DIE ANC en EFF se voorstelle om grond onder voogdyskap te plaas is gevaarlik. Dié halfgebakte idee het geen grondwetlike basis nie en kom neer op 'n poging om landbouproduksie en grond onder die beheer van die staat te plaas.
Die staat se rekord in dié verband spreek van onbevoegdheid, wanbestuur, grootskaalse korrupsie en grondkaping deur die politieke elite. Suid-Afrikaners sal hul stem moet dikmaak teen absurde idees soos die nasionalisering van grond of die plasing van grond onder voogdyskap waarmee die ANC en EFF goedkoop politieke punte probeer aanteken.
Om natuurlike hulpbronne onder voogdyskap te plaas kom daarop neer dat 'n enorme burokrasie geskep word wat grond, sowel as die toekenning, gebruik, monitering en evaluasie daarvan, sal moet administreer. Meer nog: Dit laat die deur wawyd oop vir korrupsie en grootskaalse omkopery om grond of plase aan politici, hul familie, vriende en breër netwerke toe te ken.
Landbougrond en produktiewe plase kan onder geen omstandighede aan mense toegeken word wat nie kan boer nie. Miljoene hektare grond – dit sluit eens produktiewe plase in – lê vandag onbenut. Boonop het die staat geen beheer oor diegene wat vandag op staatsplase boer nie. In baie gevalle word nie huurgeld óf munisipale en Eskomrekeninge betaal nie.
Grondgrype – ’n eeueou spel in Suid-Afrika
Pleks van grond te nasionaliseer of onder voogdyskap te plaas, moet die fokus eerder verskuif na die uitbreiding van eienaarskap na miljoene Suid-Afrikaners wat op kommunale, kerk- en munisipale grond 'n huis besit. Die ANC- en EFF-leiers het titelaktes op die eiendomme wat hulle besit. Waarom hulle nie hierdie voorreg na alle burgers van Suid-Afrika wil uitbrei nie, is onverklaarbaar. Dit is 'n teenstrydigheid waarvoor Suid-Afrika 'n duur prys gaan betaal indien die ANC en EFF dit deur die parlement gaan probeer stoomroller.
Nie net ondermyn dit ons duurgekoopte demokratiese bestel en ontneem dit ons landsburgers van die ondernemerskultuur van eiendomsbesit wat hulle aan hul nageslagte kan oordra nie, maar dit verarm diegene wat 'n eiendom met bloed en sweet bekom het. Boonop hou dit die armstes van die armes vasgeketting in 'n doodloopstraat van armoede wat van geslag tot geslag oorgedra word.
Eiendomsreg skep welvaart op lang termyn. Daarvan kan lande getuig waar eiendomsreg beskerm en bevorder word. Groter beheer deur die staat bring net groter ellende mee. Privaat besit, daarenteen, bevry mense van die juk van armoede en afhanklikheid van politici en politieke partye wat geen belang het in hul welsyn nie.
Wysiging van fundamentele mensereg
Om eiendom sonder vergoeding weg te neem is 'n baie ernstige ingryping in die regte van 'n individu. Eiendomsreg is 'n fundamentele mensereg wat deur die meeste internasionale konvensies op menseregte as sodanig erken word.
Artikel 39 van die Grondwet bepaal ook dat ons howe, by die uitleg van die handves van regte, die waardes van 'n oop en demokratiese samelewing moet bevorder. Die howe moet ook die volkereg in ag neem. Die volkereg is onder meer vervat in die internasionale konvensies op mensregte. Voorbeelde van internasionale konvensies wat eiendomsreg beskerm, is onder meer die Verenigde Nasies se universele verklaring van menseregte, die Europese konvensie oor menseregte, en die Afrika-konvensie oor menseregte.
In die meeste moderne demokrasieë het grondeienaars wel 'n grondwetlike reg op vergoeding. Die beperking van eiendomsreg kan dus nie ligtelik onderneem word nie. Dit is daarom belangrik om die motiewe te ondersoek vir die druk om artikel 25 te wysig.
Ware redes vir stadige grondhervorming
Grondhervorming moet bespoedig word, is die rede wat aangevoer word vir die wysiging van artikel 25. 'n Zimbabwe-scenario wag op ons as politieke partye nie kan ooreenkom hoe om dit te wysig nie, het Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee oor artikel 25, dié week gesê.
Die Kgalema Motlanthe-verslag van 2017, waarskynlik die mees gesaghebbende verslag tot nog toe oor grondhervorming, het bevind die vereiste van vergoeding in artikel 25 is nie die probleem nie. Dit is faktore soos 'n ontoereikende begroting, 'n gebrek aan politieke wil en swak implementering in die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling wat vordering belemmer. Ernstige en wydverspreide korrupsie binne die department is 'n verdere hindernis.
