingsverwerking en besluitneming wat klimaatsverandering betref.

Internasionale monitering

Internasionale riglyne en beleidstandpunte oor aardverwarming en klimaatsverandering is moeilik afdwingbaar en moniteerbaar. Om beleidsbesluite met verreikende en dikwels onomkeerbare implikasies vir die omgewing en samelewing te neem, wat op relatief beperkte en onakkurate inligting berus, is ’n netelige kwessie vir menige beleidmakers en besluitnemers.

Baie meningsverskille oor klimaatsverandering kan teruggevoer word na onsekerheid as ’n enkele gemeenskaplike faktor. Dit is problematies om die effek, tydsberekening, lokaliteit en koste van klimaatsverandering behoorlik te kwantifiseer, gevolglik is dit baie moeilik om konsensus te bereik oor ’n universele plan van aksie. Aardverwarming is tans meer van ’n politieke kwessie as ’n ekonomiese kwessie. Om sake nog meer te kompliseer word politieke aksiestappe deur onsekerhede en verskilpunte in verband met jurisdiksie en verantwoordbaarheid (accountability) gekniehalter. Jurisdiksiegeskille handel gewoonlik oor by wie die mag gesetel is en wat die perke van daardie mag is.

Landbou

Die landboubedryf is besonder sensitief vir weerpatrone en klimaatuiterstes. Grondkwaliteit, waterbeskikbaarheid en ander natuurlike hulpbronne wat deur klimaatspatrone beïnvloed word, is van kernbelang in dié bedryf. Alhoewel klimaatsverandering (met betrekking tot temperatuur, neerslag en droogte) groeiseisoene kan verleng of vertraag en ’n bydrae lewer dat verskillende gewasse in verskillende streke verbou kan word, kan landboupraktyke beslis in sekere ander gebiede erg gekniehalter word.

Enkele voorbeelde van navorsingstudies1 word vervolgens bespreek wat die verband tussen risikopersepsie, klimaatsverandering en boerderypraktyke illustreer. In aansluiting hierby word ook verwys na menings oor die implikasies wat klimaatsverandering vir die Wes-Kaapse wingerdboerdery-bedryf inhou.

Pakistan
Pakistanse rys- en koringboere, van die Rechna Doab-distrik in die sentraal-noordoostelike gebied van Pakistan, is as deelnemers in ’n kwalitatiewe risikopersepsiestudie oor aardverwarming gebruik (Alizadeh, Adamowski en Inam 2024). Die navorsers het deur middel van werksessies met die boere hul geverbaliseerde response of vertellings as narratiewe storielyne genoteer. Nege sosio-ekonomiese en klimaatsfaktore is as ’n raamwerk gebruik om die storievertellings te struktureer, naamlik besproeiing, grondwateronttrekking, uitbreiding van landerye, gewasopbrengste, veranderinge in reënvalpatrone, temperatuurverandering, bevolkingsaanwas, ekonomiese groei en verstedeliking. Die deelnemers se narratiewe is op grond van hierdie elemente in vyf storielyn-kategorieë verdeel.

Die teoretiese grondslag van die navorsing het op newelversamelingslogika (fuzzy theory) berus. Gevolglik is innoverende wiskundig-statistiese metodes gebruik om die verhaalinhoud (narratiewe) met waarskynlikheidsgebaseerde simulasies te integreer.

Die bevindinge dui daarop dat die versouting van die Rechna Doab-distrik se landbougrond en die jaarlikse gewasopbrengs die uitstaande faktore was wat die grootste variansie getoon het ten opsigte van bekommernisse oor die risiko’s wat klimaatsverandering vir toekomstige boerderypraktyke meebring. Volgens hierdie risikopersepsiestudie word die 95ste persentiel vir grondversouting in die jaar 2100 vasgestel op bykans 60% hoër as dié vir die jaar 2020, wat as basislynvlak gebruik is.

Suid-Afrika
Talanow, Topp, Loos en Martín-López (2021), verbonde aan die Instituut vir Etiek en Transdissiplinêre Navorsing, Leuphana-Universiteit, Lüneburg, Duitsland, stel ondersoek in oor die wyses waarop klimaatsverandering ’n bedreiging vir Suid-Afrika se landbousektor inhou.

