Hoe moet ons hierdie oorsigsartikel wat huidige denke oor klimaatsverandering bevraagteken interpreteer?

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

In ‘n verslag deur Dr Indur Goklany (sien verwysieng hieronder), wie ‘n stigterslid van die Internasionale Paneel oor Klimaatsverandering (“IPCC”) was, bevraagteken hy die invloede wat ons huidiglik sien en ervaar en toeskryf aan klimaatsverandering.

Die vraag is wat moet ons daarmee maak. Hieronder gee ek sy opsommende gevolgtrekkinge en dan  my interpretasie van moontlike uitkomste en gevolge.

Die opsomming is saamgestel volgens wat klimaatswetenskaplikes sê en waarnemings toon, en dan die reaksie van Dr Gloklany na aanleiding van sy data-analise:

Ten opsigte van uiterste weerstoestande:

  • Meer warm en minder koue dae; ja, die resultate/waarnemings word ondersteun
  • Siklone/orkane is erger of kom meer dikwels voor; nee, dit word nie ondersteun nie
  • Tornados neem toe en vererger; nee, dit word nie ondersteun nie
  • Vloede kom meer dikwels voor en is erger; nee, dit word nie ondersteun nie
  • Droogtes kom meer dikwels voor en is erger; nee, dit word nie ondersteun nie
  • Die gebiede wat afbrand met wegholvure neem toe; nee, die gebiede het in die middel van die negentiende eeu ‘n hoogtepunt bereik
  • Graanopbrengste verminder; nee, dit het sedert 1961 verdriedubbel weens die groenrevolusie
  • Voedselvoorsiening per kop neem af; nee, dit het met 31% toegeneem sedert 1961
  • Landgebiede en strande verklein en koraaleilande sink weg; nee, daar is ‘n effense uitbreiding.

Ten opsigte van menslike welsyn:

  • Sterftes en ekonomiese verliese as gevolg van uiterste weerstoestande het afgeneem
  • Beskikbaarheid van skoon water het toegeneem
  • Sterftes as gevolg van klimaat- en weersensitiewe-  en parasitiese siektes het afgeneem   

Meer belangrik: van dat koolstofdioksiedvrystelling vanaf die begin van die Industriële Revolusie begin toeneem het (van 277dpm tot 409dpm in 2019), het feitlik elke meetbare en betekenisvolle indikator van menslike welsyn verbeter:

  • Lewensverwagting en inkomste het verbeter
  • Armoede het afgeneem
  • Mense lewe langer en het ‘n gesonder lewe
  • Die menslike ontwikkelingsindeks het feitlik oral verbeter.

LEES MEER- Waarom metaan deur beeste die klimaat anders verwarm as CO 2 van fossielbrandstowwe

  • ‘n Mens moet in gedagte hou dat analises in terme van gemiddeldes vir die aardbol baie mag verskil van analises per land. Dit gesê, het Dr Goklany se analises sekere strategiese lande wêreldoor in ag geneem.
  • Afhangende van parameter, het sy analisetydgleuf gestrek vanaf die 1800’s en 2010, of 1960 tot 2015, of 1995 tot 2015 of 2017. Sommige periodes kon te kort gewees het om onteenseglike bewyse te kry, gegewe die groot veranderinge in natuurlike weerspatrone; dit ten opsigte van sommige parameters in die uiterste weerspatroonkategorie. Ten opsigte van menslike welsyn, dink ek nie daar is enige verbasing oor die bevindinge nie – menslike welsyn het verbeter vanaf voor-industriële tye weens infrastruktuur verbetering, tegnologie-ontwikkeling en mediese vordering. Ek dink egter die veronderstelde klimaatsverandering in die laaste dekade het min te make met menslike welsyn tot voor die laaste dekade.
  • Die gemiddelde atmosferiese temperatuur het oor die laaste 100 jaar met omtrent 1C gestyg in noue verband met die toename in koolstofdioksiedpeile, maar die toename is progressief meer in die laaste twintig jaar. Dit beteken dat indien geëkstrapoleer word vanaf die huidige toenemende tendens en daar geen vermindering in koolstofdioksiedpeile is nie, die temperatuurtoename 1.5C in die 2030’s en 2C teen die end van die eeu kan bereik. Dit is drasties en ‘n kommerwaardige situasie; dus is die fokus meer op die toekomsverwagting eerder as tans.
  • Dr Goklany voer aan dat fossielenergie in terme van brandstof, kunsmis en plaagdoders goed was vir menslike welsyn weens tegnologie-ontwikkeling en die groenrevolusie. Weereens betwis ek nie die argument nie, maar die negatiewe gevolge is besig om onbetwisbaar die positiewe invloede te oorskry, eerstens as gevolg van die koolstofdioksiedopbou argument, en tweedens die negatiewe invloed van kunsmis en plaagdoders saam met monokultuurgewasse op grondgesondheid en –organiese materiaal. Ons moet dit verminder, selfs totaal afsien daarvan, ten gunste van herlewingspraktyke met organiese kunsmis soos mis, meervoudige spesiesverbouing en dekgewasse, want opbrengste met monokultuur sal nie volhoubaar wees nie as gevolg van grondvoedingstowwe wat uitgeput raak met konvensionele verbouingspraktyke.