La Niña ons voorland? Suid Afrika

La Niña ons voorland? Suid Afrika

User Rating: 5 / 5

Star ActiveStar ActiveStar ActiveStar ActiveStar Active
 

Een swaeltjie maak nie ’n somer nie, en een alarmistiese artikel oor die invloed van klimaatsverandering op seestrome en sogenoemde heeltydse La Niña-toestande rig baie skade aan.

Genoeg agtergrond om die derde agtereenvolgende La Niña-verskynsel in konteks te plaas, sorg dat die kar nie voor die perde gespan word nie.

Daar is groot opslae op sosiale media oor ’n artikel wat noem dat meer La Niña-neigende toestande gaan voorkom omdat die sogenoemde Great Ocean Conveyor Belt of Groot Oseaanvervoerband wat seestrome dryf, vanweë klimaatsverandering verander.

Met die derde agtereenvolgende La Niña-verskynsel wat aan die gang is, is baie mense geneig om die artikel meer letterlik op te neem. Die regte konteks is belangrik met hierdie soort sensasiesoekende publisiteit, veral in ’n era waar klimaatsverandering ’n werklikheid is en boonop vele gesigte kan hê.

Verandering in klimaat teenoor veranderlikheid van klimaat

Daar is baie elemente van klimaatsverandering wat indirek werk om klimaat oor tyd te verander. Eers moet ’n mens ’n paar terme uitklaar om tussen klimaatsverandering en -veranderlikheid te onderskei.

Klimaatsverandering

Dit is die verandering in die internasionale, asook meso- en mikroklimaat as gevolg van hoofsaaklik die verhoogde vrystelling van koolstofdioksied as afvalproduk van die verbranding van fossielbrandstowwe.

Dit het dus ’n impak op die verandering van die energiebalans op aarde omdat die kweekhuisgasse, soos koolstofdioksied, die balans tussen inkomende en uitgaande hitte-energie versteur en meer energie binne die atmosfeer en aardoppervlakte vasgevang word.

Normale klimaat en klimaatsveranderlikheid

Dit is die variasie van klimaatselemente teenoor die gemiddelde. Die woord “gemiddelde” kan egter baie betekenisse aandui, maar kan die grootskaalse variasie of veranderlikheid van normale of toevallige gebeure, soos die energievlakke van die son wat varieer, vulkaniese uitbarstings, sonvlekke en sonwinde (elektromagnetiese uitstrooiing), insluit.

Dit word as ’n natuurlike proses beskou (hoewel dit grootliks kan varieer!). Dit is dus nie maklik om altyd te kan onderskei wat is klimaatsverandering (mensverwante aksies) of klimaatsveranderlikheid (natuurlike prosesse) nie.

Dit is ook net so moeilik om die impak van klimaatsverandering en klimaatsveranderlikheid te onderskei omdat klimaatsverandering oor baie lang tye eers werklik geïsoleer kan word wanneer die normale klimaatsveranderlikheid se volledige variasiereeks uitgespeel het.

Die Groot Oseaan Vervoerband

Die Groot Oseaanvervoerband (GOVB) word aangedryf deur temperatuurverskille, asook verskille in die soutinhoud. As gevolg van die verskille in temperatuur en soutgehalte is die oseane, afgesien van getye wat deur die maan veroorsaak word, altyd op verskillende dieptes in beweging.

Die GOVB herversprei water oor die hele aardbol in veral die dieper lae van oseane, terwyl windbeweging meer die verspreiding van oppervlakwater veroorsaak. Koeler soutwater is digter en sink na die vloer van oseane, terwyl warmer en varser water minder dig is en naby aan die oppervlak bly.

Die GOVB het sy oorsprong in die Noorweegse See waar warm water van die Golfstroom noordwaarts beweeg vanaf ongeveer die Karibiese Eilande in die Atlantiese Oseaan as gevolg van sterk wind.

Hierdie warmer water verhit die atmosfeer in die koue, noordelike breedtegrade en as gevolg van die hitteverlies aan die koue atmosfeer word die oppervlakwater kouer en digter en sink na die seevloer.

Namate die Golfstroom meer water noordwaarts vervoer, sink meer water na dieper lae van die oseaan en begin dit suidwaarts beweeg om plek te maak vir die warmer water wat noordwaarts beweeg.

Die koue water vloei deur die Atlantiese Oseaan suidwaarts totdat dit Antarktika bereik en dan parallel met Antarktika beweeg voordat dit verdeel in twee afsonderlike strome en weer noordwaarts begin beweeg.

Eerstens vorm ’n afsonderlike systroom in die Indiese Oseaan wat net oos van Madagaskar noordwaarts beweeg tot naby aan Indië voordat dit weer oos- en dan suidwaarts draai as ’n warm stroom, want teen hierdie tyd het die water baie hitte-energie bygekry en is naby aan die oppervlak.

Die ander deel van die koue seestroom neem ’n roete suid van Australië en draai dan noord reg in die middel van die Stille Oseaan, oor die ewenaar tot naby aan die Asiese en Noord-Amerikaanse noordelike grense naby die Noordpool.

