“Die bepaling van brandstofpryse in Suid-Afrika het hewig onder skoot gekom omdat die internasionale ru-olieprys die hoogte ingeskiet het nadat Rusland oorlog teen die Oekraïne verklaar het,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.
Die feit dat die regering met ‘n proses begin het om die brandstofbedryf te dereguleer wat ook deur verskeie ander politieke partye ondersteun word, het die volhoubare voorsiening van brandstof in die land op groot risiko geplaas wat tot groot brandstoftekorte kan aanleiding gee.
Die jongste aankondigings en uitlatings oor die bepaling van brandstofpryse deur politici is weereens duidelike pogings om politieke punte te probeer wen oor ‘n strategies belangrike ekonomiese aangeleentheid waaroor hulle presies geen idee het waaroor hulle praat nie.
Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, het tydens meer as een geleentheid hieroor uitsprake gelewer en gesê, “SA will move to ‘full deregulation’ of the fuel prices in time, with wholesalers and retailers competing to sell 93 and 95 octane petrol below the retail price.”
Die deregulasie van die brandstofbedryf kan tot die vernietiging van die plaaslike verskaffing van brandstof in Suid-Afrika aanleiding gee.
Die grootste probleme wat met die huidige brandstofpryse ondervind word is die spesifieke prysformule waarvolgens die basiese brandstofpryse bereken word wat aan groot wisselvallige internasionale politieke en ekonomiese gebeure blootgestel word wat die ru-olieprys bepaal, asook plaaslike wisselkoersveranderings.
‘n Ander probleem wat nog altyd as ‘n maklike manier vir die regering gebruik is om sy inkomste aan te vul met ‘n heffing op brandstof wat elke jaar opwaarts aangepas word en deur brandstofverbruikers betaal moet word.
Die brandstofprysformule, asook die klein- en groothandelswinsmarges, waaroor die oliemaatskappye uit die aard van saak om verstaanbare redes baie sensitief is, is in werklikheid reeds deur die regering in die 1950’s met die brandstofbedryf onderhandel waartydens daar ook oor spesifieke gereguleerde waarborge soos die basiese prysformule en die winsmarges van die bedryf ooreengekom is.
Hierdie waarborge het die strategiese voorsiening van brandstof aan Suid-Afrika oor ‘n baie lang tydperk baie goed gedien het kan nie sommer net so deur ekonomiese ongeletterde en onbevoegde politici afgeskaf word nie. Die bestaande prysformule sal ook baie moeilik deur ‘n “beter prysformule” deur die regering, enige ander politieke party of instansie vervang kan word nie sonder om die voorsiening van brandstof feitlik onmoontlik te maak nie omdat dit steeds die mees praktiese en beste formule is om te gebruik.
ENGLISH -FUEL SUPPLY PLACED AT RISK- South Africa
Die regering het wel die brandstofheffing met R1,50 per liter vir twee maande verlaag wat hy in werlikheid nie kon bekostig nie en wat deur die verkope van ru-oliereserwes goedgemaak sal moet word waarna ‘n “beter prysformule“ bepaal sal word.
Die “basiese prysformule” (gelande koste of invoerpariteitsprys) van brandstof aan die kus van Durban word nie op grond van die internasionale ru-olieprys bepaal nie, maar op die pryse van brandstof by drie internasionale olieraffinaderye aan die Mediterreense kus wat uit die aard van die saak afgeleide pryse van die internasionale Brent-olieprys is wat uit die Noordsee langs die Verenigde Koninkryk en Noorweë onttrek word.
Die ooreengekoms met die brandstofbedryf het bepaal dat die pryse van brandstof wat uit ru-olie in Suid-Afrika geraffinieer word net so kostedoeltreffend en prysmededingend moet wees as die brandstofpryse van die beste tegnologies gevorderde olieraffinaderye in die wêreld. Daarom word die plaaslike brandstofpryse op die werklike koste van ingevoerde brandstof bepaal en nie direk op die internasionale ru-olieprys nie.
Die voorstel van die Vryheidsfront Plus dat die heffing vir die Padongeluksfonds afgeskaf en weer teruggekeer moet word na derdepartyversekering sal geensins werk nie. Die metode hoe die heffing ingevorder word is nie die probleem nie, maar die aanwending van die heffing deur ‘n totaal korrupte instansie wat dit bestuur sal nie deur enige ander invorderingsmetode verbeter kan word nie.
“Die volhoubare voorsiening van brandstof in Suid-Afrika is nou deur die regering se planne om die bedryf verder te dereguleer op risiko geplaas omdat die regering beplan om weg te stap van die gewaarborgde ooreenkomste oor die formule waarvolgens die basiese brandstofprys bepaal en die winsmarges van die oliemaatskappye vasgestel en aangepas word wat reeds jare gelede ooreengekom is.
‘n Eensydige deregulering van die brandstofbedryf sal nie vir die internasionale oliemaatskappye aanvaarbaar wees nie en hulle kan baie maklik besluit om hulle tasse te pak en die land te verlaat.
Die oorlog wat Rusland op die oomblik in die Oekraïne voer is na verwagting tydelik van aard en dit behoort onder geen omstandighede toegelaat te word om die volhoubare brandstofvoorsiening in SA te vernietig net omdat die regering nie verstaan waarmee hy besig is nie,” sê Brink.
Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom