GOEIE OESTE MAAR GEEN WINS

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Niemand kla oor die appel- en peeroeste van 2022 nie.

Tonne pere per hektaar was omtrent 15% hoër in Ceres en 20%–30% hoër in Wolseley-Tulbagh en die Langkloof as in 2021. Die appeloes was 10%–15% meer in Ceres en die Langkloof. Syfers vir Elgin-Grabouw-Vyeboom-Villiersdorp was soortgelyk aan verlede jaar – maar verlede jaar was ’n rekordoes in hierdie streek.

Vrugkwaliteit was oor die algemeen ook baie goed. Die Langkloof is nie soos in 2021 deur haelstorms geteister nie en die wind het nie weer die Forelle-pere van die bome in Elgin afgewaai nie. Selfs die reëns het saamgespeel.

“Snaaks genoeg, wanneer dit wel in oestyd gereën het, was dit meestal oor naweke, so ons het nie baie werksdae verloor nie,” sê Keith Bradley, algemene bestuurder van AgriDienste by Fruitways. Dis natuurlik net ’n boer wat hieroor gelukkig sal wees …

Bradley rapporteer dat relatiewe koue nagte later in die oestydperk ook die ontwikkeling van rooi kleur in byvoorbeeld Cripps Pink bevorder het. Vrugkleur was bevredigend in alle areas en tot op hede blyk daar min probleme met naoes kwaliteit te wees.

“Daar is altyd ruimte vir verbetering aan die boom,” sê Christo Strydom, algemene bestuurder van spesialis peerverpakkers Wolfpack, “of dit nou vruggrootte of -kleur is, of minder skaafmerke en sonbrand. Maar die grootte van die oes was daar.”

Die probleem was dus nie produksie nie. “Ons kan spog oor tonne per hektaar,” sê Strydom, “maar om dit verkoop te kry teen ’n goeie waarde om vir die produsent welvaart te skep was baie moeilik.”

Russiese rusie beduiwel markte
“Die oorlog wat niemand gedink het gaan plaasvind nie, vind toe wel plaas,” sê Frederick Odendaal, bestuurder van produsente-dienste by Ceres Fruit Growers. Hy verduidelik dat daar reeds vrugte na Rusland onderweg was toe Rusland op 24 Februarie Oekraïne binnegeval het. “Daai vrugte kon nie verder gaan Rusland toe nie en is noodgedwonge Europa in.”

Terselfdertyd het ’n magdom ander vrugte wat ook vir Rusland bestem was in Europese markte verskyn – onder andere Europese Conference pere.

“Daarmee saam het die Europeërs skielik massiewe inflasie gehad wat hulle moes absorbeer, as gevolg van die oorlog en energiekostes wat deur die dak skiet,” sê Odendaal. “Geld is beperk, so mense gaan nie ’n duur ingevoerde Abate Fetel koop terwyl daar goedkoop plaaslike Conference beskikbaar is nie.” Inflasie in die Europese Unie was 9.6% in Junie 2022 teenoor 2.2% twaalf maand vroeër.

Suid-Afrika het in 2021 ongeveer 20% van ons pere na Rusland uitgevoer. Strydom reken dat hierdie syfer aansienlik hoër is vir seker kultivars soos byvoorbeeld Packhams. “So hoe groter jou blootstelling aan Packhams is, hoe meer is jy uitgelewer aan hierdie Russiese besigheid. En hoe meer impak het dit op jou.”

Elke mark het sy eie vereistes. Die Midde-Ooste verkies byvoorbeeld kleiner pere en stel nie belang in lywige Packhams nie. Dit is dus nie so eenvoudig om pere wat vir Rusland bestem is elders te verkoop nie.

Peeruitvoere vir die seisoen is amper verby maar appels het egter nog ’n pad voor en Odendaal is bekommerd oor die vooruitsigte. Slegs 6% van Suid-Afrikaanse appels is in 2021 na Rusland uitgevoer maar die ooraanbod van vrugte tesame met stygende lewenskostes in Europa en die Verenigde Koninkryk plaas verkope onder druk.

“Ons hou daarvan om ons vrugte in programme te lewer,” sê Odendaal. “Maar al is die program daar op papier, as die kliënte nie verkope het nie, gaan hulle afskaal en nie die vrugte trek nie. Ons sien dit al klaar gebeur so ons is baie bekommerd oor die laaste gedeelte van die verpakkingseisoen.”

