Rosch

Waarom metaan deur beeste die klimaat anders verwarm as CO 2 van fossielbrandstowwe

Soos koolsuurgas, is metaan ‘n belangrike kweekhuisgas (KHG), maar as ons dié van herkouers evalueer, dan is daar ander eienskappe wat in ag eneem moet word.


Die belangrikste is: (1) metaan bly in die atmosfeer vir slegs omtrent 12 jaar in teenstelling met koolsuurgas wat 1000+ jaar kan vertoef; (2) dit word vanaf atmosferiese koolstof soos koolsuurgas verkry; (3) dit is deel van die biogeniese (fotosintetiese) siklus, en (4) dit keer uiteindelik terug na die atmosfeer as koolsuurgas, wat beteken dit is gehersirkuleerde koolstof. Daarenteen, in teenstelling met die metaan vanaf herkouers, het die metaan vanaf fossielbrandstof nie al dieselfde kenmerke nie. Behalwe sy kort atmosferiese vertoeftyd, het fossielbrandstof metaan meer in gemeen met koolsuurgas van fossielbrandstof in terme van hoe dit die aarde verwarm. Dit is nie afkomstig van atmosferiese koolstof nie, maar van aardbronne en is gevolglik ‘nuut’ in die atmosfeer. ‘n Artikel deur die Clear Centre by die Universiteit van California (7 Julie 2020) wat hieronder aangehaal is bespreek hierdie beginsels verder.
Soos genoem bly metaan in die atmosfeer ongeveer 12 jaar waarna 80-89% geoksideer word in ‘n proses bekend as hidroksieloksidasie. Dus verwarm metaan die aarde net betekenisvol oor 12 jaar as gevolg van die kort vertoeftyd en soos dit vrygestel word, word dit ook vernietig in die atmosfeer. Wetenskaplikes verwys hierna as ‘n vloeigas. Dus word
die verwarmingsinvloed van metaan nie bepaal deur hoeveel vrygestel word nie omdat dit vernietig word, maar deur hoeveel meer vrygestel word as wat vernietig word. Dit impliseer dat die hoeveelheid wat vrygestel word in balans kan wees met dit wat vernietig word.

Byvoorbeeld as ‘n kudde beeste dieselfde hoeveelheid metaan oor 12 jaar vrystel sal dit bydra tot aardverwarming oor die 12 jaar, maar daarna is die hoeveelheid vrygestel dieselfde as die hoeveelheid geoksideer en is die verwarming neutraal. Addisionele vrystelling sal natuurlik die balans dan verander na weer verwarming. Vir herkouerboere dus is die interessante aspek van biogeniese metaan dat as hulle plaas metaanvrystelling
kan verminder en die vermindering volhou, kan ‘n verkoelingseffek teoreties verkry word, omdat meer metaan vernietig word as wat vrygestel word.

So, wat is dan die verskil tussen biogeniese- en fossielbrandstof KHG (byvoorbeeld metaan)? Die biogeniese metaan vanaf herkouers begin as koolsuurgas wat reeds in die atmosfeer is, terwyl gasse vanaf fossielbrandstofproduksie diep in die aarde begin waar dit vir miljoene jare weg van die atmosfeer geberg is, en hulle dan bytel by die gasse wat reeds
in die atmosfeer is. Die biogeniese koolsuurgas daarenteen, deur otosintese, eindig in plante wat herkouers eet. Gedurende vertering daarvan gaan ‘n deel verlore en word as metaan vrygestel wat na die atmosfeer gaan om na 12 jaar weer omgesit te word in koolsuurgas wat dan weer die biogeniese siklus binnegaan.

Opmerking: Tot onlangs is die verskil tussen biogeniese metaan en fossielbrandstof metaan nie verstaan nie en gevolglik nie voorsiening daarvoor gemaak in berekeninge nie.
Hopelik sal dit nou in ag geneem word want die bydrae van die metaan vanaf herkouers tot aardverwarming is baie minder en die bydrae van fossielbrandstof metaan baie meer in die totale atmosferiese inhoud.


Rosch