Die implementering van aanpassingstrategieë is noodsaaklik om toekomstige landbouproduksie en landelike lewensbestaan te verseker. Om doeltreffende aanpassing te verseker is dit nodig om ondersoek in te stel hoe boere, as die primêre besluitnemers oor grondgebruik, klimaatsverandering waarneem en daarop reageer.

Semi-gestruktureerde onderhoude is gevoer met 16 eienaars van kommersiële graan- en druiweplase in die Malmesbury-distrik in die Wes-Kaap. Die primêre doel was om die aanpassing van die boere se boerderypraktyke by klimaatsverandering te ondersoek. Die volgende spesifieke veranderlikes is ingesluit: die wyse waarop die deelnemers klimaatsverandering waarneem; die faktore wat hul aanpassing by klimaatsverandering beïnvloed; aanpassingstrategieë wat toegepas word en of die strategieë as medium- tot langtermyn of korttermyn oorlewingstrategieë geïmplementeer word.

Die meeste boere was oor die algemeen baie goed ingelig oor die implikasies van langtermyn klimaatrisiko’s, soos veranderinge in reënvalpatrone, toenemende temperature en ekstreme klimaatverskynsels.

Die boere se aanpassing by klimaatsverandering word beïnvloed deur hul vorige ervaring van klimaatstres, asook interne sielkundige faktore. Laasgenoemde sluit in risikopersepsie, insig in eie aanpassingsvermoë, asook kognitiewe sydigheid (bias). Institusionele en biofisiese beperkings soos die waargenome gebrek aan regeringsondersteuning en die landskaptopografie, afhanklikheid van die natuur en grondsamestelling is as eksterne risiko’s aangedui. Heuwelagtige landskappe is byvoorbeeld aangedui as ’n fisiese belemmering ten opsigte van effektiewe grondbewaring en -bestuur, ten spyte van die boere se bereidwilligheid om grondbewaringsmetodes toe te pas.

Die meeste boere het wel sinvolle aanpassingstrategieë op hul plase geïmplementeer, insluitend veranderinge aan grond- en gewasbestuur (byvoorbeeld aanpassings in oes- en plantperiodes), toepassing van gewasrotasies en waterbesparingstegnieke. Die boere was egter geneig om minder aanpassingstrategieë vir toekomstige klimaatsveranderinge te beplan en het hoofsaaklik op huidige onmiddellike korttermyn noodmaatreëls gefokus. Hierdie metodes is meestal tegnologies van aard en het hoofsaaklik met die direkte impakte van klimaatveranderinge te make, alhoewel klimaatsverandering ’n veel wyer geografiese, politieke en demografiese langtermyn impak het as slegs binne die plaasgrense.

Hierdie bevindinge kan belangrike implikasies hê vir toekomstige beleidsvorming en aanpassing by klimaatsverandering, gegewe die institusionele en biofisiese hindernisse wat deur boere geïdentifiseer is. Proaktiewe optrede is van strategiese belang vir die Wes-Kaap, sowel as vir Suid-Afrikaanse landbou oor die algemeen.

Wingerdboerdery in die Wes-Kaap
As gevolg van globale klimaatsverandering staar die Wes-Kaap ’n warmer toekoms in die gesig (African Climate and Development Initiative s.j.:3). Dit hou ernstige bedreigings in vir landboukommoditeite in die provinsie, insluitend druiweproduksie. Veranderinge in jaarlikse reënval en veranderinge in die ruimtelike verspreiding, seisoenale siklusse en uiterstes in reënval is ook moontlik, selfs al is die omvang en impak van hierdie veranderinge tans nog onseker.

Die Wes-Kaap is die grootste druiweproduserende streek in Suid-Afrika. Die grootste persentasie van die jaarlikse druiwe-oes (ongeveer 70%) word gepars vir die produksie van wyn en sappe (Smit 2011). Die res word as vars vrugte bemark (insluitend die uitvoer van tafeldruiwe), gedroog of vir ander doeleindes (soos konfyt) gebruik.

Wat tafeldruifproduksie betref, word die potensiaal deur plaaslike klimaat-, oseaan- en berginvloede, asook grondkwaliteit beïnvloed. Tafeldruifproduksie is gesentreer in die laer Olifantsrivier-opvanggebied aan die Weskus, die middelste Bergrivier-opvanggebied en die Hexriviervallei (African Climate and Development Initiative s.j.:3).