Sedert 1994 is daar nie in 'n enkele jaar meer as 1% van die nasionale begroting aan grondhervorming bestee nie. Boonop het die howe al by verskeie geleenthede fel kritiek uitgespreek oor die departement se versuim om grondhervormingsprogramme in werking te stel.
Die Konstitusionele Hof het byvoorbeeld in 2019 in die Mwelase-uitspraak gesê: “South Africans have been waiting for more than 25 years for equitable land reform. The department’s failure to practically manage and expedite land reform measures in accordance with constitutional and statutory promises has profoundly exacerbated the intensity and bitterness of our national debate about land reform.
“It is not the Constitution, nor the courts, nor the laws of the country that are at fault in this. It is the institutional incapacity of the Department to do what the statute and the Constitution require of it that lies at the heart of this colossal crisis.”
Toetie Dow van die San by 'n openbare sitting in Jansenville oor artikel 25.
Ernstige ekonomiese gevolge
Nie net sal 'n grondwetwysiging nie die werklike probleme oplos nie, dit sal heel waarskynlik ook baie ernstige ekonomiese gevolge vir die land hê. Agri SA het dr. Roelof Botha aangestel om ’n onafhanklike ekonomiese studie te doen met die fokus op die verhouding tussen kapitaalvorming en die bruto binnelandse produk.
Dit het bevind dat onteiening sonder vergoeding 'n vernietigende impak sal hê op ekonomiese groei en die regering se fiskale vermoë om dienste te lewer en toelaes te betaal. Dít kan natuurlik weer lei tot grootskaalse sosiale onrus.
Die impak op die landbou- en banksektore sal reusagtig wees. Ten spyte van hierdie waarskuwings gaan die ad hoc-komitee steeds voort met die beoogde grondwetwysigings.
Voogdyskap
Die EFF maak dit lank reeds duidelik dat hulle staatseienaarskap van alle grond voorstaan. Hulle skriftelike voorstel oor die wysiging van artikel 25 het van die begin af die voorstel bevat dat die staat die voog van al Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne moet wees – en dat daar wetgewing moet kom om hierdie voogdyskap te definieer en te kontekstualiseer.
Aanvanklik het dit gelyk asof die ANC nie hierdie gedagte steun nie, maar net voor die verstryking van die ad hoc-komitee se soveelste sperdatum in Mei het die ANC-verteenwoordigers op die komitee skielik die voogdyskap-gedagte begin ondersteun. Daar is nou 'n amptelike skriftelike voorstel van die ANC op die tafel waarin hulle voorstel dat wetgewing en beleid voorsiening moet maak vir die voogdyskap van sekere grond. Daar word verder voorgestel dat 'n bewoording ingesluit moet word dat grond die gemeenskaplike erfenis van alle burgers is en dat die staat hierdie erfenis vir toekomstige geslagte moet bewaar.
Voogdyskap het 'n bepaalde betekenis in die reg. Daarom gaan die ANC se argument nie op dat dit slegs 'n tydelike maatreël kan wees en grond steeds oorgedra kan word nie. Voogdyskap was 'n vreemde konsep in die Suid-Afrikaanse reg totdat dit in 1998 deur middel van die Waterwet ingevoer is. Later is dit ook van toepassing gemaak op minerale regte en omgewingswetgewing.
Daar bestaan nou geen privaat eienaarskap meer oor water en minerale regte nie. Die staat is nie die eienaar nie, maar oefen beheer uit oor die hulpbron deur middel van lisensies en toestemmings. Geen vergoeding sal betaalbaar wees nie, want dit is nie onteiening soos gedefinieer in die Onteieningswetsontwerp nie.
Dit is interessant dat die ad hoc-komitee waarskuwings van die parlementêre regsverteenwoordigers, dat hulle buite hulle mandaat beweeg met die voogdyskap-voorstelle, bloot ignoreer.
Politieke motief
Die vraag onstaan dan: As die wysiging van die Grondwet nie die werklike probleme gaan oplos nie, nie grondhervorming gaan bespoedig nie, nie strook met internasionale reg en beste praktyk nie en ernstige ekonomiese gevolge gaan hê, waarom dit steeds doen?
Is die motief dalk bloot korttermyn- politieke gewin?
* Christo van der Rheede is die uitvoerende hoof van Agri SA en Annelize Crosby is hoof van Agri SA se grondsentrum van uitnemendheid.