Daneel Rossouw, Funksionele Hoof van Landbou by Nedbank se Verhoudingskanale
Suid-Afrika se vrugtebedryf oorheers landbou-uitvoer: sitrus, tafeldruiwe en vlesige vrugte soos appels en pere het in 2020 meer as R40 miljard tot ons uitvoerinkomste bygedra. Maar met meer as 50 gewasvariëteite in Suid-Afrika wat staatmaak op die bestaan en werk van die heuningby, is die oorlewing van dié belangrike bestuiwer en die winsgewendheid van ons vrugtebedryf nou verweef.
Byebevolkings daal om verskeie redes, insluitend plaagdoders, droogte, habitatvernietiging, voedseltekorte, lugbesoedeling en aardverwarming. Baie van dié oorsake is onderling verwant en gevolglik skiet die bestuiwingsvereistes van ons landboubedryf ver tekort – veral tuinbou wat swaar op bestuiwing deur heuningbye leun.
Dat dié kwessie getakel word, is veral van kardinale belang vir tuinbougewasse, wat onlangs die sterkste groei ervaar het. Sagte-sitrus-uitvoervolumes het van 2011 tot 2020 met 257% gegroei, en suurlemoene en lemmetjies met 180% oor dieselfde tydperk. Uitvoer is die primêre drywer van die groei in tuinbou, wat Suid-Afrika se landbou-uitvoer oorheers, en die nuutste syfers van die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid voorspel groei van meer as 100% in makadamias, avokado's en lemoene teen 2030. Voeg hierby dat kleinhandelaars en verbruikers in baie van ons oorsese markte toenemend bewus raak van bewarings- en omgewingsboerderypraktyke, en dis duidelik hoe belangrik dit is om 'n oplossing hiervoor te vind.
Maar vir eers, met te min bye om die gewasse wat nodig is om ons ontluikende bevolking te voed te bestuif, bestee die gemiddelde kommersiële vrugteplaas tydens bestuiwingstyd tussen R700 en R1 100 per byekorf aan die huur van dié belangrike bestuiwers. Wat as van dié geld bestee is aan die aanplant van inheemse plantegroei om biodiversiteitsbewaringsgebiede uit te brei, voedingsterreine te vergroot en habitatverlies te verminder terwyl produksiekoste verlaag word?
Vir Nedbank is volhoubaarheid en rentmeesterskap van ons natuurlike hulpbronne van die uiterste belang. Ons het dus verlede jaar 'n vennootskap met The Bee Effect en Greenpop se Forests for Life deur die Boland Bome-vir-bye-program gesluit om by te dra tot die aanplant van 36 000 byvriendelike bome teen 2025. Die projek het ten doel om ekosisteme en vervalle inheemse woude in die Wes- en Oos-Kaap te herstel om ook klimaatsverandering se invloed te verklein, ons waterbronne te ondersteun en habitatte vir bye en ander gebruikers daarvan te beskerm.
Die Nedbank Green Trust werk nou saam met die Wêreld Natuurfonds (WWF) en Living Lands om fynbos vir heuningbyweiding en kritieke habitat vir plaaslike diere en insekte te herstel, veral in die Langkloof-streek in die Oos-Kaap, 'n belangrike landbousone wat bekend is vir appel- en peerproduksie.
Dié inisiatief kan ook help om ander inkomstebronne vir boere in die omgewing te skep, soos heuningbosproduksie vir uitvoer, plaaslike mikro-ondernemings wat verskeie heuningprodukte bemark, en geleenthede in ekotoerisme wat help om inkomste in landbougemeenskappe te diversifiseer. Die ekonomiese voordele hiervan kan nie geïgnoreer word nie: in 2016 het byeboerdery- en heuningbyprodukte en -dienste byna R16 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra, en boonop 180 000 werkgeleenthede. Maar in die afgelope dekade het plaaslike heuningproduksie met meer as 50% gedaal terwyl die invoer van heuning met tot 1 000% toegeneem het. Projekte soos dié kan help om opnuut in die plaaslike heuningbybedryf te belê. Sodoende hoef ons minder in te voer, meer bestuiwing is moontlik, en broodnodige plaaslike ekonomiese ontwikkeling vind plaas.
Maar afgesien van dié voordele, is die punt dat mense afhanklik is van plante en plante afhanklik is van bestuiwers, en 'n balans moet gehandhaaf word om lewe op aarde te onderhou.
Tans is daar geen standaard of erkenning vir byvriendelike boerderypraktyke in Suid-Afrika nie, maar gelukkig is baie boere daartoe verbind om minder chemikalieë te gebruik en gesonde volhoubaarheidsbeginsels op hulle plase toe te pas. Ons beskou ons vennote in die landbou as sleutelspelers in die ondersteuning van die positiewe kringloop waarvan heuningbye afhanklik is. Beste praktyk deur alle grondeienaars – onder meer in die landbousektor – bied 'n gunstige habitat vir bye, wat goeie bestuiwing tot gevolg het, wat op sy beurt beter oesopbrengste en gehalte beteken. Beste praktyk sluit verantwoordelike en sensitiewe gebruik van plaagdoders in, veral tydens die blom- of bestuiwingstydperk, en die opvoeding van plaaswerkers om dieselfde te doen; die verskaffing van heuningbyvoedsel deur die herstel van natuurlike plantegroei en deur gewasse soos kanola, sonneblomme en lusern by wisselbousiklusse in te sluit; om byeboere toegang tot grond te bied waar korwe veilig is en nie gevandaliseer kan word nie; en om nie-gelyste bloekoms en ander byvriendelike bome op ongebruikte plaasgrond te plant.