Kan plaaswerkers teen robotte meeding in Landbou - Suid Afrika

Star InactiveStar InactiveStar InactiveStar InactiveStar Inactive
 

In Suid-Afrika het masjinerie werkgeleenthede vervang wat reeds verlore gegaan het.

In die oorgang na ’n hoëtegnologie-toekoms sal werkers en robotte nog skouer aan skouer werk, maar werkers gaan hul indiensneembaarheid moet verhoog. As die kans verspeel gaan word, gaan werkloosheid in SuidAfrika net vererger. Oor die verloop van 175 jaar het die landbousektor aanhoudende en ingrypende tegnologiese veranderinge beleef: Van die toenemende gebruik van staal in die 1800’s, die koms van die trekker en die gepaardgaande meganisasie in die 1900’s, en in die 2000’s die algemene gebruik van elektroniese beheerstelsels wat aan satellietnavigasie (GPS) gekoppel is. Plaaswerktuie het nie alleen ingehaal met die mens se vermoëns nie, dit kan deesdae deur middel van rekenaartegnologie ook take onafhanklik uitvoer wat vantevore net met die mens se uitsonderlike intellektuele vermoë geassosieer kon word.

GPS-tegnologie is dus nou algemeen. Die landbou staan op die drumpel van die era van robotika waar drywerlose trekkers, afstandbeheerde hommeltuie en robotte wat vrugte kan pluk, die asem wegslaan. Die wêreld se bevolking groei onverpoos, terwyl die beskikbare landbougrond minder word. Die sleutel tot ’n toename in produktiwiteit is dus die toenemende gebruik van vernuwende tegnologie. Dit stel boere in staat om opbrengste te verhoog, produksiemiddele doeltreffender aan te wend, werktyd te verminder, die gehalte van produkte te verbeter, hulpbronne beter te benut en klimaatsverandering beter te verwerk. Dit is veral laasgenoemde wat die afgelope dekade of twee die produksietyd van gewasse, hetsy plant- of oestyd, merkbaar begin inkort het en wat die bewerkingspraktyke vir albei prosesse tot ’n baie korter skedule beperk.

Produksietyd raak gevolglik ál belangriker in ’n boerdery. Om oorbodige arbeid vir ’n hele jaar beskikbaar te hê net om die korter spitstye te kan baasraak, gaan met koste gepaard. Die gebruik van meer gesofistikeerde stropers en planters vereenvoudig die produksieproses en verseker dat meer produkte in ’n korter tyd geproduseer kan word. Die voortdurende verbetering in tegnologie, teelmateriaal en bewerkingspraktyke stel boere in staat om deurgaans meer met dieselfde hulpbronne te produseer. In 1850, wat boerderypraktyke betref, vier dae geduur het om een ton mielies te produseer. In 1990 kon dieselfde hoeveelheid mielies in een uur en tien minute geproduseer word, terwyl dit met vandag se tegnologie net 12 minute verg om een ton mielies vanaf plant tot stroop te produseer. Dit is wat produksietyd betref.

Uiteraard moet die natuur ook sy tyd as deel van die produksieproses gegun word.  Die toenemende gebruik van masjinerie stel boere in staat om ’n kleiner arbeidsmag in diens te hou sonder dat produksietyd en tydgevoelige bewerkings in die slag bly. Daarmee het meganisering en outomatisering die fisieke inspanning van arbeid drasties verminder en wêreldwyd miljoene mense en trekdiere van ’n rugbrekende gesloof bevry. Die produktiwiteit van arbeid in die landbou in Suid-Afrika het vanaf 2005 tot 2011 met 28% gedaal, maar dit het daarna tot 2015 weer geleidelik toegeneem tot bykans dieselfde vlak waar dit in 2005 was.

Die produktiwiteit van die wêreld se arbeid in die landbou het egter konstant afgeneem en is 11% laer as in 2015. Masjinerie se produktiwiteit het in Suid-Afrika met 37% oor die tydperk toegeneem teenoor die 26% van die wêreld se landboumasjinerie. Dié indekse is die waarde wat arbeid en masjinerie tot die geproduseerde landbouprodukte voeg en weerspieël die toe- of afnames vanaf 2015. Dit is uit die grafiek dus duidelik dat die produktiwiteit van masjinerie ten koste van arbeid toegeneem het. Masjinerie het wêreldwyd ’n stewige vastrapplek op plase gekry, maar die meganisering van boerderye het nie sonder gevolge gekom nie. Selfs al in 1977 voer die Amerikaanse omgewingsaktivis en self ’n boer, mnr. Wendell Berry, in sy boek Unsettling of America aan dat die toenemende gebruik van masjinerie in boerderye die hoofoorsaak van die ontvolking van die Amerikaanse platteland is.


Newsletter Subscribe