Mielie-oes dié seisoen 11% kleiner as vorige seisoen- Suid Afrika


Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,301 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs 4,82 t/ha is. Die geskatte mielie-oes is 11% kleiner as die 2018-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 80% van die 2019-oes produseer.

Die oppervlak onder witmielies is 1,298 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlak 1,002 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies het afgeneem met 0,61% of 34 000 ton, van 5,572 miljoen ton na 5,538 miljoen ton. Die opbrengs van witmielies is 4,27 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 5,543 miljoen ton, wat 1,81% of 98 300 ton meer is as die 5,444 miljoen ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 5,53 t/ha.

Sonneblomsaad:

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 680 940 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 515 350 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,32 t/ha is.

Ander gewasse:

Die produksieskatting van sojabone is ook onveranderd gelaat op 1,170 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 730 500 ha en die verwagte opbrengs is 1,60 t/ha.

Die verwagte grondbone-oes het toegeneem met 3,05% of 575 ton na 19 455 ton, met 'n verwagte opbrengs van 0,97 t/ha. Die oppervlakteskatting vir grondbone is 20 050 ha.

Die produksieskatting van sorghum het afgeneem met 5,06% of 7 450 ton, van 147 300 ton tot 139 850 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 50 500 ha, en die verwagte opbrengs is 2,77 t/ha.

In die geval van droëbone is die produksieskatting onveranderd gelaat op 66 355 ton. Die oppervlakte beplant met droëbone is 59 300 ha, en die verwagte opbrengs is 1,12 t/ha.

Nie-kommeriële mielies

Die oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 296 000 ha, wat 'n afname van 5,98 % verteenwoordig in vergelyking met die 314 835 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 549 180 ton, wat 7,54% minder is as die 593 975 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 43% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur KwaZulu-Natal met 27%.

Wintergewasse - 2019 produksie-seisoen

Koring:

Die verwagte produksie vir koring is 1,806 miljoen ton, wat 5,72% of 109 480 ton minder is as die vorige skatting van 1,916 miljoen ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,34 t/ha is. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 780 000 ton (43%), in die Vrystaat 435 200 ton (24%) en in die Noord-Kaap 281 250 ton (16%).

Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 540 000 ha, wat 3 000 ha hoër is as die 537 000 ha teenoor die vorige skatting. Die beraamde oppervlakte geplant in die Wes-Kaap is 325 000 ha of 60 %, die Vrystaat is 128 000 ha of 24 % en 37 500 ha of 7 % is in die Noord-Kaap.

Ander gewasse:

Die produksieskatting vir moutgars is 389 260 ton, wat 3,04% of 12 200 ton minder is as die vorige skatting van 401 460 ton. Die oppervlakte beplant word beraam op 131 960 ha, terwyl die verwagte opbrengs 2,95 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 88 800 ton, wat 14,29% of 14 800 ton minder is as die vorige skatting van 103 600 ton. Die oppervlakteskatting vir kanola is 74 000 ha, met ? verwagte opbrengs van 1,20 t/ha.

Die hersiene oppervlakteskatting vir hawer (ontbytgraan) vir die 2019- seisoen is 27 200 ha en die verwagte oes is 36 460 ton. Die verwagte opbrengs is 1,34 t/ha.