KAN DIE DA DIE EKONOMIE RED?- Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom

"Die Demokratiese Alliansie (DA) sal nie verdere vordering maak met sy politieke aspirasies omdat hy geen ander alternatief kan bied vir die ANC se vernietigende ekonomiese beleid van sosialisme wat op basis van die kommunistiese leerstellings op die ekonomie en die land afgedwing word nie. Die party verstaan ook glad nie dat sy beleidsdoelwitte van "sosiale geregtigheid" en "inklusiewe groei" deur geen politieke party bereik kan word as die ekonomie nie groei nie, soos die ANC-regering reeds baie duidelik bewys het," sê Fanie Brink, 'n onafhanklike ekonoom. 

Hy het verwys na die DA se konferensie wat die naweek plaasgevind het waartydens die party se baie duidelike beleid van suiwer sosialisme aanvaar is.

Die DA se nuutste ekonomiese beleid wat tydens die konferensie as ‘n “sosiale markekonomie” beskryf is, is suiwer ‘n gespeel met woorde vir ‘n stelsel wat nêrens in die wêreld bestaan nie en wat bloot die verdere sosialistiese vernietiging van die ekonomie sal beteken. Die kans is baie goed dat die DA self nie verstaan wat hulle met ‘n “sosiale markekonomie” bedoel nie, maar nogtans die kiesers wil mislei en verwar deur steeds aan sosialisme vas te klou wat geen ekonomiese groei kan skep nie.

Enige ekonomiese stelsel wat ekonomiese groei, werksgeleenthede en welvaart wil skep sal net suksesvol wees as dit oor bepaalde eienskappe beskik. Eerstens, ‘n stelsel wat ekonomiese groei van die vraag- en aanbodkant van die ekonomie skep wat deur die winsmotief gedryf word, tweedens, wat pryse toelaat om die vraag en aanbod altyd weer in ‘n balans te bring met so min as moontlik staatsinmenging,  derdens, wat die privaat eiendomsreg van mense eerbiedig en beskerm en vierdens, wat die basiese produksiefaktore in die ekonomie, soos grond en grondstowwe, kapitaal, arbeid en bestuur toelaat om vrylik na ander geleenthede te beweeg waar hulle alternatiewe verdienste die grootste is.

Brink sê die tyd het aangebreek dat politieke partye tot die besef moet kom dat hulle politieke stelsels regdeur die geskiedenis die ekonomieë van baie lande in die wêreld vernietig het en dat ekonomiese groei 'n baie belangriker prioriteit as hulle politieke obsessie oor mag om te regeer moet wees wat verhoed dat hulle politieke doelwitte sonder ekonomiese groei verwesenlik kan word. 

Die DA se politieke en ekonomiese beleid sal daarom net so vernietigend as die beleid van die ANC wees wat die ekonomie en die land binne die volgende 3 tot 4 jaar totaal sal vernietig.

 “Die totale ongeletterdheid van feitlik alle politici en politieke kommentators oor die mees basiese ekonomiese beginsels en die meeste "ekonomiese hervormings" wat volgens hulle ekonomiese groei kan skep, laat veel te wense oor!”

Volgens die jongste verslag van die Moody's-kredietgradeerder sal Suid-Afrika se ekonomie ten minste tussen 4% en 6% moet groei om sy staatskuld teen 2023 te stabiliseer, terwyl die ekonomie oor die afgelope 5 jaar gemiddeld  met minder as 1% gegroei het.

Bron: Statistiek SA

Dit beteken dat hierdie doelwit geensins haalbaar is nie en dat die regering se begrotingstekorte verder dramaties sal toeneem en die staat se skuldlas binne die volgende paar jaar gelyk aan die jaarlikse reële Bruto Binnelandse Produk (BBP) sal wees.

Brink sê die enigste oplossing vir die swak ekonomiese groei is ’n totale terugkeer na ‘n kapitalistiese ekonomiese stelsel wat oor al die bogenoemde eienskappe beskik en die enigste ekonomiese stelsel wat vandag ekonomiese groei in die meeste lande in die wêreld soos, onder andere, die VSA, al die Europese lande, Japan en China, skep. Dit is die enigste desperate en radikale benadering tot “ekonomiese regstelling en -insluiting”  en hoe ‘n “ekonomies regverdige samelewing” moontlik is waarin ekonomiese geleenthede vir almal beskikbaar kan wees.

Slegs ekonomiese groei kan hierdie doelwitte bereik, maar die vraag oor “hoe die DA se beleid ekonomiese groei kan skep” het egter steeds tydens die konferensie totaal onbeantwoord gebly!

“Daar bestaan egter geen moontlikheid dat die ekonomie weer sal groei solank as wat die ANC aan bewind is nie, terwyl die DA geen kans het om die ekonomie en die land met sy beleid van ‘sosiale geregtigheid’ en ‘n ‘sosiale markekonomie’ te red nie," aldus Brink


Newsletter Subscribe