Produsente en verbruikers in die knyp
“’n Groot gedeelte van jou vrugte wat jy nie in Rusland kon bemark nie moes eintlik op die plaaslike mark verkoop kon word,” sê Johan Kotze, hoofbestuurder van Dutoit Agri: Oos-Kaap, “maar ons plaaslike ekonomie is nog nie so dat dit daardie addisionele vrugte kan hanteer nie.”

“Die mense het nie geld nie,” sê Strydom. “Ons verkoop nou ’n 10-kilogram losmaatverpakking pere op ons munisipale markte vir dieselfde rand per karton as in 2014. Van 2014 tot 2022 is daar geen positiewe beweging in die verkoopprys op ons plaaslike markte nie.”

Volgens Kotze is ander markte in Afrika onder soortgelyke druk. “Die koopkrag is nog nie orals waar dit was voor Covid nie. Daar is nie genoeg voete by die vrugtestalletjies om die vrugte te koop nie.”

Suid-Afrika het in 2021 29% van ons appels en 4% van ons pere na ander Afrika-lande uitgevoer. Die Oekraïne-konflik in 2022 lei tot voedsel- en energieprysstygings in baie van hierdie lande terwyl buitelandse hulp vanaf Afrika na Oekraïne verskuif. Dit is dus te verwagte dat vrugteverkope in 2022 sal verminder.

Intussen pyl kostes die hemele in. Gemiddelde dieselpryse in Julie 2021 was rondom R15 per liter teenoor ongeveer R25 per liter in 2022.

“Mens moet ook in ag neem dat die rand verbasend sterk was in die eerste helfte van die jaar,” sê Bradley. “Dit het uiteindelik verswak, maar hoofsaaklik teenoor die dollar, en bly sterk teenoor die euro en die pond. Wanneer jy verskeep betaal jy in dollars maar jou verkoopspryse is in ponde of euro’s.”

Die gemiddelde wisselkoers vir die eerste ses maande van 2021 was R14.55 teenoor die dollar – in 2022 was dit R15.40. Euro’s was R17.54 in 2021 teenoor R16.85 in 2022. Hierdie is net mooi die teenoorgestelde tendens as wat die kernvrugbedryf sou wou sien.

“Ons bedryf is ongelukkig wisselkoers gedrewe,” sê Bradley. “Ons hou daarvan om onsself op die skouer te klop in die voortreflike jare – natuurlik moet mens kwaliteit vrugte hê om te verkoop – maar daardie jare is gewoonlik gekoppel aan ’n swak rand.”

Plaaslike probleme steeds met ons
“Ons produsente ervaar dubbelsyfer inflasie op plaasvlak,” sê Odendaal. Daarmee saam het verpakking en verskeping aansienlik duurder geword. Peeruitvoere is ook deur die probleme by Kaapstadhawe getref en baie vrugte is padlangs na ander hawens vervoer.

“Wat doen jy as jy nie vrugte landuit kan kry nie?” vra Odendaal. “As ’n skip net in Durban aankom dan moet jy die vrugte soontoe ry. Nou het jy hierdie ekstra vervoerkoste, en jy het klaar ’n hoër verskepingskoste, en ons weet die mark is swakker.”

Volgens Kotze word meeste van die Langkloof se vrugte deur Port Elizabeth-hawe verskeep en daar was nie probleme met die prestasie van daardie hawe nie. Die beskikbaarheid van verskepingshouers as gevolg van Covid-ontwrigtings in internasionale handel bly egter ’n uitdaging.

En dan is daar Eskom. “Ek het vanoggend al twee oproepe gehad van produsente wat sê, dink net as hierdie beurtkrag wat nou gebeur, in Januarie in Ceres gebeur as almal ten volle elke boord moet besproei,” sê Odendaal. “As temperature 40 °C is en jy verloor ses ure per dag is jou oes daarmee heen.”

Die kernvrugbedryf bevind hulself tans in dieselfde bootjie op dieselfde stormagtige see as die res van die Suid-Afrikaanse vrugtebedryf. “Almal sit met belowende oeste maar die markte is eenvoudig nie daar nie,” sê Kotze. “Daar is ’n klomp goed wat teen ons dryf wat buite ons beheer is.”