Grondgrype – ’n eeueou spel in Suid-Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

DIE miljoene Suid-Afrikaners wat die intense frustrasie oor die land se onbeholpe, chaotiese pogings tot grondhervorming deel, sou waarskynlik taamlik schadenfreude gevoel het oor wat in Augustus 2019 in Hof 19 van Kaapstad se grondeisehof afgespeel het. 

Die kwessie was Distrik Ses, 'n gebied in die stad wat ietwat van 'n vroeë baken vir diversiteit was voordat die Nasionale Party in 1966 besluit het dit moet 'n “wit gebied" wees, en 35,000 mense ontwortel en hulle na die sanderige woesteny van die Kaapse Vlakte verskuif het. 

Maar teen 2019, 25 jaar ná ons eerste demokratiese verkiesing, het die ANC-regering, wat “restitusie" beloof het, net 139 huise herbou en aan die oorspronklike eienaars oorhandig. Dis 'n verhaal van verbreekte beloftes en 'n regering wat skynbaar in geologiese tyd werk – 'n perfekte metafoor vir sy grondhervormingsplan.    

Die Distrik Ses-werkkomitee, wat die grond wou terughê, het die voormalige minister van grondsake en landelike ontwikkeling, Maite Nkoana-Mashabane, voor die hof gedaag om te erken sy het misluk.

Tembeka Ngcukaitobi, die waarnemende regter, het die minister, wat nie eens die moeite gedoen het om op die Distrik Ses-mense se eise te reageer nie, skerp gekritiseer. Hy het daarop gewys dat 13 van die eisers die afgelope  twee jaar dood is terwyl hulle op Nkoana-Mashabane se antwoord gewag het – en toe het hy die ANC se treurige Distrik Ses-rekord beskryf.

“Die restitusie van grond ingevolge die wet is nie 'n guns wat die regering mense bewys nie. Dit is 'n reg wat deur Artikel 25 van die Grondwet verseker word," het hy in sy uitspraak geskryf. “Dis nie regverdig om met grondeisers se emosies te speel deur beloftes te maak dat grond teruggegee sal word wanneer jy eintlik roekeloos is [om te verseker] om seker te maak die belofte word nagekom." 

Behalwe dat Nkoana-Mashabane “roekeloos en erg nalatig" was, het sy nie die gevolge van die regering se mislukkings in ag geneem nie. 
Ngcukaitobi het bevind sy het nie vorige hofuitsprake eerbiedig nie, en het beveel dat sy alle regskoste moet dek. En, het hy bygevoeg, die regering se oponthoud met die lewering van dit wat belowe is, “kan ook die regte wat in die Grondwet verskans is bloot 'n illusie maak".

Vir die regering was dit 'n vernederende klap in die gesig. 'n Fundamentele belofte van 1994, dat die regering dit wat onregverdig weggeneem is sou teruggee en 'n beter lewe vir almal sou verseker, het verlore geraak in die burokrasie. 

Pleks van die beskikbare wetlike meganismes te gebruik om grond te oorhandig aan diegene van wie dit weggeneem is, het die regering verskonings en onbekwaamheid gelewer. En toe hulle aangevat is, het hulle selfs strenger wette belowe – maar, soos Ngcukaitobi uitgewys het, dit was die gebrek aan optrede wat in die eerste plek die probleem in Distrik Ses was. 

In 2017 het 'n paneel onder voorsitterskap van oudpres. Kgalema Motlanthe bevind dat grondhervorming nie misluk het weens swak wetgewing nie, maar weens “mislukte implementering en uitvoering" en 'n “gebrek aan politieke wil".

Nuwe wetgewing oor die onteiening van grond sonder vergoeding is nie nodig nie, het die paneel gesê. Die regering het bloot “nie die magte wat dit reeds het doeltreffend gebruik om grond vir grondhervormingsdoeleindes te onteien nie".

Maar dit was nie wat die regerende party wou hoor nie. Die regering het eerder gedruk om artikel 25 van die Grondwet te wysig om “onteiening sonder vergoeding" toe te laat – en daarmee die regses die harnas ingejaag, beleggers bekommerd gemaak, die linkses bly gemaak en hoop gebring vir diegene wat 'n kwarteeu lank al wag op aksie om terug te kry wat hulle ontneem is.

(Interessant genoeg het Ngcukaitobi self in sy nuwe boek, Land Matters, geredeneer dat ons die Grondwet moet aanpas om te keer dat grondbesitters “vetomagte oor die prys van grond het".) 

Die regering het ook 'n nuwe grondeisehof beloof – asof dit is wat die probleem veroorsaak het. 

In Maart, toe hy die nuwe wetgewing oor die grondsakehof aangekondig het, het die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, gesê: “Om die grondkwessie op te los is nie net 'n sosio-ekonomiese noodsaaklikheid nie, maar 'n kwessie van die herstelling van 'n nasie se siel."

Dis ironies dat Lamola dit gesê het, nie net omdat dit sy eie regering is wat nie grond aan eisers oorhandig nie, maar ook omdat 'n minister in die verlede hofuitsprake bloot geïgnoreer het wanneer die hof tot die saak toegetree het.

'n Maand voor Nkoana-Mashabane in die grondeisehof oor die kole gehaal is, het Motlanthe die bevinding van 'n vergadering van grondkenners herhaal dat geen verandering aan die Grondwet nodig is nie. 

“Artikel 25 maak reeds voorsiening vir die onteiening van grond in openbare belang en neem in ag faktore [waaronder] soos hoe die eiendom bekom is, waarvoor dit gebruik is en watter verbeterings daaraan aangebring is," het hy gesê.

Daaruit kan 'n mens aflei die dreigemente oor onteiening is bloot dreigemente; 'n klomp geraas om 'n populistiese afleiding te skep sodat niemand die dieper vraag vra nie: Hoekom is niks nog gedoen nie?

Motlanthe en Ngcukaitobi het albei 'n mening hieroor. Maar onteiening is beslis niks nuuts nie. Dis deur die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis gebruik – regverdig en onregverdig – vir afrekening, om mense om politieke redes van hulle grond te ontneem, of bloot om nuwe snelweë te bou. 

LEES DIE VOLLE ARTIKEL op VRYEWEEKBLAD-  Skakel is bo aan die bladsy