Appèlhof verblyfreg-uitspraak kan ernstige implikasies inhou

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

Die Appèlhof het in September vanjaar uitspraak gegee in die saak van Mzimkhulu Martiens Monde en Jacobus Johannes Viljoen en andere. Die saak het gehandel oor ’n verblyfreg-dispuut.

Die landdroshof in Worcester het vroeër ’n uitsettingsbevel teen Monde toegestaan, wat deur die Grondeisehof bevestig is. Monde het appèl aangeteken teen die uitsettingsbevel na die Appèlhof in Bloemfontein.

Monde het sedert 1995 op die plaas Millhurst in De Doorns gewoon as ’n algemene plaaswerker. Hy het in 2011 ’n kontrak geteken met die strekking dat hy op die plaas kon woon solank as wat hy daar gewerk het. Dit was nog altyd die beleid op die plaas dat werkers huise kon bewoon solank as wat hulle op die plaas in diens was. In Maart 2013 is Monde wettiglik ontslaan ná ’n geskiedenis van afwesigheid van die werk en in Oktober 2013 is hy kennis gegee dat hy die plaas moet verlaat.

Die Appèlhof het bevind dat daar geen twyfel was dat sy ontslag wettig was nie. Sy huisvestig word benodig vir ’n ander werker. Hy het geweier om die huisvesting te verlaat en sy verweer was dat sy dienskontrak nie die enigste rede vir sy toestemming tot verblyf was nie. Monde woon nou al vyf jaar gratis op die plaas terwyl hy nie meer daar werk nie.

Die hof het egter bevind dat Monde se verblyfreg nie slegs uit sy diensooreenkoms ontstaan het nie, omdat hy reeds in 1995 behuising op die plaas bewoon het terwyl hy nog by sy Ma gewoon het, wat ook op die plaas gewerk het.

Reeds gekwalifiseer

Hoewel die landdros bevind het dat Monde, in die stadium wat hy nog saam met sy ma gewoon het, nie ’n okkupeerder in eie reg was nie, het die Appèlhof, met verwysing na die bewoording van artikels 3(4) en 3(5) van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg, 1997 (Wet 62 van 1997) wat met stilswyende toestemming handel, bevind dat hy wel toe reeds as okkupeerder gekwalifiseer het.

Die Appèlhof se bevinding was dus dat Monde reeds voordat hy in diens geneem is, met die stilswyende toestemming van die eienaar op die plaas gewoon het en sy regte dus nie uitsluitlik uit sy dienskontrak voortgespruit het nie. Derhalwe kon die eienaar hom nie beroep op artikel 8(2) van die wet en Monde se verblyfreg by ontslag beëindig nie.

Die Appèlhof het verder bevind dat geen uitsettingsbevel verleen behoort te word indien daar nie ’n proefbeampteverslag voor die hof was nie. Daar is geweldige probleme in die praktyk om hierdie verslae van die staat te bekom en daar was in die verlede beslissings dat dit voldoende was indien die verslag aangevra en nie binne ’n redelike tyd gelewer is nie.

Albei hierdie bevindinge gaan dit baie moeilik maak om in die toekoms te slaag met aansoeke vir uitsetting waar ’n dienskontrak eers in ’n later stadium aangegaan is met ’n persoon wat reeds op ’n plaas gewoon het. – Annelize Crosby, Agri SA