In die lig van klimaatsverandering is wyn- en tafeldruiwe-produsente verplig om voortdurend daarby aan te pas. Om sommige uitdagings aan te pak is meer eenvoudig as ander wat meer kompleks is. In sekere gevalle word wingerde byvoorbeeld met skadunet bedek om die plante teen haelskade te beskerm. Produsente raak ook meer bedag op die minder voorspelbare tydsberekening van verskillende stadiums van die seisoen en pas daarvolgens aan. Die droogte-geïnduseerde vroeë uitbot van die ogies kan beteken dat die druiwe vroeër geoes moet word. Buitengewone langdurige koue en nat weer (soos gedurende 2021/22) kan aanleiding gee tot vertraagde bot en latere rypwording. Om die veranderende ontwikkelingsprosesse van wingerd deeglik te monitor en daarop te reageer het dus noodsaaklik geword (Hirsch en De Beer-Procter 2023).

Oplossings
Verskeie wenke is vir druiweboere beskikbaar om te verseker dat doeltreffend op die geprojekteerde klimaatsverandering gereageer word. Die African Climate and Development Initiative (s.j.:14) is in hierdie verband geraadpleeg en die aanbevelings is soos volg:

Eerstens word die bestuur van waterbronne om watergebruiksdoeltreffendheid te optimaliseer, waterverliese in die stelsel te verminder en goeie watergehalte te bewaar en in stand te hou beklemtoon. Grondvogvlakke en die tempo van uitputting van grondvog behoort gereeld en noukeurig gemonitor te word. Besproei wingerde optimaal volgens beste praktyke en volgens ’n besproeiingskedulering wat die doeltreffendheid van watergebruik verhoog. ’n Organiese grondbedekking (mulching) is nuttig, veral om grondvog te behou. Waterinfrastruktuur behoort deeglik instandgehou te word om verliese en onverwagte krisisse te voorkom. Opvanggebiede en vleilande vereis bewaring en goeie bestuur.

Bestuur die voorkoms van onvoldoende winterafkoeling deur tegnologie te gebruik wat die probleem kan voorkom en egalige uitbot en goeie korrelgehalte verseker. Die toepassing van veilige chemiese dormansiebrekers of die gebruik van nuwe kultivars met gewysigde verkoelingsvereistes is sinvolle opsies.

Natuurlike gevare soos brande en die uitbreek van plae en siektes hou risiko’s in vir sekere dele van die streek en proaktiewe risikobestuur behoort deur boere toegepas te word. Die raadpleging van betroubare inligtingsbronne en raadgewers met deeglike ervaring van die hantering van droogtes, effektiewe holistiese vloed- en droogtebeplanning deur alle rolspelers, brandstrookbestuur (oop ruimtes tussen wingerde), asook toegang tot weervoorspellings waarop besluitneming gebaseer word vorm deel van die proses. In die toekoms sal die ontwikkeling van vroeë waarskuwingstelsels en voorkomende optrede met betrekking tot plae en siektes van kritiese belang wees.

 10 redes hoekom ons moet wakker skrik oor klimaatsverandering (veral in SA)

Die energiekrisis in samehang met klimaatsverandering is onderliggend aan die behoefte aan verhoogde doeltreffendheid van energieverbruik en die benutting van hernubare energie op plase waar dit haalbaar is. Boere wat elektrisiteit gebruik vir besproeiing en instandhouding van die koueketting vir bederfbare produkte, is veral kwesbaar. Die gebruik van besproeiingspompe met verstelbare spoedbeheer (variable speed pumps) en strategiese besproeiingskedulering kan pompkoste (en watergebruik) aansienlik verminder. Verminder ook die gebruik van sintetiese stikstofgebaseerde kunsmis, wat wel moontlik is deur die presiese toediening van voeding soos benodig word. Met ander woorde, die regte hoeveelheid op die regte tyd.