Temperature bly laag, hoewel vermenging met warmer water begin plaasvind, want dit beweeg steeds op dieper lae van die oseaan en is steeds deel van die koue seestroom.

By die draaipunt in die Noordelike Halfrond begin die water weer suidwaarts beweeg, maar is dan nader aan die oppervlak en begin om ’n warm stroom nader aan die oppervlak te vorm.

Dit beweeg dan in ’n suidweswaartse rigting net noord van Australië en deur die suidoostelike Indiese Oseaan, waar dit by die warm seestroom wat naby Indië gedraai het, aansluit.

Hierdie gesamentlike warm seestroom beweeg dan suid van Suid-Afrika, draai noordweswaarts deur die Atlantiese Oseaan, beweeg noordoos van Brasilië en draai weer noordooswaarts verby die Karibiese Eilande en die ooskus van Amerika om die sogenoemde Golfstroom te vorm, die verandering in die Noorweegse See te dryf en die siklus van voor af te laat begin of te herlaai.

Dit is interessant dat die warm en koue dele van die GOVB mekaar op minstens vier gebiede in die verskillende oseane kruis, maar baie min vermenging vind plaas omdat die kouer seestrome op baie dieper lae van die oseane is as die warmer deel van die siklus. Dit loop dus soos deurpaaie op ’n snelweg.

Die soutkonsentrasie speel ’n belangrike rol om die digtheid van die water te bepaal. Die aanvanklike deel van die warm stroom, wat grotendeels die beweging van die hele GOVB dryf, is juis in die Golfstroom. Hier speel die soutkonsentrasie, saam met temperatuur, ’n baie belangrike rol.

Verdamping van die warm oppervlakwater veroorsaak dat die soutkonsentrasie verhoog, maar ook dat temperature laer word omdat energie onttrek word as gevolg van die verdampingsproses en uiteindelik dat die water dig en koud genoeg is om na dieper lae te sink.

Dit is belangrik om te kyk na die tydskale van hierdie prosesse. Dit word beraam dat vanaf die tyd dat die digter en koue water in die Noorweegse See begin sink totdat dit die noordelike draaipunt in die Stille Oseaan net suid van die Noordpool bereik, dit meer as 1 000 jaar duur namate dit baie stadig op die vloer van die oseane beweeg.

Versperrings waar die vloer van die oseane in landskap wissel, vertraag ook die beweging.

Kan klimaatsverandering die vloeipatroon onderbreek?

Die belangrikste deel van die GOVB is die Golfstroom wat van die Karibiese eilande af noordooswaarts gedryf word deur hoofsaaklik windpatrone.

Dit is die dryfveer vir die begin van die verandering in die Noorweegse See omdat die warm water van die Golfstroom baie sterk winde veroorsaak, water laat afkoel en soutkonsentrasie verhoog en dan die koue seestroomfase van die GOVB laat begin.

Eerstens kan die sterkte van die Golfstroom se aksie verander word deur veranderde temperatuurpatrone. Navorsing het getoon dat die noordelike deel van die Golfstroom begin verswak het, minder warm water noordwaarts vervoer en dat die vorming van afwaartse beweging van koue water verminder het.

Dit word ook gedryf deur die verswakte soutkonsentrasie omdat groot hoeveelhede ys in veral die Noordpool gesmelt het of besig is om teen ’n vinniger tempo te smelt en daarom groot hoeveelhede vars water vrystel wat die digtheid verander. Dit is by dié beginproses van die GOVB waar ’n onderbreking kan voorkom.

Het dié verandering al voorgekom?

Na bewering was ’n warmer tydperk ongeveer 12 000 jaar gelede die oorsaak dat die ys wat oor baie jare by hoofsaaklik die pole van die aarde versamel het, begin smelt het.

Laedigtheid-gesmelte water van die Groenlandysbedekking het toe die beweging by die beginpunt van die GOVB in die Noord-Atlantiese Oseaan onderbreek.

Die sogenoemde Big Freeze het toe ontstaan, met ’n tydperk van sowat 1 300 jaar van uiters koue toestande rondom veral die Noordpool omdat herverspreiding van energie deur die seestrome vanaf die trope verswak het en slegs deur klimaatstelsels kon herversprei.

Daar is ook ’n verwysing dat daar ongeveer 120 000 jaar gelede ’n verswakking van die GOVB plaasgevind het. Dit pas nogal in die temperatuurdatareeks soos verkry vanaf die sogenoemde Vostok-yskerne in Antartika.

Hierdie yskerne is uit die ys van Antarktika onttrek op verskillende dieptes en ontleed om temperatuurpatrone en koolstofdioksiedkonsentrasies te bepaal. Daar was ’n vinnige verwarming van die aarde binne ongeveer 10 000 jaar, wat ys laat smelt het, waarna dit oor ’n tydperk van ongeveer 20 000 jaar weer baie kouer geword het.

Die bespiegeling is dat die afsluiting of verswakking van die beginpunt van die GOVB veroorsaak is deur groot hoeveelhede vars water as gevolg van die smelting van ys wat die sinking van water gekeer het en dus nie die GOVB aan die gang kon hou nie.


Newsletter Subscribe