Theron en Hunted (2022) wys daarop dat die plaaslike wyndruifproduksie deur privaatboerderye in samewerking met die Suid-Afrikaanse regering tot ’n sosio-ekonomies-volhoubare bedryf ontwikkel word. Hierdie inisiatiewe dra by tot die vestiging van ’n wetenskaplikgebaseerde landboustelsel-reaksiestrategie om volhoubare druiweproduksie ten spyte van veranderende klimaatstoestande te verseker. Suid-Afrikaanse wyndruifprodusente sal waarskynlik in die toekoms hul wingerde onder hoër atmosferiese CO₂-vlakke en in warmer, meestal droër, toestande moet verbou. Weens die geprojekteerde toename in klimaatsveranderlikheid, moet pogings dringend aangewend word om die veerkragtigheid van wingerdstokke teen hierdie omgewingstoestande te verbeter. Alle praktyke behoort die ontwikkeling van diep, digte en gebufferde wingerdwortelstelsels te bevorder wat ’n goed ontwikkelde bogrondse struktuur (canopy) kan ondersteun in ’n optimale mikroklimaat, wat hoë oes-opbrengste van goeie gehalte sal verseker. Mitigasie- en aanpassingsmetodes behoort streekspesifiek te wees, en terroirdata (wat klimaat-, grond- en topografiese besonderhede insluit) sal beslis ’n kritieke rol in besluitneming speel.

Dit is belangrik dat die aanbevelings van risiko-ontledings (met die fokus op risikoverminderingsopsies) ooreenstem met dit wat die deelnemers wel kan realiseer (Bier 2018). Andersins kan die ontleding as irrelevant beskou word. Alhoewel dit van toepassing is op enige risiko-ontleding, is dit veral geldig vir globale katastrofiese risiko’s, soos aardverwarming en klimaatsverandering. Ontledings op ’n globale skaal kan maklik in slaggate trap soos om besonderhede te ignoreer wat minder belangrik blyk te wees relatief tot die risiko, maar wel in die praktyk belangrik vir die deelnemers is. Wees ook versigtig om risikoverminderingsopsies op te hemel wat van toepassing is op ’n akademies-/teoreties-ideale wêreld, byvoorbeeld “as almal dit net sou doen”. Drastiese aanbevelings wat verder strek as wat die meeste deelnemers bereid is om te doen, behoort vermy te word. ’n Risikoanalise is nie bloot ’n teoretiese oefening nie. Noue kontak moet voortdurend met die deelnemers behou word om te verseker dat die ontleding meehelp om sinvolle besluitneming te fasiliteer.

Ten slotte wys Strauss en Chhabria (2023) van die Wêreld Ekonomiese Forum op die belangrikheid van regeneratiewe boerdery. Dit is ’n sistematiese benadering om die beste volhoubare praktyke toe te pas wat die natuur en klimaat positief beïnvloed. Die ideaal is om meer landbouprodukte te produseer, terwyl minder van die planeet se hulpbronne gebruik word. Boere moet ondersteun word om kweekhuisgasvrystellings te verminder, die grondkwaliteit te verbeter en te beskerm, terwyl goeie oesopbrengste en -kwaliteit deurgaans gelewer en gehandhaaf word.

Kerngedagtes

Wingerdboere in die Wes-Kaap is oor die algemeen goed ingelig oor die langtermyn implikasies van klimaatverandering, soos veranderinge in reënvalpatrone, stygende temperature en ekstreme weerstoestande.
Boere se aanpassing by klimaatverandering word beïnvloed deur hul vorige ervaring van klimaatstres, risikopersepsie, insig in eie aanpassingsvermoë en kognitiewe sydigheid.
Institusionele en biofisiese beperkings soos onvoldoende regeringsondersteuning en topografie belemmer effektiewe aanpassing by klimaatsverandering.
Boere fokus meestal op tegnologiese korttermyn noodmaatreëls om die direkte impakte van klimaatverandering aan te pak, terwyl die impakte veel wyer geografiese, politieke en demografiese gevolge het.
Proaktiewe optrede is noodsaaklik vir die Wes-Kaap en Suid-Afrikaanse landbou oor die algemeen, insluitend die ontwikkeling van vroeë waarskuwingstelsels vir plae en siektes, abnormale weerstoestande, verhoogde energiedoeltreffendheid en die benutting van hernubare energie.
Streekspesifieke mitigasie- en aanpassingsmetodes wat gebaseer is op terroirdata, is krities vir besluitneming in ooreenstemming met wat boere in staat is om te kan realiseer.
Die toepassing van die basiese beginsels van regeneratiewe boerdery behoort aangemoedig te word.